Riaan Grobler, ’n geliefde radio-omroeper by Pretoria FM asook bekende skrywer en sanger, bewys weer waarom hy ’n meester van kreatiewe uitdrukking is. Met sy splinternuwe album Moskonfyt, in samewerking met die talentvolle Jomari, en sy tweede roman Hospitaal Weltevreden wat in Januarie 2025 rakke gaan tref, neem Riaan sy passie vir musiek en storievertelling na die volgende vlak.
Sy jongste album Moskonfyt spruit uit sy en Jomari se vriendskap van 17 jaar, vanaf die tyd toe hulle ’n jaar lank dieselfde huis ná sy universiteitsjare gedeel het.
“Sy het die meeste van die agtergrondsang op my vorige albums gedoen omdat ek die meeste van my albums by haar man, die meester-musiekvervaardiger Werner Beukes, opgeneem het,” vertel hy.
En toe Riaan die eerste keer die liedjie “’n Dag Sonder Jou” hoor, het hy geweet dit moet ’n duet wees – en sy droom van ’n vollengte album saam met Jomari is gebore. Nou, ná ’n jaar se harde werk, is “Moskonfyt” gereed om gehore mee te voer.
Riaan se skryftalent kry boonop binnekort ’n nuwe hoofstuk met sy tweede roman, Hospitaal Weltevreden.
Ná die sukses van sy debuutroman keer Riaan terug met ’n boeiende storie wat in ’n hospitaal afspeel. Anders as sy topverkoper, Geheime op Philadelphia, wat hoofsaaklik oor musiek en liefde gegaan het, verken hierdie boek die lewens van drie merkwaardige vroue: dr Anna-Mart, wat in die noodeenheid werk, die streng onkoloog dr Louise Tredoux, en die hospitaal se sielkundige Rentia le Roux.
Volgens Riaan bevat die verhaal temas van “liefde, geloof en hoop”.
“Die lesers sal gou agterkom dat dié drie vroue se hegte vriendskap deur diep waters gaan. Die intriges en geheime in die hospitaalgange gaan jou op die punt van jou stoel laat sit.”
Karlien Meiring het meer oor die veelsydige kunstenaar se kreatiewe reis gaan uitvind.
Is daar ’n bepaalde boodskap of gevoel wat jy en Jomari met jul album, Moskonfyt, probeer oordra?
Mense moet dit kan geniet, lekker daarop kan dans, maar ook nostalgies kan raak. Daar is regtig mooi snitte op wat jou hartsnare gaan roer, maar ook liedjies wat jou voete gaan laat roer.
Hoe kry jy tyd om te skryf? Het jy ’n spesifieke roetine?
Ek skryf net op Sondae. Ek kan ook nie in stilte skryf nie, so ek gaan skryf elke Sondag ná kerk by my gunsteling-koffiewinkel in Brooklyn Mall. Daar sit ek vier tot ses uur lank en probeer 4 000 woorde per slag skryf.
Is daar iets wat jy met radio- en TV-aanbieding geleer wat jy in jou skryfwerk of musiek toepas?
Ja, ek het met honderde verskillende mense te doen gekry wat elkeen ’n unieke storie het. Dit gee ’n mens baie materiaal vir storielyne. Mense interesseer my geweldig baie en ek is van nature ’n baie nuuskierige mens. As TV- en radio-aanbieder het dit my baie gehelp om die ongewone vrae te vra.
Jy het oor die jare in soveel kreatiewe velde gewerk. Watter van hierdie rolle gee jou die meeste vervulling?
Radio sal altyd in my bloed bly. Jy’t net jou stem om mense se aandag te hou. Jy moet elke onderhoud anders benader om ’n spesiale invalshoek te kry, want dan kry jy die mooiste antwoord en stories uit mense.
View this post on Instagram
Wat beteken sukses vir jou in hierdie stadium van jou lewe en loopbaan?
Sukses is om elke keer ’n nuwe album uit te bring of ’n nuwe boek, of ’n loodglaslamp klaar te maak. Solank ek mense kan inspireer en iets kan doen, groot of klein, om ’n bydrae tot hul lewe te kan maak, is my loopbaan en doel op die aarde ’n sukses.
Moskonfyt is nou op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar.
Lees ook: Ontmoet Herman Bosman – ‘Wie word ’n miljoenêr’ se heel eerste miljoenêr!