Die raaksien en om die hals val is alles een beweging. Sy’s nog net so mooi, dink ek. Haar blonde hare netjies agter die oor ingevou, naels (haar eie) perfek gemanikuur, uitrusting afgerond. “Hoekom is jy so maer?” vra ek daardie vraag wat jy net vra as jy iemand goed ken, jaloers. “Kom, dan vertel ek jou van my lewe,” sê sy en vat die pad sitkamer toe.
En skielik is ek weer dertien en kuier ek en my grootword-vriendin in die sitkamer van haar óf my ma se huis op Worcester in die Boland. Al sit ons vanaand in die sitkamer van ‘n Natalse hotel.
Die groot verskil: jare en kilometres lê tussen toe en nou. Ons is nie meer dertien nie. Beide net-net oor die veertig, met byna ‘n dekade tussen die laaste sien en vandag.
Op 28, toe ek met sterre in die oë die aardbol platgetrap het, was sy skieilik ‘n weduwee. Haar jong man sterf in ‘n ongeluk buite Stellenbosch. En sy? ‘n Jong weduwee met ‘n prag-dogtertjie van twee.
“Ek het vir jou iets gebring. Jy bou ‘n besigheid. Dié, dié is wat ek doen.” ‘n Skildery met gestapelde teekoppies, self gemaak. En ‘n pragtige mosaïekteël, die skerwe van die rooi blom se blare perfek bymekaar gesit. Vir my. Jy’t iets mooi uit die skerwe van jou lewe gemaak, dink ek. Want waar begin mens as jou drome so jonk aan skerwe spat?
Hoe sit jy die skerwe weer bymekaar?
Stukkie vir stukkie.
Ons praat is dié van gister. Sy vertel van oor begin, ‘n tweede huwelik met ‘n wonderlike man, ek van laat trou, korporatiewe verloëning en kinders grootmaak. Ons giggel oor ou boyfriends, tiener-intriges, die genadeloosheid van die ouderdom, vriendinne se gelukkige én ongelukkige keuses, ons ma’s, pa’s en broers. Ons práát. Vir vyf ure, onophoudelik.
En dan: “Ek voel nou nog sleg dat ek jou soggens so laat wag het.” Sy bloos, rooi vlamme in haar nek. Net soos toe ons dertien was. Ek het dit al vergeet, maar onthou skielik hoe ek winter en somer op my fiets voor haar ouerhuis gesit en wag het. Soms tot ‘n halfuur vóór sy reg was om in die pad te val skool toe. My hande wintertyd blou van die koue. Dertien. Grootword, sou ons eers later leer, is nie vir sissies nie.
Die volgende oggend vroeg lui my selfoon. Die kinders moet skool toe, my vierjarige Emma aangetrek as die Slapende Skoonheid. “Vra vir Pappa om ‘n foto van Sussie te neem,” pleit ek by Boetie Le Roux. Die reisende, werkende ma in my skuldig omdat ek nog ‘n skoolding mis. “Don’t worry Mommy. I’ll take one with my iPad and email it to you. But then I’ll delete it quickly. It’s really gross to have a picture of your sister on your iPad.” My Engelse kind, die een wat my verlede week oor seks uitgevra het.
Later die oggend kom ‘n e-pos van sy ouma. “Wanneer het dié kleinseun van my so groot geword? Praat van seks om kinders te loop maak en is bewus van die skande van ‘n suster in jou argiewe.”
Nee Mamma, ek weet nie. Net soos ek nie weet wanneer ek en my skoolvriendin so groot geword het nie.
Wanneer?
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za