Waldemar Schultz (46) borrel van die energie ondanks ’n paar uitputtende dae op die verhoog by die Innibos-kunstefees. Ná meer as ’n kwarteeu in die bedryf is hy steeds mal daaroor om ’n akteur te wees.
“Toneelspeel voed my hart en siel, al voed dit nie noodwendig my bankrekening nie,” skerts hy.
“Een van die grootste voorregte van my werk is dat ek nie twee dae agtermekaar dieselfde ding hoef te doen nie.”
Hy kan eintlik nie onthou dat hy ooit iets anders as akteur wou word nie. “Behalwe dalk ’n onderwyser. Maar ek dink almal wil in ’n stadium in hul lewe ’n onderwyser word. Seker omdat dit die eerste beroep is waaraan ’n kind blootgestel word?”
Dié Engelse klong van Milnerton moes destyds kies tussen beeldende kuns en drama – gelukkig vir sy aanhangers het die roepstem van die verhoog gewen.
Is hy dan kunstig ook? “Dalk nie so kunstig as wat ek destyds gedink het nie, maar wie weet wat sou gebeur het as ek daardie talent verder ontwikkel het.”
Dis ’n verrassing om te hoor dat hy Engels grootgeword het. “Maar ek het ’n wonderlike tuiste in Afrikaans gekry. Ek is so dankbaar daaroor. Dis ’n wonderlike taal om in toneel te speel – meer emosioneel, rouer. As ek eerlik moet wees, hou ek baie meer daarvan om in Afrikaans as in Engels te speel.”
Waldi, soos sy vriende en familie hom noem, se pa was Afrikaans. “Toe trou hy met ’n Joodse meisie van Stellenbosch en verengels heeltemal. Nie dat daar ooit in ons huis op Afrikaans neergesien is nie. Dit het maar net so gebeur dat dit nie ons eerste taal was nie.” Hy onthou wel dat hulle Dinsdae met mekaar Afrikaans gepraat het. “Op skool het ek ook Afrikaans eerste taal geneem.”
Toe dit tyd word om universiteite te kies het sy pa gesê hy mag gaan drama studeer solank dit nie aan die Universiteit van Kaapstad is nie. “Dit was 1988 en woelige politieke tye op kampus. Op Stellenbosch was ek in die een Afrikaanse produksie na die ander.”
Hy lag toe hy vertel dat daar soms steeds “’n wilde Engelse klankie” deurslaan wanneer hy lekker gesels. “En wanneer ek Engels praat, praat ek dit met ’n Suid-Afrikaanse aksent. Behalwe in internasionale reekse of rolprente, want hulle bepaal gewoonlik die karakter se aksent. Dan kan ek Brits of Amerikaans klink, of selfs Grieks of Egipties. Hier in Suid-Afrika dink Engelse mense ek is eintlik Afrikaans, maar ek hou net nie van ’n aangeplakte Britse aksent nie. Ek is ’n Suid-Afrikaner en ek praat my Engels so.”
Hy is nie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie. “Dis ’n taal wat deur die tweede meeste mense in Suid-Afrika verstaan word. Kyk maar ’n bietjie om jou en tel hoeveel oorwegend Afrikaanse kunstefeeste daar is. Ses, sewe? En net een Engelse kunstefees.”
Waaroor hy wel bekommerd is, is dat verhoogproduksies in Suid-Afrika afgeskeep word. “Ons het ’n gesonde televisie- en rolprentbedryf in Afrikaans en Engels, maar teater ly omdat ons nie meer gehore het wat bereid is om daarvoor te betaal nie. Ironies genoeg is dit dalk ’n neweproduk van die feeste. Die stukke wat daar opgevoer word, is noodwendig kleiner, goedkoper, het minder props … Jy moet immers daarmee kan reis en groot produksies is duur. Ongelukkig het ons nie meer in Suid-Afrika die luukse van tyd óf geld as dit by teater kom nie. Dit veroorsaak ook dat vryskut-akteurs hulself soms ooreis om in meer as een produksie op ’n fees te speel. Repetisietyd is nou die helfte korter as wat dit in die ou dae was.”
Hy was by Innibos te sien in Chris Barnard se Pa, Maak vir my ’n Vlieër, Pa, ’n spesiale huldigingsproduksie vir wyle Chris Barnard, skrywer, dramaturg en ook gewese direksielid van die fees.
“Albert Maritz was die regisseur en ek het teenoor Sandra Prinsloo en Wilhelm van der Walt gespeel. Ons moes ook die stuk korter maak. Kunstefeesgehore wil nie veel langer as sewentig minute stilsit nie. Die digitale era veroorsaak ook dat mense se aandagspan korter as in die verlede is.”
Hoewel hy nooit regtig aan homself as komedie-akteur gedink het nie, is dit ’n genre waarin hy hom dikwels op die verhoog bevind. Hoe slimmer die komedie, hoe lekkerder, en hy is ook dol op donker komedies.
“As vryskutakteur het jy nie altyd die keuse nie, maar ek hou nie van toilethumor nie en het al oudisies daaroor van die hand gewys”
Hy lag toe hy vertel dat hy hom op universiteit in niks anders as dramatiese verhoogrolle kon sien nie.
Ons gesprek draai na die digitale verhale wat sy dogter Dhania (14) so graag lees. “Sy lees regte boeke ook, maar is mal oor hierdie werk wat jy hoofstuk vir hoofstuk kan lees.”
Jy hoor die trots en liefde wanneer hy oor Dhania gesels. Tipies pa spog hy met sy slim kind, vertel van haar skoolprestasies en belangstellings.
“Sy is baie kultureel ingestel en speel ook toneel. By die eisteddfods ryg sy die toekennings in, en sy het in die fliek Lenteblom gespeel. Sy speel ook gereeld in haar ma (die aktrise Ira Blanckenberg) se produksies, en was ook in ons Ebenezer Pennieknyper-produksie, ’n vertaling van Dickens se A Christmas Carol, wat ons vir die Klein Libertas-teater gedoen het.”
Waldi het ’n bedrywige paar jaar agter die rug. Behalwe die hoofrol in Die Byl was daar heelparty kleiner rolle in internasionale reekse soos Dominion en Hooten and the Lady, nog ’n Proesstraat-seisoen en ’n rolletjie in Bolandmoorde, wat vroeg volgende jaar op kykNET uitgesaai word. Wat verhoogproduksies betref, was hy onder meer te sien in André P. Brink se Bidsprinkaan, en twee komedies, Hier Sit die Manne en Net ’n Chilliburger en Chips asseblief. Hy het ook ’n semester lank by Maties se dramadepartement klas gegee. “Dis maar hoe dit gaan as jy vryskut. Soms reën dit maande aanmekaar en jy moet skep, en dan is daar groot droogtes ook.”
Tienertoneel is nog ’n passie wat hy ook met Ira deel. Sy het haar eie dramaskool in Somerset-Wes waar hulle woon, en is al ’n paar jaar betrokke by ATKV Tienertoneel, deesdae as ’n nasionale beoordelaar.
Waldi is op sy beurt baie betrokke by die tienertoneelfees in Durbanville en die Logan-tienertoneelfees op Fraserburg in die Karoo. “Ek is mal daaroor om met kinders te werk. Dis so wonderlik om vir hulle terugvoer en leiding te gee, en die volgende jaar te kan sien hoe hulle gevorder het. Kinders het nie almal ewe veel geleenthede of toegang tot toneelstukke en hulpmiddels nie. Dis altyd wonderlik om te sien hoe hulle gegroei het.”
Vir die Fraserburg-fees het hy spesiale trofees laat maak met geld wat die publiek vir hul gesin geskenk het ná die dood van sy seun Kieran in Augustus 2013. Kieran het sy balans verloor op ’n rotslys in die ou hawe op Hermanus en meters ver in die see geval. Hy is dood weens ernstige kopbeserings.
Ons praat noodwendig oor sy seun. Ek onthou ’n aangrypende tydskriffoto van ’n verwese Waldi en Ira met die destyds elfjarige Dhania tussen hulle. Hul hartseer het my bygebly lank ná die lees van die artikel. Gaan dit deesdae beter met hulle?
“Dit gaan so goed met ons as wat dit kan gaan. ’n Mens probeer so goed leef as wat jy kan. Die grootste kompliment wat ek vir Kieran kan gee, is om my lewe in waarheid en skoonheid te leef. Ek is baie trots op my twee girls, met hoe hulle alles hanteer. En ja, ek is ook trots op hoe ek dit hanteer. Jy bly maar altyd die hoop vir jouself koester dat die pyn minder sal word. Maar verlies is deel van die lewe – dit maak ’n mens meer menslik.”
“Dit gaan so goed met ons as wat dit kan gaan. ’n Mens probeer so goed leef as wat jy kan”
Hy kan nie uitgepraat raak oor Dhania nie. “Sy is emosioneel so volwasse. As ek na haar kyk, dink ek wat ’n ongelooflike voorbeeld sy is. Nie net vir ander mense nie, maar ook vir my.”