Waatlemoen-pizza met gebraaide feta deur Vickie de Beer. Foto: Charles Russel
Genoeg vir vier.
Bestanddele
- 400 g (4 ringe) fetakaas, met kombuispapier drooggeklad
- 60 ml (¼ k) olyfolie
- 12 lekker vet kersietamaties, in kwarte gesny
- 2 jalapeño-rissies, in dun ringetjies gesny
- 1 rooi-ui, geskil en in dun ringe gesny
- 4 dik gesnyde, ronde skywe van ’n ryp waatlemoen
- 8 klein (baba) komkommers op die skuinste in die lengte deurgesny
- 60 ml (4 e) olyfolie
- 30 ml (2 e) balsemiekasyn
- gemaalde swartpeper
Metode
- Sny die fetaskywe middeldeur en verhit die olie in ’n kleefwerende pan.
- Pak die waatlemoenskywe op 4 opdienborde uit en sny soos ’n pizza in skywe.
- Braai die fetaskywe in sarsies in die warm olie. Moenie die feta te gou omdraai nie. Die kaas smelt eers voor dit bruin word, en as jy te haastig is met die omdraaislag, breek dit en word nie bruin nie. Verlaag die hitte as die feta te vinnig donker braai.
- Lig met ’n gaatjieslepel uit die olie en dreineer op handdoekpapier.
- Sprinkel al die ander bestanddele oor die waatlemoen saam met die olyfolie en balsemiekasyn. Maal die swartpeper oor.
- Pak die warm fetaskywe op die slaai en sit dadelik voor.