Die gewilde sepie Binnelanders se splinternuwe karakter is allesbehalwe eendimensioneel. Petro, wat deur die talentvolle Izette Blignaut vertolk word, is ’n intelligente, introspektiewe en liefdevolle verpleegster met ’n donker geheim. Sy het haar loopbaan met idealisme begin, vasberade om ’n verskil te maak, maar wat as ’n desperate poging begin het om haar ma se lewe te red, het haar in ’n gevaarlike situasie vasgevang wat haar morele grense toets.
“Petro is ’n sagte mens wat net die mense na aan haar wil beskerm, maar nou het dinge te ver gegaan,” vertel Izette. Hierdie komplekse karakter – iemand met goeie bedoelings wat grense oorgesteek het, wat sy nooit gedink het sy sou nie – is wat Izette die meeste na die rol aangetrek het.
Vir Izette is Petro nie net ’n uitdagende rol nie, maar ook die verwesenliking van ’n droom.
Ná verskeie oudisies oor die jare, het sy uiteindelik haar plek in hierdie bekende Afrikaanse sepie losgeslaan – en haar familie en vriende is oorstelp van trots. “Ek weet ek mag nie vir enigiemand gesê het nie, maar ek moet bieg dat ek die petroljoggie by die Engen vertel het toe ek gehoor het – ek kon dit net nie inhou nie,” vertel sy laggend.
Lees ook: Maak gereed vir Tertius en Tracy se ‘Binnelanders’
Agter die skerms is sy bekoor deur die span van Binnelanders, wat sy as “die vreedsaamste plek” beskryf waar sy nog gewerk het. “Alles werk, almal is wholesome en het respek vir mekaar,” sê sy. “Ek verstaan hoekom hierdie masjien al vir meer as 20 jaar loop – dis die mense, die kultuur.”
Karlien Meiring het by Izette meer uitgevind oor haar karakter wat nog lank by Binnelanders-kykers gaan bly.
Petro se verhouding met Cecile is ’n belangrike deel van haar verhaal. Watter rol speel dit in Petro se lewe?
Cecile was nog altyd daar vir Petro, sy het haar altyd gehelp en ondersteun as dinge moeilik gegaan het. Cecile ken Petro se hart en het haar tydens haar ma se swaarkry bygestaan. Petro kan vir Cecile met enigiets vertrou, maar omdat sy weet dit waarmee sy besig is, is nie reg nie, weerhou sy die inligting. Nou het Petro niemand nie, nie eens haar beste vriendin nie. Sy het haarself in die moeilikheid gekry en het niemand op wie sy kan staatmaak nie.
Watter van jou mede-akteurs inspireer jou die meeste, en hoekom?
Germandt Geldenhuys! Dit was ongelooflik om te sien hoe hy lag en gesels en pret het op stel, maar die oomblik wat die kamera begin rol, sien jy trane in sy oë. Hy is so talentvol en weet hoe om die balans tussen werk en pret te handhaaf.
Wat hoop jy leer kykers by Petro, en hoe wil jy hê hulle moet oor haar voel?
Ek hoop hulle sien haar hartjie raak. Sy is net ’n mens met foute, wat haarself in ’n slegte situasie gekry het. Sy sal verseker daaruit leer, maar sy is nie ’n slegte mens nie.
Wat kan ons verwag van Petro se storie in die komende episodes? Kan jy iets weggee?
Petro is slimmer en tawwer as wat ons dink …
Wat is jou grootste droom, persoonlik en professioneel?
Persoonlik: Dit klink eenvoudig, maar ek wil regtig net gelukkig wees, dis al.
Professioneel: Ek sal graag eendag my eie produksiehuis wil oopmaak. Daar is soveel stories wat vertel moet word, en wat ek graag wil vertel. Ek wil skryf, self speel en vir my medekunstenaars werk skep.
Skakel weeksaande om 19:30 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.
Lees ook: ’n Koel miljoen vir Lee-Ann en Johann + ‘Klein paradys’ is nou reg vir gaste!