kategorieë: ReisOntspanning

Vyfsterweelde in die hart van die Karoo

Graaff-Reinet

Graaff-Reinet het in 1786 tot stand gekom en is na die Hollandse goewerneur van die Kaap, Cornelis van de Graaf en sy vrou, Cornelia Rijnet vernoem. Vandag beskik die dorp oor meer as 220 erfenisterreine, meer as enige ander dorp of stad in Suid-Afrika. Die dorp spog ook met pragtige voorbeelde van Kaaps-Hollandse, Victoriaanse en Karoo-argitektuur en het 64 kerke! ’n Uitstekende voorbeeld van die argitektuur is die Reinet Huis-museum, die pastorie wat Andrew Murray in 1812 gebou het. Hier kan jy ook ’n kans kry om Withond-witblits te proe en koop. En as jy ’n vetplantliefhebber is, is die Obesa-kwekery ’n moet – loop net lig vir die prikkelbare eienaar! David Livingstone was so mal oor die dorpie dat hy dit “The prettiest town in all of Africa” genoem het. Die dorp word omring deur die Kamdeboo Nasionale Park.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Drostdy Hotel

Die Drostdy, wat in 1809 gebou is, was oorspronklik die huis van die landdros, en is in 1878 die eerste keer in ’n hotel omskep. Byna ’n eeu later, in 1975, het die Oude Meester-groep van die Ruperts die hotel gekoop. Die gebou en die ou slawehuisies agter die gebou is gerestoureer en in die hedendaagse hotel omskep. In 2014 is die hotel, wat ook ’n nasionale monument is, weer gerestoureer en ’n luukse, vyfsterhotel is geopen. Maar moenie dink die vyfsterweelde is net vir spesiale mense bedoel nie. Die vriendelike, gesellige atmosfeer en personeel maak dit ’n hotel waar ieder en elk welkom sal voel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

De Cambeboo-restaurant is die hart van die hotel en spog met die oorspronklike Lighton-voëlskilderye wat in die bekende Dr. Austin Roberts’ The Birds of South Africa verskyn het. ’n Mens kan selfs die Tippex-merke op die skilderye raaksien waar hy foute reggemaak het. Die restaurant bied drie fynproewersetes per dag aan en bied ook nou maandelikse wynparing-etes aan. Ons is die eerste aand met ’n heerlike Antonij Rupert Dine and Wine-ete bederf. Maak seker jy eet ’n lamsvleisgereg – dis mos Karoo-lam kontrei! Die hotel het ’n indrukwekkende vinotheque  wat met die beste plaaslike en internasionale wyne spog en ’n wynwinkel, die Wijnkamer, wat al die Rupert Landgoed-wyne verkoop. Die winkel is glo die mees bekostigbare wynwinkel op die dorp en bied ook wynproe-aande aan. Die Imibala-kunsgalery, langs die wynwinkel, het gereelde uitstallings van plaaslike kunstenaars se werk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die hotel spog met 48 luukse kamers wat bestaan uit agt Bachelor-kamers, 17 Standaard-kamers, (insluitende een kamer wat rolstoelvriendelik is), 15 Executive-kamers en agt Suites. Al die kamers het pragtige, ruim badkamers. Die hotel het drie swembaddens waar jy jou kan laaf as die Karoo-hitte te veel raak, en ook ’n lieflike Africology-spa vir ’n ekstra bederfie, en selfs ’n gimnasium vir die fiksheidsgeesdriftiges.

Kamdeboo Nasionale Park

Die Kamdeboo Nasionale Park is sowat 20 km buite Graaff-Reinet en dis hier waar Die Vallei van Verlatenheid gekry kan word. Kamdeboo (Xamdeboo) is ’n Khoi-woord wat “Groen Vallei” beteken. Die vallei word gekenmerk deur steil kranse en dolerietkolomme  wat sowat 120 meter hoog staan teen die wye vlaktes van die Karoo. Die kenmerkende rotsformasies is die produk van meer as 100 miljoen jaar se vulkaniese uitbarstings en erosie. Die park spog ook met wild, staproetes en 4×4-roetes.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Nieu-Bethesda & die Uilhuis

Die Karoodorp, Nieu-Bethesda is in 1875 gestig en is net ’n 30 minute se ry vanaf Graaff-Reinet. As jy deur die dorpie se stofstrate stap, voel dit asof jy jou op ’n plek bevind wat onaangeraak is deur tyd. Die dorpie het eers in 1993 elektrisiteit gekry en het geen verkeersligte nie. Maak ook seker dat jy genoeg kontant by jou het en dat jou petroltenk vol is voor jy kom, want daar is geen bankoutomate, kredietkaartgeriewe of vulstasies nie!

Die Uilhuis, waar die kunstenaar Helen Martins gewoon het, is in ’n museum omskep en is vandag ’n top toeriste-aantreklikheid. Helen Martins is in 1897 in Nieu-Bethesda gebore. Sy was die jongste van ses kinders. Sy het nadat sy haar onderwysdiploma op Graaff-Reinet verwerf het met ’n Johannes Pienaar getrou en hulle het Johannesburg toe getrek. Ná ’n kortstondige huwelik het Helen teruggekeer Nieu-Bethesda toe om na haar siek, bejaarde ouers om te sien. Nadat haar ma in 1941 oorlede is, het net Helen en haar pa, Piet, in die huis agtergebly. Oom Piet, of  “Die Leeu” soos hy ook genoem is, was ’n moeilike, buierige man en hy het nie ’n goeie verhouding met enige van sy kinders gehad nie (nie een van die ander vyf kinders het ooit teruggegaan Nieu-Bethesda toe nie). Kort ná haar ma se afsterwe het sy haar pa gevra om na ’n donker buitekamer toe te trek wat sy die “Lion’s Den” genoem het. Sy het die enigste venster in die kamer toegebou, die mure swart geverf en met gebreekte glas bedek.

Ná haar pa se dood het Miss Helen, soos die mense op die dorpie haar begin noem het, die wêreld om haar met haar kuns verander. Hoewel sy gesmag het na belangstelling en erkenning vir haar werk, het die dorpenaars haar gewantrou en gespot. Maar met die hulp van Koos Malgas en ’n paar ander plaaslike werkers het Helen haar huis en agterplaas in ’n towerwêreld van sementbeelde omskep, gevul met misterie en kleur – iets wat Helen moontlik in haar eie lewe gemis het. Dié veeleisende werk het haar fisiek en geestelik uitgeput, en het bygedra tot haar isolasie, en haar sig en gesondheid het haar lateraan in die steek gelaat, moontlik ’n gevolg van al die fyngemaalde glas waarmee sy van haar kunswerke en al die mure in die huis versier het. Op 78-jarige ouderdom het sy op ’n koue wintersoggend haar eie lewe geneem deur bytsoda te drink. Vandag groei die belangstelling in die Uilhuis steeds, en haar kuns wat eens ’n bespotting en verleentheid was, het die belangrikste bate in Nieu-Bethesda geword.

Die gebied is ook een ryk aan fossiele wat dagteken van voor die dinosourusse. Daar is ’n paar museums waarin jy van die fossiele te siene kan kry. Vir ’n lafenis ná die droë, stowwerige strate besoek die rustieke Sneeuberg Brewery & Two Goats Deli net buite die dorp vir ’n heerlike yskoue craft bier en tuisgemaakte kaas en brood.

Kontakbesonderhede:

Drostdy Hotel: 049 892 2161, info@drostdy.co.za, reservations@newmarkhotels.com, www.drostdy.co.za

Karoo Connections doen toere in Graaff-Reinet en na Nieu-Bethesda en die Kamdeboo Nasionale Park:

049 892 3978, 082 748 3253, karooconnections@intekom.co.za

Sneeuberg Brewery & Two Goats Deli:  http://www.sneeuberg.com/

Meer oor Graaff-Reinet: www.graaffreinet.co.za

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje
Tags: vakansiereis

Onlangse plasings

Mango-en-klapper-yskastert met pynappelgranita

Die nuwe kaaskoek! Ons Suid-Afrikaners hou mos van ’n lekker yskastert. Maar ongelukkig is dit…

2 days Gelede

Steak-en-sampioen-roerbraai

Genoeg vir 4-6 Bestanddele   Sous 60 ml (¼ k) perskeblatjang 60 ml (¼ k)…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met musieklegende Jannie du Toit oor sy opwindende jaar wat voorlê

In die wêreld van Suid-Afrikaanse musiek is daar sterre, en dan is daar legendes. Jannie…

2 days Gelede

‘Die Byl’ groet ná ses seisoene

“Mens weet nooit, terwyl jy bloed en trane stort soos jy aan ’n produksie werk,…

2 days Gelede

Frikkadelle in tamatiesous

Genoeg vir 4-6.   Bestanddele   4 snye bruinbrood, korsies verwyder 125 ml (½ k)…

2 days Gelede

Wees positief, leef langer

Is jou beker half leeg of half vol? Maak seker jy hou daardie metaforiese beker…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.