Waldemar Schultz het byna ’n dekade lank die skoene van kolonel Piet van der Bijl, oftewel Die Byl, volgestaan – ’n karakter wat onverskrokke elke reeksmoordenaar wat sy pad kruis, in sy visier gehad het. Maar nou, ná ses seisoene van bloedstollende ondersoeke, emosionele dieptes en ongekende kameraadskap op stel, is dit tyd om afskeid te neem.
“’n Mens weet nooit, terwyl jy bloed en trane stort soos jy aan ’n produksie werk, of dit sag by die kykers gaan val nie,” sê Waldemar. Maar Die Byl hét. Die misdaadreeks, wat in 2016 afgeskop het, het met sy intense storielyne, komplekse karakters en hoë produksiewaarde ’n lojale aanhang opgebou – soveel so dat dit nou die kykNET-dramareeks met die meeste seisoene in die kanaal se geskiedenis is.
Waldemar glo dat die gewildheid van die reeks in die gehalte van die produksie gewortel lê. “Die misdaadgenre bly ’n gunsteling met kykers, en ek dink die reeks het boeiende storielyne, unieke karakters en is met integriteit en toewyding aan goeie gehalte vervaardig. Dis ’n groot kompliment vir die hele span dat die reeks so aanklank by kykers gevind het en gewild gebly het.”
Vir hom was die ervaring méér as net ’n rol. “Ons het nie toe geweet ons, die spelers, sluit by ’n familie aan wat tien jaar lank saam gaan werk nie,” sê hy. “Die mense en gevoel van kameraadskap sal altyd by my bly.”
Maar ná soveel seisoene in die rol van die bekwame speurder, watter eienskap van Byl gaan hy die meeste mis? “Sy pligsgetrouheid aan sy werk, lojaliteit aan sy span en sy onkeerbare drang om geregtigheid te laat geskied, is seker van sy beste eienskappe,” sê hy. “ – ek twyfel sterk of hy en Waldemar ooit boesemvriende sou kon wees – kan ek nie sê ek is in enige opsig bly om van hom ontslae te wees nie. Ons het baie vir mekaar beteken.”
Karlien Meiring het meer oor sy karakter, die impak van die reeks en sy lewe ná Die Byl gaan uitvind.
In jou verbeelding – hoe lyk Byl se lewe ná die laaste episode? Sal hy ooit sy werk kan los en net rustig gaan visvang?
Ek dink Byl is soos die meeste akteurs: Daar is ’n interne drang om te bly doen wat hy doen totdat hy nie meer kan nie … Ek kan my nie indink hy sal ooit ophou doen wat hy móét nie!
Ná al die jare waar jy op misdaadfiksie gefokus het, dink jy jy sou ’n goeie speurder in die regte lewe wees?
Hm, miskien ’n goeie assistent. Maybe a Watson, not a Sherlock. Ek’t ’n oog vir detail en ’n onversadigbare nuuskierigheid, wat sou gehelp het om leidrade uit te snuffel … Maar Byl is ongelooflik deeglik en baie presies, al sy eende marsjeer presies in gelid. My eende swem weer die hele dam vol, party het gaan slakke soek in die woud en die helfte het vir die winter noordwaarts gemigreer.
Jou dogter volg nou ook in jou en jou vrou se toneelvoetspore. Hoe voel dit om haar talent te sien blom en het jy vir haar enige “bedryfwysheid” gegee?
Sy doen haar eie ding en trap maar haar eie spore, ek dink tyd vir “Pappa se raad” is al goed verby! Trouens, sy leer my deesdae ’n ding of twee oor hoe om aan te pas by ’n veranderende bedryf, en herinner my aan wat ek 30 jaar gelede al vergeet het! En ja, natuurlik is dit ’n ongelooflike bron van trots en opwinding om te kyk hoe sy die bedryf, die wêreld en die lewe benader.
View this post on Instagram
Jy het oor die jare soveel uiteenlopende rolle vertolk – watter tipe rol droom jy nog om te speel?
Ek dink elke akteur is altyd gretig vir die volgende rol; in Suid-Afrika kan ons nie te kieskeurig wees nie. In die teaterbedryf is ons geneig om te sê: “O, ek wil so graag eendag King Lear of Antonio Salieri of Tevye Mostel of wie ook al speel…” Vir film en televisie, waar ons nie dieselfde “klassieke” rolle skep en herskep nie – dis nie vervlietend soos teater nie; as dit eers op beeld vasgevang is, is daar ’n rekord daarvan. Ons doen oor die algemeen nie “remakes” nie. Ons wag maar, en hoop die volgende rol is iets wat die verbeelding prikkel en kreatiewe uitdagings bied – wat dit ook al mag wees.
Hoe ontspan jy en jou vrou ná ’n lang dag op stel of in die teater?
Vir ontspanning hou my vrou, Ira, van tennis, stap, bad en slaap. Ek kyk flieks, speel avontuur-, legkaart- en woordspeletjies op my tablet, begeef my in menige internet- rabbit holes en slaap!
View this post on Instagram
Die Byl wys Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Kokkedoor se Mike en Suzie oor hul oorwinning: “Mense gaan altyd koppe stamp aan die begin”