Bestanddele
- 1 hoeveelheid basiese soet deeg (resep onder)
- 250 g mascarpone<
- 2 rolletjies (100 g elk) sagte bokmelkkaas
- 3 vars vye, middeldeur gesny
- 30 ml heuning, effens warm gemaak
Basiese soet deeg
Een maklike soet deeg vir drie lekker idees. Ons het die deeg twee keer gemaak vir al ons piekniektertjies. Die deeg vries ook baie goed. (Resep uit “Bakes” deur Tina Bester)
- 225 g botter
- 200 g strooisuiker
- 2 groot eiers
- 500 g meel
Metode
Voorverhit die oond tot 200 °C.
- Jy het ses 10 cm quiche-pannetjies met los bome nodig.
- Rol die deeg dun uit op ’n skoon, meelbestrooide werkvlak.
- Voer die pannetjies met die deeg uit. Prik die boom en voer die pannetjies met bakpapier uit.
- Strooi rys, of droëbone op die bakpapier en bak die tertkorse vir 10 min. blind tot strooikleurig.
- Haal uit en lig die papier met die rys versigtig op. Meng die kase en vul elke tertjie daarmee.
- Roer die heuning deur die vye en sit ’n halwe vytjie op elke tertjie.
- Bak vir nog 10 min.
Basiese soet deeg
- Meng die botter en suiker goed in ’n voedselverwerker. Voeg die eiers een vir een by terwyl die masjien aan is.
- Voeg die meel by en meng tot dit net begin bymekaarkom. Keer op ’n skoon, meelbestrooide werkvlak uit.
- Druk die deeg met jou hande bymekaar en vorm in ’n plat skyf.
- Draai goed toe met kleefplastiek en laat vir 30 min. in die yskas rus. (Jy kan die deeg ook in die stadium vries.)