Buiten vir die huidige Mnr. Suid-Afrika se aantreklike voorkoms, sjarmante persoonlikheid, kundigheid as oogkundige en vlymskerp sakevernuf, het Tiaan Massyn homself oor die afgelope twee jaar ook as ’n sanger bewys.
Sy nuwe enkelsnit, “Gunsteling spyt”, is ’n indrukwekkende popballade, uit die pen van Ernes Smit, wat in die emosionele kompleksiteit van ’n ongesonde romantiese verhouding delf. Dit skets ’n prentjie van die interne stryd tussen liefde en selfrespek, en die dikwels pynlike reis na genesing en aanbeweeg.
“Verhoudings wat verbrokkel, kan blywende letsels laat. Die liedjie is gebore uit die seer en ontwrigting wat ons almal al ervaar het wanneer so iets met ons gebeur,” verduidelik hy oor die betekenis agter die snit.
“Ek dink baie mense sal daarmee kan vereenselwig, want ek glo die meeste van ons was al in soortgelyke situasies waar ons moes leer, genees en aanbeweeg.”
’n Musiekvideo, wat die boodskap van hierdie emosiebelaaide vrystelling perfek vasvang, is ook nou beskikbaar.
“Gunsteling spyt” is die sanger se derde enkelsnit en volg in die voetspore van “Die son kom op” en “The Crossing” – sy verwerking van die Johnny Clegg-treffer wat hy as deel van sy Mnr. Suid-Afrika-veldtog gebruik het.
Wanneer hy nie sing nie, praktiseer hy voltyds as oogkundige by sy praktyke in Centurion en die Wes-Kaap, en is hy ook besig om sy jaar as Mnr. Suid-Afrika te voltooi.
Hoewel hy nie ’n spesifieke gebeurtenis kan uitwys waar die musiekgogga hom gebyt het nie, meen hy musiek was nog altyd deel van sy lewe.
“Vandat ek my eerste kitaar in die laerskool geskenk gekry het, kon ek dit nog nie weer neersit nie.”
View this post on Instagram
Karlien Meiring het meer oor dié veelsydige 30-jarige se besige skedule gaan uitvind.
Hierdie is jou derde enkelsnit. Hoe sou jy sê het jou musiek sedert jou vroeër vrystellings ontwikkel?
My eerste twee liedjies “Die son kom op” en “The Crossing” het my geïnspireer om persoonliker stories in my musiek te deel en daarop te bou. My jongste enkelsnit weerspieël ’n volwasse perspektief en ’n dieper emosionele verbintenis.
Wat is die grootste les wat jy tot dusver as Mnr. Suid-Afrika geleer het, en hoe hoop jy om dit na die volgende hoofstuk van jou lewe oor te dra?
Ek was met vreeslik baie mense van verskillende agtergronde in aanraking en het eerstehands gesien hoeveel nood daar in Suid-Afrika is. Ek het besef hoe ek my platform kan gebruik om ’n verskil in ander mense se lewe te maak. Die kleinste ding wat ons as vanselfsprekend aanvaar, kan iemand anders se hele lewe verander. Ek sal aanhou help waar ek kan, of dit nou met oogsorg is of net ’n oor verleen om te luister.
Wie is jou droomkunstenaar saam met wie jy graag sal wil werk?
Ek sou baie graag saam met Joshua na die Reën oftewel Jacques de Villiers wil werk.
Baie geluk met jou verlowing! Hoe het jy en jou verloofde ontmoet, en wat het jou laat besef sy is die een?
Ek was daardie ou wat vir haar ’n boodskap aanlyn gestuur het! Sy was eenvoudig net te pragtig. Ons het die volgende week gaan koffie drink en het nog nooit opgehou nie.
Hoe balanseer jy jou besige skedule en hoe kry jy tyd om te ontspan? Wat doen jy om geïnspireerd en gemotiveerd te bly?
Wanneer dit by besigheid en die praktyke kom, werk ek saam met wonderlike spanne. Dit laat my toe om nou en dan ’n blaaskans te vat om by my musiek, verantwoordelikhede as Mnr. Suid-Afrika, familie en vriende uit te kom. Ek sal wel graag volgende jaar weer meer tyd aan my onderneming wil bestee om dit uit te brei.
KYK | Tiaan Massyn – Gunsteling Spyt
Die enkelsnit is nou op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar. Laai dit hier af.
Lees ook: Hildegardt Whites ná aangrypende ‘Skemergrond”-toneel: ‘My hart breek vir Lily’