In die wêreld van Suid-Afrikaanse musiek is daar sterre, en dan is daar legendes. Jannie du Toit, die geliefde en bekroonde sanger-liedjieskrywer, val ongetwyfeld in die laasgenoemde kategorie.
Jannie, wat sy eerste professionele verhoogoptrede in 1971 gehad het en in 1979 bekendheid verwerf het, sê oor sy bydrae tot Afrikaanse musiek: “Ek sal wil hê dat mense my moet onthou as iemand wat elkeen van die liedjies met respek vir taal en musiek aangepak het – iemand wat regtig omgegee het. Ek probeer om met elke liedjie ’n positiewe bydrae tot ons taal, musiek en kultuur te lewer.”
En inderdaad gaan sy positiewe bydrae voort met ’n reeks opwindende hoogtepunte op sy 2025-kalender.
Jannie beplan sy vierde Kunstefees in die kleine oor die naweek van 25 en 26 Januarie in die Fairtree Atterbury-teater in samewerking met Pretoria FM. Vier produksies – waarvan nog nie een vantevore by dié teater te siene was nie – word aangebied. Dit belowe om ’n mallemeule van passievolle gehaltemusiek te wees waartydens uitstaande professionele musici die verhoog met Jannie deel – al vyf van hulle graduandi van Tukkies se musiekdepartement.
’n Week later verskuif die toneel na die Drostdyteater op Stellenbosch met drie van Jannie se produksies wat nog nie vantevore in die Eikestad te sien was nie.
Soos Jannie in sy musiekblyspel van 1985, Gansdans, gesing het: “Man, dit gaan ’n fenomenaalskaalse fees wees!”
Karlien Meiring het meer oor sy opwindende 2025 gaan uitvind.
Kunstefees in die kleine het oor die jare ’n spesiale plek in jou loopbaan gevind. Wat inspireer jou om hierdie fees so gereeld aan te bied?
My passie vir musiek is regtig uitsonderlik groot en ek het deurgaans so ongeveer sewe of agt musiekproduksies wat verhooggereed is. Mense vra gereeld waar hulle byvoorbeeld die Koos Doep- of die Lucas Maree- of ander programme kan sien. Daarom groepeer ek van tyd tot tyd ’n paar programme in ’n klein kunstefees saam en bied dit in ’n teater aan waar daardie spesifieke produksie nog nie vantevore op die verhoog was nie.
Die lekker ding is dat mense al hoe meer kennis van die Kunstefees in die kleine geneem het en dikwels daaroor navraag doen. Mense van die platteland kan dan vir ’n naweek in Pretoria of Stellenbosch kom kuier en sommer ’n paar produksies sien waarby hulle nie andersins sou kon uitkom nie. Hoewel ek die hoofkunstenaar van elke produksie is, is die verskeidenheid van musiek en aanbiedingswyse groot.
Hierdie jaar bevat die twee kunstefeeste in Pretoria en Stellenbosch in totaal vyf unieke produksies, elk met ’n eie karakter. Hoe het jy besluit watter stukke om in te sluit?
Dit was nogal maklik – my benadering was dat dit produksies moes wees wat nog nooit vantevore in die betrokke teater aangebied is nie – dus relatief onlangse produksies. Daarby moes natuurlik ook die splinternuwe een wees: De wals van die liefde.
Margaretastraat neem ons terug na die vroeë dae van jou loopbaan. Watter herinneringe aan daardie tyd bly jou die meeste by?
Die onbevange sit en musiek maak saam met vriende – en vreemdelinge wat later ook vriende sou word. Meeste van die tyd sommer op die vloer: Ek het nog ’n foto van Koos du Plessis wat só sit en sing in Margaretastraat. Ervare liedjieskrywers en beginners het ewe veel aandag van die gehoor gekry en almal het oor en weer gedeel, aangemoedig en raad gegee. Daar was ’n wonderlike kameraadskap wat “Liedjieaand-gangers” tot vandag toe nog saambind.
Jy werk saam met ’n paar uitstaande musikante tydens die fees. Hoe is dit om die verhoog met soveel talent te deel?
Hulle is almal klassiek opgeleide musici en dis net ek wat sommer net ’n musikant en sanger is! Elkeen van hulle bring goeie vakmanskap, ervaring, aanvoeling en passie na die verhoog toe. Daar is onder hulle ’n mengsel van deurleefde ervaring en jeugdige sprankel wat elke oomblik op die verhoog vir my en die gehoor verryk.
2025 begin op ’n hoë noot vir jou. Wat is jou hoop en drome vir die res van die jaar, persoonlik en professioneel?
In 2025 verwesenlik ek my heel grootste droom ooit: Ek het in 1983 saam met prof Anna Neethling-Pohl ’n musiekblyspel vir ’n Tukkiegroep geskryf. Dit is op Loeloeraai, CJ Langenhoven se wetenskapsfiksie-roman, gegrond. Ek droom nog al die jare daarvan om dié produksie op ’n professionele verhoog aan te bied. Ons beplan om dit in September in die Afriforumteater aan te bied as deel van die vieringe rondom die verkryging van amptelike status vir Afrikaans in 1925.
In Oktober beplan ek om ’n toer deur Nederland en Vlaandere te onderneem. Benewens Oppiekitaar, my eie eenmanprogram, is ek genooi om saam met die Groningse sanger, Klaas Spekken, twee groot konserte in sy provinsie aan te bied.
Op ’n persoonlike vlak sien ek daarna uit dat my liewe vroutjie, Therina, soveel as moontlik van die reise en optredes saam met my moet geniet, terwyl ek haar ook ondersteun in haar groot taak as nasionale direkteur van die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdheid. Tehuise en ander geriewe vir gestremdes het op velerlei wyse die ergste skade as gevolg van Covid-19 gelei. Sy en haar organisasie werk onophoudelik kliphard op die pad na herstel.
Bespreek jou kaartjie vir een van Jannie se produksies by seatme.co.za. (Fairtree Atterbury-teater) of Oppiekitaar – Jannie du Toit (Drostdyteater)
Lees ook: ‘Die Byl’ groet ná ses seisoene