kategorieë: Ons menseBekendes

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Hildegardt Whites oor haar langverwagte karakter in ‘Skemergrond’

In die oornagtreffer-telenovelle Skemergrond bied die skilderagtige landskappe van die Wes-Kaapse platteland en die blommemarkte van Kaapstad die agtergrond vir ’n verhaal wat ’n wye verskeidenheid kykers boei.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die geliefde akteurs wat hierdie epiese familiesage na die kassie toe bring, sluit onder andere Charlton George, Khadija Heeger, Carmen Maarman, Shimmy Isaacs, Dirk Stoltz, Dann-Jaques Mouton, Gershwin Mias, Deon Lotz en Deirdre Wolhuter in. Talentvolle jong akteurs maak ook hul buiging.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Carmen Maarman oor die nuwe telenovelle, Skemergrond

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Skemergrond speel in die bekoorlike dorpie Gemoedsdrif, geleë in die Wes-Kaap, af en draai om die Louw-gesin en hul pragtige blommeplaas. Die Louws se rustige bestaan word versteur wanneer die aflewering van ’n brief dreig om skokkende familiegeheime te onthul. Dit lei tot groot spanning en gebeure wat almal se lewe onherroeplik verander. Ou wonde word oopgekrap en nuwe bande word gesmee om die Louws en hul nalatenskap te red en te beskerm.

“Ons het ’n uitsonderlike rolverdeling en ’n briljante span mense agter die skerms bymekaar gebring om hierdie veelvlakkige storie vol geheime, liefde en wraak te vertel. Kykers gaan deur al die emosionele kinkels aangegryp en verras word,” sê Roberta Durant, een van die projek se kreatiewe vervaardigers.

Terwyl kykers in die lewens van die Gemoedsdrif-inwoners delf, word hulle bewus gemaak van JP en Jasmine Louw se jongste dogter, Lily. Sy het destyds op 16-jarige ouderdom uit die bloute haar sakke gepak en sonder enige verduideliking die familie se Everlasting-blomme-onderneming verlaat. Kykers het lank gewag om haar te ontmoet, en sy en haar dogter, Amber, het uiteindelik hul opwagting vandeesweek gemaak nadat hulle saam Europa platgetoer het.

Lily word deur die talentvolle Hildegardt Whites gespeel wat veral bekend vir haar rol as Bonita Basson in die geliefde 7de Laan was. Die aktrise het vir haar opwindende nuwe rol spesiaal Kaap toe verhuis en sy bly daar saam met haar musikant-man, Kuba Silkiewicz, en hul seuntjie, Miles.

Lily is anders as Bonita – sy is pret, lekker, interessant en regtig ’n wildflower. Sy is tog opreg en staan sterk in wie sy is. Sy is mal oor haar mense en die plaas,” vertel Hildegardt.

Sal Lily ooit die waarheid praat oor hoekom sy gevlug het?

Karlien Meiring het meer by Hildegardt oor haar nuwe avontuur in die Kaap en haar rol in Skemergrond gaan uitvind.

Hoe was die oorgang van Johannesburg na Kaapstad? Wat mis jy die meeste en wat geniet jy die meeste van jou nuwe stad?

Toe hulle verlede jaar in Julie vir ons gesê het dat 7de Laan klaarmaak, het ek al besluit ek trek Kaap toe. Ek het net ’n verandering nodig gehad. Ek is heeltemal verlief op die Kaap, die lewe is net anders hier. Dis nie so gejaagd nie en dis so mooi! Ons skiet ook op die mooiste plase, dis vir my so spesiaal om deel van Skemergrond te wees. Ek mis natuurlik Johannesburg en my mense, maar ek maak nuwe maatjies hier in die Kaap en dis wonderlik om ná al die jare weer naby my familie te wees!

Kan jy vir ons ’n bietjie vertel van Lily se karakter en haar rol in die Louw-familie?

Lily is die jongste dogter van JP en Jasmine Louw. Lily het, sonder om ’n woord te sê,  gevlug toe sy 16 jaar oud was en nooit van haar laat hoor nie. Sy is ’n reisiger, ek noem haar ’n wildflower, want soos ’n dandelion, gaan sy waar die wind haar waai. Met Lily weet ’n mens nooit nie, haha! Sy is ook baie eiewys by tye, maar sy staan sterk en baklei vir haar familie wanneer sy moet. Sy het ook ’n dogter, Amber, waarvoor sy enigiets sal doen.

Wat gaan kykers in die komende episodes sien wat jou opgewonde maak?

Lily kom met haar eie bagasie! Ek kan nie wag vir die kykers om haar te leer ken nie. Hulle praat nou al so lank van haar en hier maak sy uiteindelik haar opwagting …

Wat hoop jy sal kykers oor familie en verhoudings leer deur na Skemergrond te kyk?

Dat kommunikasie baie belangrik is. Ek hoop kykers sien hoe nodig dit is om om ’n tafel te sit en met mekaar te gesels. Ons moet teenwoordig en eerlik met ons families wees, en geloof en vertroue in mekaar hê. Die tema van vertroue kom definitief deur in Skemergrond.

Hoe ontspan jy ná verfilming? Watter reekse geniet jý op die oomblik?

Ek bring baie tyd buite deur. Die Kaap is so mooi en daar is so baie om te doen. Wanneer ek nie skiet nie, is ek saam met my familie – hulle is my alles. Vir twee jaar het ek in Johannesburg en my man in die Kaap gewerk, so dis vir my so spesiaal dat ons as ’n gesin tyd saam kan deurbring. Ons bak en brou en kleur in. My seuntjie is ’n adventurer, so ons is gereeld buite.

As dit by reekse kom, is ek versot op Bridgerton! Hoe mooi is dit? My ander gunsteling-reeks is The Diplomat en Lincoln Lawyer. En dan kan ek nie wag vir Emily in Paris se nuwe seisoen nie, die mode is op ’n ander vlak!

Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Jana Kruger oor ‘Een keer om die son’ se komplekse Lani

Skemergrond is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) te sien en is ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar.

Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die legendariese Laurika Rauch – oor haar nuwe musiek

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Hawermoutkoekies met sjokoladesplinters

Bak hierdie koekies vir die vakansiekoekblikke. Die hawermout verlaag die GI van die koekies sodat…

11 hours Gelede

Word die ‘miljoenrandvraag’ dié lente op kykNET beantwoord?

Is dit ’n kwessie van “heerlike lente” vir vasvraprogram-foendies wanneer Wie word ’n Miljoenêr? in…

11 hours Gelede

14 redes hoekom jy sleg slaap en wat jy daaraan kan doen

Dis somer, en nou slaap jy nog slegter. Wat alles kan jou wakker hou, en…

1 day Gelede

Ateljeenessies – hoe om die meeste uit jou klein spasie te kry

Daar is uitdagende ontwerpe en dan is daar die uitdaging van ’n ateljee-woonplek! Hoe pas…

1 day Gelede

Marinda Engelbrecht se tjipshoender

Haar resepteboek Marinda se koskas bevat resepte vir lipleklekker kos wat jy in ’n japtrap kan…

1 day Gelede

‘Een keer om die son’: Tekens dat jou maat dalk ontrou is

In vanaand se episode van Een keer om die son soek Ruan antwoorde by Lani…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.