Die ompad
Ek was op soek na geel varkore, want vertel iemand my, op die Steenkampsberge naby Roossenekal groei geel varkore in rotsskeure. Komende van die Boland, waar wit varkore in klam plekke gedy, vat ek die N4 van Pretoria af ooswaarts om te gaan kyk hoe lyk die helder geel varkoor in sy natuurlike staat op die berg waar Mpumalanga en Limpopo mekaar ontmoet. Nie lank nadat ek die R555 by Middelburg vat nie, weet ek: dié reis gaan besonders word. Die naambordjies vertel stories van baanbrekers wat die wêreld getem het: Groblersdal, Stofberg en Roossenekal.
En toe is daar ‘n afdraaibordjie: Tonteldoos. Seker ‘n plaas, mymer ek oor die onverwagte stukkie kultuurgeskiedenis. Nog voordat ek my gedagte kan laat gaan oor hoe presies ‘n tonteldoos lyk, is daar nóg ‘n bordjie en ‘n rukkie later nóg een. Ek kyk op my horlosie en sien daar is hope tyd voordat ek die Ackermans, kwekers van die geel varkblomme op Roossenekal, moet ontmoet. Ek is opgewonde oor die vooruitsig, want die blomme is aangrypend mooi – selfs twee van die grootste kunstenaars van die 20ste eeu, die Mexikaan Diego Rivera en die Amerikaner Georgia O’Keeffe, het die aronskelk meermale in hul beroemde werke gebruik.
Die grondpad verby Laersdrif se statige klipkerk is klipperig en sinkplaat. Dit slinger tussen plaasopstalle knus teen klipkoppies deur. En toe is ek daar, of liewer was ek daar, want ek is deur Tonteldoos voor ek dit weet. Ek keer die Landy se neus terug na die enkele geboue en ‘n plaasopstal. Net toe ek wonder of dit wel die dorpie is, sien ek die Cheese Shop. Die deur is half toe en ek roep-klop. “Come in! It’s open.” Die vrouestem praat die koningin vanoor die water se taal: die klinkers uitgerek en presies afgerond.
My oë raak gewoond aan die skemer en ek sien dis ‘n kuierplek met ‘n leerbank en tafeltjies en ‘n yskas vol bleek kase. Nie bleek sonder byt nie, maar natuurlik bleek – gemaak van ongepasturiseerde melk, sou ek later verneem.
Eers toe sien ek haar: ‘n vrou met lang grys hare wat sy met ongeërgde elegansie in ‘n poniestert draai en op haar kop vasknip. Sy sit by die kroeg met ‘n glasie witwyn in die hand. “Have some mampoer while you wait. Locally brewed. The owner quickly went to the little girl’s room,” sê sy net so effentjies verveeld.
Die mampoer slaan my byna grond toe en baie later, nadat ek ‘n tweede mampoer beleefd bedank het in ruil vir ‘n forelpastei, sien ek sy het effens ingedut. Steeds elegant, rus haar kop effens gekantel, teen die muur.
“Sy is ‘n Britse lady. Of liewer was. Nou is sy ‘n Tonteldoser. Die lord het iewers in Afrika agtergebly. Maar ‘n lady bly ‘n lady – met of sonder die lord,” gesels ‘n ou inwoner. Ek verkyk my aan die besondere vrou, min wetende dat sy enkele weke later finaal haar burgerskap van Tonteldoos sou ontvang – tussen die veldblomme en klippe van Tonteldoos.
Tonteldoos is een van daardie plekke wat mens beurtelings opgewonde en hartseer maak. Dis ‘n juweel – ongeslyp, maar nie ongeneë om ontdek te word nie. Wat ‘n vinnige inloer sou wees, word ‘n kuier met asem-wegslaan mampoer, forel uit die omgewing se damme en mense wat (sonder verkoopagenda) hartlik gesels oor die ditjies en datjies van die lewe op
Tonteldoos. Die plek het ‘n stewige knypie van Genis se Koöperasiestories, ‘n skeutjie van Greyton se bekoring en ‘n goeie porsie van Nieu-Bethesda se afsondering. Daar is ‘n verskeidenheid gasteplase, foreldamme en geskiedkundige boerevestings, en tog is dit veel meer as ‘n toeristebestemming.
Die streek se ekonomie is gelukkig nie afhanklik van toerisme nie. Die gemeenskap is ook nie só afgesonderd dat besoekers agterdogtig aangekyk word nie. Dit is hoekom dit so lekker is om op Tonteldoos te kuier. Hier is ‘n vreemdeling, soos Jim Reeves lank terug gesing het, net ‘n vriend wat jy nog nie ken nie.
The Cheese Shop en Planters lê langs die deurpad en dit is die gemeenskapsentrum waar mense kuier, pakkies aflaai, nuus uitruil en die dors les. Die gesprekke wissel van mampoer tot donkies. Die distrik se (wettige) mampoerstokers is opgewonde oor die mooi perske-oes. Die spyskaart vir die opkomende donkiedans word uitgepluis.
Die afgelope dekade het my pad oor baie vastelande geloop en dikwels het ek myself beloof: Hierheen kom ek terug. Dit was meestal net ‘n voorneme, want ‘n mens se pad neem mos maar sy eie vreemde loop. Maar die middag op Tonteldoos, maak ek ‘n vaste afspraak vir ‘n volgende besoek. Ek gaan kom inloer by die donkieprojek van René Naude, die donkie Florence Nightingale, en sy beloof om my te laat weet wanneer die volgende donkiedag is.
Roossenekal toe
Ná Tonteldoos is my eerste blik van Roossenekal teleurstellend – rye mobiele huise. Ek sou later hoor dis tydelike behuising vir die De Hoop-dam wat in die omgewing gebou word. By ‘n driffie ontmoet ek ‘n tant Miem van der Merwe. Sy kom skaars tot by my skouer en nooi my vir tee en ‘n kort geskiedenisles:
“Roossenekal het sy naam te danke het aan twee boerevegters – Roos en Senekal – wat in die Mapoch-oorlog gesneuwel het. Ek kan jou gaan wys waar Roos en Senekal se grafte is, ook die Geloftefeesterrein. Ons hou jaar vir jaar Geloftefees – lekker! Ons mense ken die op en af van die lewe. In 1901 het die Kakies die dorp plat met die grond gemaak. Net die geraamte van kerk het bly staan. Maar die dorp is weer opgebou, die kerk herbou en die boerdery aan die gang gekry.”
Ek vat die pad Remhoogte toe waar die Ackermans suiwer water uit die berg bottel en vroegsomer lande vol geel varkore kweek. “Ek ry ‘n Defender,” het ek ewe kordaat gesê toe hulle so vaagweg verwys na ‘n sleg pad. Dié middag breek ek ‘n skokbreker, verloor ‘n agterflap en drie stukkies tuinslang wat die daktent knus moet anker. Dit help nie veel dat die Ackermans die pad met daagliks met Toyotas ry nie. (Maar skryf dit asseblief toe aan die bestuurder, nie die Landrover nie. Ek het daardie die 4×4-kursus destyds gedop – sertifikaat ten spyt.)
En waarlik die geel varkore blom hoog teen die berghange tussen die klippe in die son.
Die skaars Zantedeschia pentlandii, wat sy naam te danke het aan ‘n Italiaanse botanis (Zantedeschia) en ‘n Skotse landgoed (Pentland), is inheems aan suidelike Afrika en kom voor van Suid-Afrika tot noord Malawi. Ondanks die wye verspreiding is Roossenekal en Tonteldoos die hartland van die geel varkoor.
Ongelukkig word daar toenemend onwettig handel gedryf in die bolle en plante. In die blomtyd word plante en bolle voor die voet gestroop. Dis ‘n hartseergesig, maar die blomme in hul natuurlik staat word jaar na jaar minder.
‘n Paar weke later keer ek terug Tonteldoos toe, maar dié keer maak ek eers ‘n draai in Dullstroom. Verby Dunkeld Country Estate vat ek ‘n ewe klipperige sinkplaatpad na René Naude toe.
Planters se werf is vol donkiekarretjies. Hier en daar vreet ‘n donkie aan ‘n graspol en in die skaduwee is die staatsveearts van Lydenburg besig om ‘n onwillige donkie se wonde te verpleeg. Dr. Marietjie Malan maak tyd om na die donkies se gesondheid om te sien. Sy ontwurm en behandel wonde wat veroorsaak word deur draadstange, toue en te swaar karretjies.
René Naude het opgelet dat die drywertjies meestal jong kinders is, een van die tragiese gevolge van ‘n gemeenskap waar die ouers in die stad moet gaan werk en net grootouers en kinders agterbly. René skets ‘n hartroerende toneel wat hulle finaal aangespoor het om tot die donkies se redding te kom. Die donkie was in kraam en die baba se voetjies en neusie het al gewys, maar die drywertjie het nogtans ingelê met die sweep. Nodeloos om te sê: die dier en haar halfgebore kleintjie is letterlik in die tuig dood en is net so langs die pad gelos. René fokus daarop om die gesindhede van die jong drywertjies te verander. Een van die donkieprojek se suksesverhale is ‘n aantal nuwe karretjies wat borge van Lydenburg geskenk het. Die liggewigkarretjies is soveel genadiger op die donkies.
Weens inteling het Tonteldoos se donkies papegaaibekke, die onderkaak is aansienlik korter as die bokaak. Gelukkig het weldoeners uit Ohrigstad en Ermelo twee Spaanse hingse geskenk en dit maak reeds ‘n verskil.
Dis altyd kuiertyd op Tonteldoos. Johan Kuneke, die plaaslike geskiedkundige, nooi my binne toe ek sonder afspraak op sy werf stilhou. Op sy solder is twee doodskiste en by sy stoof ‘n boks dagoud kuikens. Hy is gelate oor die hewige debat oor die herkoms van Tonteldoos se naam: “Sommige sê Paul Kruger het sy tonteldoos hier vergeet. Ander beweer dit is die opmeter, G.R. von Wielligh, wat sy tonteldoos hier verloor het. Hy glimlag. “Dit kan ek jou wel sê: As ek al die stories moes glo, het Paul Kruger omtrent in elke huis op Tonteldoos oorgeslaap toe hy destyds vlugtig hier verby is. Nee, niemand kon nog onomwonde bewys waar die naam vandaan kom nie.”
Hy kyk ver oor die vlaktes: “Maar dit verander g’n aks aan Tonteldoos se siel nie.”
Amen!
WAT OM TE DOEN
Tonteldoos-fees
’n Familiefees elke Paasnaweek met mampoer, kontreikos, ’n biertuin, boeresport en donkiepret.
Geel Varkoor-fees
Eerste naweek in Desember waar jy bolle en plante kan koop met begeleide toere na die geel varkoor in die veld. Ook perskemampoer en Ndebele-kraalwerk van Draaikraal.
Akkommodasie: Christien by 082 550 6896 of [email protected]
Verlorenvallei-reservaat
Op die Steenkampsberg-plato. Dertig vleie (onderling verbind) is die broeiplek van drie kraanvoëlspesies wat op die internasionale rooi datalys is: Suid-Afrika se nasionale voël, die bloukraanvoël, die uiters bedreigde lelkraanvoël en die kroonkraanvoël.
Toere: 013 254 0799.
Vlieghengel en staproetes
Enige plek, enige rigting – ’n hengelaars- en stappersparadys.
Fietsroetes
’n Netwerk grondpaaie (kruis en dwars oor die Steenkampsberge en omringende dorpies) bied roe-tes tussen 14 en 100 km.Kontak Dullstroom se toerismevereniging vir roetes en afstande:[email protected]
Vierwielmotorfietse
Dullstroom/Tonteldoospad 071 139 8746.
Mapochgrotte
Vyf kilometer buite Roossenekal. Dit was die wegkruipplek van Hoofman Nyabela se mense in die Mapoch-oorlog van 1882. Die ZAR-troepe het die oorhand gekry en Roossenekal is vier jaar later gestig. Vanaf die parkeerterrein met ’n standbeeld van hoofman Nyabela, is dit nog ’n stywe klim van sowat 15 minute na die grotte.
Verblyf in Tonteldoos
• Random Rocks 082 389 2270
• Tinderbox Cottage 082 841 4932
• Granny’s Cottage 013 254 0585
Mampoerstook en historiese boerevestings: Johan Kuneke (013 254 0722) is die nie-amptelike mampoerkoning en ’n geskiedenisboek op twee bene.