kategorieë: Ons menseBekendes

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Chereé oor haar terugkeer na countrymusiek

Ná meer as twee dekades in die musiekbedryf is Chereé terug in die kollig met die uitreiking van ’n splinternuwe enkelsnit, “Another day”, die eerste vrystelling vanaf haar langverwagte album met dieselfde naam.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Haar jongste album is ’n nuwe hoofstuk in die sangeres se loopbaan, sowel as ’n persoonlike reis terug na haar liefde vir countrymusiek, ’n genre wat sy nog altyd koester.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Hierdie album is regtig another day vir my. Dit is die begin van my reis terug na my wortels, terug na my eerste liefde vir musiek. Ek het my stem weer gevind, en ek het ’n storie om te vertel,” vertel sy.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Foto: Silver Dune Photography

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

As kind in ’n musikale gesin, is sy aan country-legendes, soos Dolly Parton en Patsy Cline, sowel as Faith Hill en Deana Carter, blootgestel. Dit is hierdie verbintenis met die emosionele diepte en eenvoud van country-musiek wat sy graag met haar aanhangers wil deel.

Oor die jare, het Chereé verskeie Afrikaanse treffers gehad, waaronder “30 dae in die somer” en “Prins van die geweste”, en dit was veral met haar album, Wilde Waters, wat sy haar stempel in die musiekbedryf afgedruk het deur Afrikaanse en country-invloede te kombineer.
Tog, ten spyte van haar sukses, het sy altyd die roepstem van countrymusiek gevoel, ’n genre wat ’n konstante in haar lewe was. “My aanhoudende begeerte om countrymusiek te sing, het my nooit verlaat nie,” erken sy. “Dit was ’n droom wat nie wou vervaag nie, en nou is dit ’n droom wat waar geword het.”

Volgens Chereé is “Another day” vir haar meer as net ’n liedjie – dis ’n opsomming van haar as kunstenaar. Die lied weerspieël die temas van liefde, verlies, hoop, en geloof – iets waarmee sy persoonlik kan vereenselwig.

“Ek het die afgelope paar jaar my sangloopbaan op die agtergrond geskuif om op ander dinge te fokus en baie tyd saam met my kinders, Tally en Bella, deurgebring, maar ek het altyd gehoop en bid dat ek weer die geleentheid sou kry om goeie musiek te maak.”

Nadat haar pad onlangs toevallig met dié van Sunette Bridges, ’n country-liefhebber met soortgelyke lewenservaring – gekruis het, het hulle besluit om hierdie projek saam aan te pak.

“Dit was ’n droom wat waar geword het om saam met Sunette te werk en om die eerste kunstenaar te wees wat by haar platemaatskappy, Rivers & Bridges Music, geteken te word,” deel sy. “Ek is ongelooflik trots dat dit die eerste album is wat deur ’n vrou in ons bedryf vervaardig is.”

Die eindresultaat is ’n versameling liedjies wat nie net die tradisionele klanke van countrymusiek vier nie, maar ook ’n moderne kinkel aan die genre bied.

“Ek is verlief op die suiwerheid van countrymusiek,” sê sy. “Dit praat van familie, liefde, vreugde, hartseer, en genesing, en dit is die stories wat ek wil vertel.”

Foto: Silver Dune Photography

Karlien Meiring het meer oor haar musikale terugkeer gaan uitvind.

Wat hoop jy sal luisteraars ervaar wanneer hulle na jou nuwe album luister?

Ek hoop dat elkeen wat na die liedjies luister iets daaruit kan neem en dat die woorde hulle sal raak en inspireer. Ons is storievertellers. Ons sing oor liefde, geluk, hartseer en hoop.

Al die liedjies spreek dinge aan waarmee miljoene mense elke dag worstel en as musikant (ek) en liedjieskrywer (Sunette) het ons die voorreg om met mense se harte te praat. Dit is kragtig! Ek is bevoorreg dat ek my stemopnames in my eie ateljee kon doen sonder die druk van tyd en begrotings, so ek kon my hart uitsing om seker te maak dat ek net my beste gee. Ek en Sunette het ons hart en siel in hierdie projek gesit en ons hoop die luisteraars ervaar dit.

Wat is dit van countrymusiek wat jou nog altyd so diep aangetrek het?

Die eerste liedjie waarop ek verlief geraak het, is Patsy Cline se “Crazy”. Ek dink dit was haar diep, fluweelstem wat my aangegryp het, maar ook die rou emosie van die liedjie. Die stories wat countryliedjies vertel, is vir my so mooi. Dis nie net woorde of lirieke wat rym nie, dis regte mense se lewensverhale. Countrymusiek praat met my hart. Dis soos Koos du Plessis se lirieke, maar in Engels.

Is jou dogters ook musikaal? Dink jy hulle het dalk jou en jou man se liefde vir musiek geërf?

Albei ons dogters is musikaal en hulle het beslis hul talente by ons geërf! Musiek is in jou are en ek en Wynand het ’n ryk familiegeskiedenis vol musikante. Aan Wynand se kant is sy ma familie van Cupido, Alan Ladd en Koos van der Merwe, en my pa was ’n baskitaarspeler.

Musiek is al deel van my en my gesinslewe vandat ek gebore is. Ons kinders het dieselfde lewe – daar is musiek oral in ons huis en lewe. Ons huis sing en dans en tot slaaptyd is daar nie ’n oomblik van stilte nie. Musiek is ’n baie spesiale gawe en soos my ma my altyd aangemoedig het om hierdie Godgegewe talent te gebruik, doen ek en Wynand dieselfde met ons kinders. Ek weet nie wat die toekoms vir hulle inhou en of dit ’n loopbaan in musiek sal wees nie, maar as dit is, sal ek hulle volkome ondersteun.

Wat is vir jou die waardevolste lewenslesse wat jy graag aan jou dogters wil oordra?

Die belangrikste les wat ek my kinders wil leer, is dat hulle nooit deur ander se opinies ontspoor moet word nie en om hul eie waarde te ken. En om ná aan God te leef sodat Hy hul paaie kan rig. As ouers het ons die grondslag gebou van hoe om ’n goeie mens te wees en altyd in die lig te wandel en ander mense met liefde en respek te hanteer, maar ons het hulle ook geleer dat daar miljoene mense in hierdie wêreld is en hulle nie almal kan gelukkig maak nie. Hulle moet voluit leef en altyd uniek bly!

Wanneer julle as gesin tyd saam deurbring, watter aktiwiteite geniet julle die meeste?

Dit is vir ons gesin die lekkerste om net saam by die huis te wees. Op Sondae braai Wynand en ek en die meisiekinders hou ons besig met allerhande dinge terwyl die musiek lekker hard op die agtergrond speel. Ons kyk graag saam flieks met ons kinders knus op ons skoot, almal toe onder een kombers. Ek koester hierdie tye, want hulle word nou vinnig groot – hulle is al 11 en 13! Dis ook lekker dat hulle nou oud genoeg is om saam met ons na feeste en vertonings toe te gaan. Hulle kry die geleentheid om ons lewe op die pad te ervaar. Daardie tyd saam is kosbaar vir ons.

“Another day” is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier.

Lees ook: KYK: Mia le Roux se mooiste uitrustings by Mej. Heelal +hoe om vir haar te stem!

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

ONS KYK TERUG: Verlede jaar se naaswenners van ons ma-en dogter-kompetisie

Deur Rentia Mynhardt. Foto’s: Verskaf   Om ma en dogter op papier te wees is…

1 hour Gelede

10 dinge wat met jou vel gebeur soos wat jy ouer word

Oudword is onvermydelik. Dit is dus belangrik om voorbereid te wees op wat kom deur…

19 hours Gelede

Wanneer seks seer is… | Wat is die oorsake en behandelingsmoontlikhede?

Deur Mariette Snyman       “Pynlike seks is ongelukkig iets wat ek daagliks in die…

20 hours Gelede

Koop MSI se terug-skool-toe-aanbiedinge!

    Koop MSI se terug-skool-toe-aanbiedinge hier!     Modern 14 F13MG      Kleinhandelaar:…

1 day Gelede

Bernice West oor ouerskap: ‘Daar is nie woorde nie…’

Foto's: Instagram/Bernice West   Die Suid-Afrikaanse sangeres Bernice West en haar man, Jannes Erasmus, het…

2 days Gelede

5 vinnige visresepte vir aandete

Aan die einde van ’n lang dag het mens nie lus vir ure voor die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.