kategorieë: Ons menseBekendes

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Beer Adriaanse oor ‘Niggies’ en sy intensste rol nóg

Die ontvoering en moord van twee 12-jarige meisies in 1966 op die Vrystaatse dorpie Odendaalsrus het die gemeenskap en land geskok. Maar vir Issie Fourie se broer, André, was die tragedie nie net ’n koerantopskrif nie – dit was ’n lewenslange soektog na geregtigheid wat hom byna twee dekades sou kos. Hierdie ware verhaal word nou in die nuwe misdaaddrama Niggies, vertel, met Beer Adriaanse in die rol van die volwasse André.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Van die bekendste name in teater, film en TV in Suid-Afrika is deel van Niggies se rolverdeling en die regisseur is die veelbekroonde Jaco Bouwer. Die kykNET-reeks strek oor die jare sestig en tagtig en plaas hierdie traumatiese gebeure in die groter konteks van Suid-Afrika se geskiedenis.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Beer, bekend vir sy rolle in Wonderlus, Kanarie, Hotel en Taktiek, neem hierdie uitdagende karakter aan en help om ’n storie te vertel wat steeds diep resoneer in ’n land waar geweld en verlies dikwels generasies lank eggo.

Maar hoekom bly hierdie storie so relevant?

“Alle Suid-Afrikaners is deurlopend besig om die verlede te probeer verwerk. Nes met die familie in Niggies, het meeste van ons ook tragedies in ons families. Suid-Afrika het ’n bogemiddelde hoeveelheid mense wat al geweld ervaar het. Mens kan net hoop dat ons benadering, asook die ware verhaal, met mense resoneer,” vertel Beer.

Karlien Meiring het meer oor Beer se rol in Niggies en sy ervaring op stel gaan uitvind.

Met al die ongelooflike akteurs in Niggies was daar iemand op stel wat jou veral geïnspireer het of wie se spel jou beïndruk het?

Dit was soos om week vir week in ’n meestersklas te sit. Die eerste week was Kristen Raath, wat my vrou, Ria, vertolk. Ons het nie mekaar vooraf geken nie en is dadelik in die diep kant ingegooi. Sy het met ’n ongelooflike vrygewigheid opgedaag en haar spel het daai deel van André se storie totaal in werklikheid gevestig.

Toe was dit Carel Nel, my ou vriend en huidige buurman. Ons het nog nooit saam gespeel nie, en ek het ongelooflik baie by hom geleer oor hoe om ’n karakter van die grond af op te bou. Saam is ons, in karakter, deur ongelooflik baie sigarette en tabak. Carel is ongelooflik noukeurig met elke gebaar, elke rekwisiet en elke woord. Vir my, wat gewoonlik net inspring en met die impulse rol, was dit ’n openbaring. Veral toe Jana Kruger, byna onherkenbaar, ook by ons aansluit.

Ek kan nie veel oor die res sê sonder om die storie weg te gee nie, maar my tyd in die tronk was net so leersaam. Jaco het my met ’n spul gesoute manne omring, wat nogals vreesaanjaend was. Elke toneel was egter soos om met een van my gunsteling-akteurs te werk. Om te sien hoe akteurs van my ouderdom veel ouer karakters uitbeeld, was ’n rare ervaring en besonderse plesier. Wat my veral beïndruk het, was hoe elkeen gekies het om die gewig van hul trauma te dra. Die jong spul het my weer beïndruk met hoe gedrewe hulle opgedaag het en hoe oop hulle was om die proses te eer.

Lees ook: KYK | Niggies se sterbelaaide rolverdeling bekend!

Jy is bekend vir jou werk in komedie, maar jy het ook al diep, ernstige rolle vertolk. Watter een is vir jou die mees lonende rol?

Hoewel die eindproduk nie noodwendig so lyk nie, benader ’n mens albei op dieselfde manier. Komedie werk gewoonlik nie as ’n mens die humor probeer speel nie. So ook drama. As kyker reageer ek slegs op akteurs wat een of ander waarheid agter die genre raakboor. As akteur geniet ek die uitdaging om na die waarheid te beur. Ek het wel nog nie iemand soos André vertolk nie, en vrees dus tans dat die uitdaging my ore aangesit het.

Wat het hierdie projek vir jou as akteur beteken, en is daar iets wat jy uit die ervaring na jou volgende projekte saamneem?

Ek het redelik laat en totaal per ongeluk ’n akteur geword. Aangesien ek vantevore ’n tromspeler sonder musiekopleiding was, het ek tot dusver met toneelspel merendeels net my instinkte gevolg. Om egter met sulke talente te werk, het vir my gewys dat toneelspel, soos skrynwerk of argitektuur, nie net impulse en improvisasie is nie, maar ’n ware ambag waar kennis en voorbereiding  tot nuwe dieptes lei. Ek voel dus asof ek ’n nuwe horison het om na toe te mik.

Hoe was dit om onder die regisseur, Jaco Bouwer, se leiding te werk en wat het jou die meeste beïndruk?

Jaco gee nie veel notas nie, wat ’n mens soms in jouself laat twyfel, tot jy besef hy vertrou jou en tree definitief in as iets nie reg is nie. Dit laat ’n mens baie vry voel om te eksperimenteer en jou instink te volg. Aangesien ek ’n aanhanger van sy werk is, vertrou ek hom ook dat wat ook al ons skiet iets anders gaan wees. Dis baie bevrydend om met ’n regisseur te werk, wat weet wat hy wil hê. Ek was beïndruk met sy toewyding aan sy visie, veral omdat dit verg dat hy en sy hele span langer en harder moet werk om dit uit te voer.

Wat is die een vraag wat jy nog nooit in ’n onderhoud gevra is nie, maar graag sou wou hê iemand moes vra?

Niemand het my al gevra watter Suid-Afrikaner ek graag sou wou vertolk nie. Ek is versot op die jare sestig en my antwoord sal dus Breyten Breytenbach wees. Ek en my verloofde (die aktrise Carla Smith) spot egter gereeld dat as sy gelukkig genoeg is om Ingrid Jonker te speel, sal ek eerder, weens my ouderdom, vir Jan Rabie moet skik. Ongelukkig lyk Carel Nel meer soos Jan Rabie, so dan sal ek Uys Krige moet vertolk, maar Neels van Jaarsveld het hom reeds onverbeterlik in ’n toneelstuk vertolk. Ek sal seker moet skik vir ’n afleweringsman wat ’n boks digbundels by Ingrid se huis kom aflaai en slegs in een toneel is.

Niggies begin Dinsdag 25 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

KYK | Niggies se lokprent

Lees ook: KYK | Natasha Joubert deel foto’s van sprokiestroue!

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Hou groen vakansie

Volhoubare, verantwoordelike toerisme is in die hande van elkeen wat soms ’n wegkomkans kry. Soek…

12 hours Gelede

Tiramisu

Genoeg vir 4. Bestanddele   3 ekstragroot eiergele 30 g strooisuiker 5 ml (1 t)…

12 hours Gelede

6 wenke vir mondhigiëne waarvan jy nie weet nie

Ons skoonheidsdirekteur het onlangs die indrukwekkende Enamel Clinic besoek en een of twee dinge geleer…

13 hours Gelede

Beestong-broodjie

Kook weer soos Ouma. Hierdie beestong-broodjie is ’n staatmaker! Deur Vickie de Beer. Foto deur…

15 hours Gelede

Beetslaai met bokmelkkaas

’n Verfrissende slaai met roket, bronkers, beet, bokmelkkaas, rooi uie en balsemiekasyn. Deur Vickie de…

16 hours Gelede

Piesangbrood

Hierdie piesangbrood hou ’n hele paar dae omdat dit so sag en klam is.

16 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.