Die 22ste Suidoosterfees word ingelui deur ’n indrukwekkende konsert van populêre en klassieke musiek. Anna Davel staan aan die stuur van dié vertoning, Konsert van Hoop, en vertel meer.
Jy is die regisseur en vervaardiger van Konsert van hoop by Suidoosterefees. Wat kan feesgangers verwag?
Die Konsert van hoop is elke jaar ’n feesviering van Kaapse se talent. Behalwe die stemme van Ilse Klink, Amira Willighagen, Stephanie Baartman en The Black Ties, is daar drie groepe deel van die produksie: Dance for All wat ’n dansgroep uit Athlone is, die Suid-Afrikaanse Jeugkoor wat bestaan uit jongmense vanoor die Wes-Kaap en dan die Nasionale Jeugmusiekstigting wat elke jaar ’n kompetisie het waaruit ons iemand kies. Vanjaar is dit die pianis Hermanus Schmidt.
Die konsert is ’n kombinasie van klassieke musiek, opera, popmusiek, Afrikaanse musiek – regtig iets vir almal. Die kern van die konsert is die Jeugorkes en die feit dat almal skoliere en studente is. Hulle is die musikante van die toekoms in ons land en die orkes is ’n wegspringplek vir hulle om die wêreld in te vaar. Ook die koor en dansgroep. Hulle gee vir kinders ’n wonderlike geleentheid om hulle talente te gebruik en uit te bou.
Wat is die grootste uitdagings van so ’n groot konsert?
Die kommunikasie omdat almal besig is. Om almal, ons praat hier van 110 mense, op een plek te kry en die produksie dan in ’n kort tydjie bymekaar te kry. Hierdie is die derde jaar wat ek dit doen en ek sal nie sê dit raak makliker nie, maar ek weet dit sal altyd bymekaar kom. Almal betrokke is met die hand gekies, so ons weet hulle gaan hulle heel beste bring.
Jy en Ilse Klink doen ook saam ’n konsert, Davel & Klink in harmonie, as deel van die Kort voor lank-program. Hoe het julle op die musiek besluit?
Ek en Ilse het by ’n tafel gaan sit en besef ons het baie dieselfde smaak. Van die liedjies wat sy op haar lys gehad het, het ek ook op my lys gehad. Ons stemme verskil, maar hoe ons dink oor musiek en voel oor die teaterwêreld, is baie dieselfde. Ons paaie het al baie gekruis, maar nooit so direk soos hierdie nie. Ek het haar ontmoet toe sy in die vroeë 1990’s ’n Crescendo-finalis was en “Daar’s ’n plek” van Coenie de Villiers gesing het. Ek was weggeblaas deur haar stem en dit is wat sy onder meer in Konsert van hoop sing. Sy was ook deel van die produksie Al daai jazz in 2003 en dit was wonderlik om weer saam met haar te werk. Toe die Suidoosterfees my vra saam met wie ek graag ’n konsert wil doen, het ek dadelik gesê Ilse.
Watter ander produksies op die fees wil jy graag sien?
Nataniël se Duif. Ek het dit al gesien, maar wil dit weer sien wat dit is wonderlik. Dan sal ek graag Die skep van Saartjie wil sien om die wonderlike werk van Ramon Alexander, Diana Ferrus, Coenie de Villiers, Dizu Plaatjies en The Ancient Voices se Nomapostile Nyiki en Lungiswa Plaatjies te beleef. Ek sal graag Antoinette Kellerman in die nuwe Breyten Breytenbach stuk, Verwelkingslied, wil sien asook Hortjies dig – die storie van digter Peter Blum omdat ek ’n groot fan van Chris van Niekerk en Joanie Combrink is. Stephanie Baartman se Hoort is ook op my lys.
Lees ook: PAS BEKEND | Nuwe kykNET-reeks verken dramas en intriges van nuuskantoor
Wat maak die Suidoosterfees spesiaal?
Die Suidoosterfees maak groot veranderinge in mense se lewens. Daar is ’n natuurlike diversiteit wat nie geforseerd is nie. Daar is baie samewerkingsgeleenthede en kanse wat jy nie sommer sal kry nie. Soos die musikante van die Jeugorkes wat die geleentheid het om saam met mense wat al internasionaal opgetree het, soos Amira Willighagen en Ilse Klink, op een verhoog te wees.
Die Suidoosterfees het ’n unieke vibe en ek hoop hulle gaan van krag na krag en dat mense van oor die hele wêreld sal reis om te kyk wat alles hier in die Kaap gebeur.
Die Konsert van Hoop vind op Woensdag 30 April by die Kunstekaap-teater plaas. Kaartjies is hier beskikbaar.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Kristen Raath oor Niggies en ma-wees op skerm