Keer op keer veg julle dieselfde geveg oor en oor. Hy is ongeduldig en kortaf met die kinders en jy praat hom aan. Dan word hy eers kwaad. Gevaarlike en kras woorde vlieg heen en weer. Dit wond en kwes. Jy is kwaad. Hy is kwaad. Die kinders huil. Die atmosfeer is bederf. Niemand praat aan etenstafel nie. Hy gaan sit voor die TV en kom nie saam met jou bed toe nie. Die kinders neul en is veeleisend. Jy was die skottelgoed wrokkig en pak nie vir hom vir die volgende dag kos in werk toe nie. Hy is verkeerd en jy is reg. Hy meen jy oorreageer en die kinders het dissipline en ’n ferm hand nodig. En in elk geval skree jy ook dikwels op hulle. Wat het hy nou eintlik verkeerd gedoen? Jy kla juis dat hulle nie vir jou luister nie.
Dis julle soveelste geveg oor dieselfde ding. Sonder ’n oplossing. In hierdie geval is dit nie practice makes perfect nie, maar practice makes permanent. Herhalende gedrag vorm assosiatiewe breinpatrone. ’n Sekere woord, stemtoon of liggaamshouding (dis die assosiasie) het dadelik die snellereffek van woede, want jy het elke vorige keer toe dit gebeur het, kwaad geword.
As daar so ’n patroon gevorm het, is dit moeilik om rustig oor sekere sensitiewe onderwerpe te praat, want ons liggame gaan in ’n veg-of-vlug toestand. En dan reageer ons dikwels op ou patrone en ou seer, wat min met die huidige situasie te doen het. Dan sê en doen jy goed wat irrasioneel is en jy nie bedoel nie. In so ’n situasie maak dit amper nie saak wat die ander persoon se reaksie is nie, hulle kan nie reg optree nie.
Lees ook: Skep so vrede in jou huis
Mauritz vertel: “My gerekende, agtermekaar en stylvolle vrou – vir die buitewêreld – het soms niks nodig om te ontplof nie. Die kleinste dingetjie wat ek of die kinders sê of doen, ontlok ’n orkaan van woede, geskel en geskree. Dan is sy glad nie dieselfde vrou saam met wie ek die vorige naweek so ontspanne weg was nie. Ek wil haar dan iewers in ’n gestig sit, of skei. Ek kan dit nie verduur nie, wat ek natuurlik nie durf sê nie. Haar woede gaan gewoonlik oor iets wat nie by haar rigiede, perfeksionistiese planne ingepas het nie, of as een van ons durf waag om van haar te verskil. Sy raak buite haarself en sê die vreeslikste goed voor die kinders, bevraagteken my karakter en intellek met skeldname, beledig, verneder, verkleineer … woorde maak soveel seerder as enigiets anders.”
Mense het verskillende behoeftes en menings. Hulle doen, dink en glo verskillend. Dit lei maklik tot bitter konflik, wat mense en verhoudings wond en jou geluk en energie steel. En dit gaan meestal oor dieselfde goed: geld, honde wat nie kos gegee is nie, ’n nat handdoek op die vloer, dat jy tien keer moet praat voor die kind luister, huiswerk wat nie gedoen is nie, goed wat nie gebêre is nie, klere of speelgoed wat rondlê … klein dingetjies, wat groot irritasies word en mense aan liefde laat twyfel. En dit gebeur gewoonlik wanneer een of albei emosioneel raak, oormoeg of gestres is en die ander een vir sy foute en reaksies blameer.
Jou kind hardloop voor ’n aankomende motor in. Jy gryp hom en skree: “My magtig, kan jy nie kyk wat jy doen nie? Hoeveel keer moet ek vir jou sê … ” Die woedereaksie is ’n sekondêre emosie. Daaronder lê die vrees dat jou kosbare kind iets kon oorkom. Die kind ervaar: Ek is byna dood en wat doen my ma? Sy baklei met my. Maar sou jy die primêre emosie kon kommuni-keer: “My hart het byna gaan staan, ek was bang jy kom iets oor,” het dit die verhouding versterk.
Woede is gewoonlik ’n sekondêre emosie, die lelike dekmantel vir dieper gevoelens soos ou seerkry, of vrees vir verlies of verwerping; dat jy dink jy is nie goed genoeg nie. As jy jou primêre emosie kan kommunikeer, is dit makliker om ’n ruimte te skep om die gevoelens in die verhouding heel te maak.
Dis moeilik om ou patrone van hewige gevegte te verander – en dit kom dikwels uit mense se kinderdae. As mense twyfel aan iemand se goeie bedoelings en opregte motiewe, word selfs ’n verskoning of hulp nie aanvaar nie. In verhoudings waar positiewe welwillendheid die botoon voer, reageer mense op ’n skerp reaksie met: “Ag, hy is seker net moeg en gestres.” Maar as negatiwiteit en wantroue in iemand se motiewe die botoon voer, word selfs positiewe opmerkings en dade negatief as manipulasie geïnterpreteer. Dis moeilik om die patrone om te draai as die een die ander minag of as minderwaardig sien. Dan het mense dikwels ’n mediator nodig, om insig en verandering te kry.
Om gevegte te stop is dit nodig dat mense met mekaar praat op so ’n manier dat elkeen voel hy word gehoor en is geregtig op sy mening. Om nie te praat nie en net maar gevegte te vermy, is nie die antwoord nie. Dit laat mense emosioneel leeg en verwyderd van mekaar. Goeie kommunikasie is die antwoord.
Om verhoudings te bou en vrede in jou huis te hê vra rustigheid in jou, wysheid en ’n fyn aanvoeling en nie eiesinnige trots nie. Jy kan vir die meeste mense amper enigiets sê, dit hang net af wanneer jy dit sê en hoe jy dit sê. Hoop is geduld met ’n lampie!
Lees ook: Met liefde & reëls: 18 wenke vir moderne ouers