As ek my grootwordjare uitskakel, is hierdie winter my eerste in ’n huis met ’n vuurherd. Ek het geen idee gehad hoe om ’n vuur aan te pak nie, en begin toe wonder: is dit ’n manlike of vroulike vaardigheid? Kleintyd het ek Jan J. van der Post se boeke oor die Boesmans, soos die Khoi-San destyds genoem is, met groot genot gelees en as ek aan vuur dink, sien ek behendige jagtershande wat stokkies teen mekaar vryf om die wondervlam voort te bring.
Na ’n paar pogings wat van korte vuur was, het ’n vriend my in die kaggelkuns ingelyf. Ek wonder nou nog hoekom fynhoutjies so skaars is in Johannesburg. ’n Vriendin – vuurmaker van formaat – se fynhout kom uit haar tuin. Volgende somer wanneer enige boom of struik gesnoei word, gaan ek soos ’n eekhoring wintervoorraad bymekaar maak.
Vuur in my herd het een nadeel. Dit het die magiese aantrekkingskrag van ’n kers vir – wel, ek is nou nie mal oor die vergelyking nie – ’n mot. Ek kan nie lees, video kyk of e-posgeselsies aanknoop as daar vlamme in my gesigsveld is nie. Sê nou ’n stomp stort neer en ek mis die verskietende sterretjiestreep?
Boonop waak ek oor my konstruksie soos ’n eienaarbouer oor sy hartsprojek. Ek let noukeurig op die vordering van die brandproses en maak notas in my kop. Volgende keer moet die deurwinterde hout dáár lê en wanneer sake só staan, moet ek nog ’n stomp van dáárdie dikte opgooi. Dis eintlik jammer daar is nie ’n prys vir vordering in voorstedelike vuurmaaktegnieke nie.
Wanneer daar oor ’n kaggelvuur geskryf word, duik woorde soos ‘romanties’, ‘rooiwyn’ of die assosiasie met verstrengelde sokkievoete gewoonlik op. Is dit enigsins normaal om vingeralleen in verwondering voor die vlamme te sit?
Newwermaaind; dis hoogstens ’n seisoenale verslawing. En as ek my verbeelding inspan, verbind dit my aan elke paar hande – manlik én vroulik – wat deur die eeue ’n vonkie laat ontbrand het tot ’n bron van weldadige warmte en lig.