kategorieë: Lees

Vuurdoop

Vuurdoop

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Jan Coning sit vas. Tussen twee vure. Geknyptang, dís wat hy is.
Die vure wat hom so laat sweet, het albei sagte vleisies en gevoelvolle vingers en koop hulle klere by die vroueafdeling van groot winkels, of by boetieks, of waar vroumense ook al hul goedjies gaan uitgrawe.
En dan foeter hul name ook nog sy kop deurmekaar.
Marie-Tinka. Jan skuif senuagtig op sy stoel.
Marie-Tinka en Mary May.
Iewers het iemand sy mes in vir hom. Hoe anders gebeur dit dat ’n wetsgehoorsame burger soos hy, wat meestal die smalle weg bewandel en net af en toe éffentjies afwyk van die goeie sedes wat hy aan moedersknie geleer het, ’n dubbele klap van die noodlot kry?
Twee vroumense op een dag. Twee welgevormde figure wat albei sy hart oploop jaag, sy kop laat draai en sy gemaklike alleenloperbestaan bedreig.
Nee, hemel. Sy ma het sweerlik hiervoor gebid.
Asof hy haar naam die eter ingestuur het, lui sy sel. Sy sug val ’n ent verder op die woonkamermat.
“Hallo, Ma.”
“Naand, Jan. Wat klink jy so afgehaal?”
“Net moeg, Ma. Dit was ’n lang dag.”
“En?”
”Ek is moeg.”
“H’m. Jy steek iets vir my weg. Toemaar, ek sal nie karring nie. Wou net hoor of jy volgende naweek plaas toe kom. Ons slag.”
”Ek weet nie, Ma. Ek … dalk moet ek werk.”
”Pa het jou nodig, hy word nie jonger nie.”
”Ek sal laat weet, Ma.”
”Nou toe dan. Mooi bly, my kind.”
Jan bly allesbehalwe mooi. Teen halftwaalf lê hy steeds wakker. Middernag tik verby, en hy lig sy lyf uit die bed.
In die kombuis kry hy alles bymekaar: die kissie kwepers, suiker, flesse, sy ma se dikboomkastrol. Terwyl die koffiemasjien snork, begin hy die ontoegeeflike vrugte skil.
Teen die tyd dat die kweperskywe blink in die suikerstroop lê, weet Jan dat hy dié ding in die oog moet kyk. Hy’t verniet gedink hy’s immuun. Die muur wat hy sedert Helena om hom gebou het, het in die laaste 24 uur gekraak.
Helena, mooie Helena, swartoog van die fynste porselein. Hoe kon die vrou wat hom laat so gloei het, so koud van binne wees?
En hoe kon ’n rooikopmeisiekind met ’n spykerkuif en ’n attitude hom op ’n gewone weeksoggend onkant betrap? My magtag, hy was nie eens tien minute in haar geselskap nie. Sy’t met ’n wipstappie en ’n groot glimlag na hom toe gekom waar hy agter die stuur gesit en wag het om sy motor vir ’n diens af te gee. ’n Vroumens in dié pos? het hy nog gefrons. Sy’t om die Audi geloop, ’n paar vrae gevra, hom die vorm laat teken en toe skaamteloos na sy ringvinger geloer.
“Ongetroud?”
“Ja.” Jan se keel was droog.
“Iemand spesiaal?”
“Nee.” Hy het gesluk.
“H’m. Ek is Marie-Tinka, en ek is in kantoorure hier by Prinsloo’s. Jy het die nommer. As jy wil, kan ons dalk … koffie of so … ” Sy het skielik weerloos gelyk en met ’n vingerpunt oor die vlamoranje steen in haar kuiltjie gestreel sodat sy oë onmiddellik laer af wou dwing. Hy kon sweer sy het dit gesien. Met ’n lig van die ken was haar selfvertroue terug.
Hy het hom stamelend uit die voete gemaak.
Toe, enkele ure later, die ontmoeting met Mary May. Daaraan wil hy nie eens dink nie.
Jan gooi ’n vadoek oor die skotteltjie skille wat smag om wildewingerdrooi kweperjellie te word. Daar’s skaars drie uur se slaap oor. Wat gaan sy kollegas van sy hangogies sê?
En wat sou hulle dink as hulle moes weet hoe Jan Syferkoning snags sy demone in ’n meenthuiskombuis besweer?
Hy glimlag wrang. Hulle spot hom reeds met “stille waters, diepe grond”. Min weet hulle: onder draai die versoeking rond …
Die volgende oggend kry Jan die webtuiste van die plaaslike simfonieorkes sonder slag of stoot. Hy kliek op “musikante”. Daar’s sy: Mary May Hume, tweede violis. Hy glimlag van oor tot oor.
Hy leun terug in sy kantoorstoel en maak sy oë toe. Hy sien haar soos sy gister voor die winkelrak gehuiwer het: vioolkas in die hand, vingers wat ’n paar haarslierte agter haar oor invee, ligpers blommetjieslap wat om haar enkels swaai en bolangs in sagte voue oor haar rondings val. Hy het vasgenael bly staan.
Toe kyk sy op en betrap hom op heterdaad. Hy’t vervaard die naaste boks pap in sy mandjie gelaai.
Natuurlik moes hy, swetend en siende blind, by die kasregister beland waar “slegs kontant” groot geskryf staan. “Twee en veertig rand sewentig sent, asseblief,” het die kassiere gesê, en daar staan hy met net ’n kredietkaart
en twee tienrandnote in sy sak.
Toe hy magteloos probeer verduidelik, het ’n fyn hand dertig rand na hom uitgehou. Sy mond het oop en toe gegaan.
“Vat dit,” het sy met ’n sweem van ’n Engelse aksent gesê.
Hy het eenkant gewag tot sy klaar betaal het, probeer dankie sê en vrae gevra. “Mary May” is al wat hy uit haar kon kry. Sy wou nie verklap waar sy bly of waar sy werk nie. Die dertig rand kon hy maar hou.
“Jan?”
Dis een van die vennote met ’n dokument in sy hand. Jan probeer nie eens verduidelik nie.
Saterdagaand spoel die note van Ravelse Klavierconcerto in G helder deur die saal. Jan het vrede met die vermaarde pianis. Hy rek sy nek om die orkes beter te kan sien.
Verduiwels. Hy’t gekom om hom deur die vollyfvisioen van ’n aanvallige violis te laat meevoer, maar van waar hy sit, is net Mary May se kop en ’n stukkie van haar bolyf sigbaar. Dié is kuis in swart gehul, haar hals met ’n kamee toegespeld. Sy is die ene konsentrasie terwyl haar vioolstok oor die snare vlieg, die fokus waarmee sy speel skaars bevorderlik vir ’n romantiese mymering. Wat sy doen, lyk vir hom na wérk.
In die pouse tussen die tweede en derde beweging verskyn ’n reusagtige mot vanuit die niet en vlieg rakelings by Jan se kop verby. Hy ruk soos hy skrik. Die vrou langs hom gee hom ’n afkeurende kyk. Asof dit sy skuld is dat lewende hawe in die konsertsaal hou!
Skielik verlang hy na stilte, beweegruimte en ’n bier. Ongevraag kom ’n paar heupe met ’n parmantige swaaistappie by hom op. Marie-Tinka sit sweerlik nie vanaand na ’n simfonieorkes en luister nie. Meisies soos sy het pret.
Jan voel hoe ’n amper vergete gloed deur sy lyf begin sprei. Hy sien weer haar oë, voel weer die opwinding, die ongemak. Wanneer laas het iemand op dáárdie manier na hom gekyk? Iemand wat lyk asof sy weet hoe om ’n man …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die applous ruk hom na die werklikheid terug. Op die verhoog lyk Mary May vreemd en ver. Wat is dit tog met hom? Sy’t dit duidelik laat blyk dat nie hy of sy attensies welkom is nie. Wil hy ’n herhaling van die Helena-hoofstuk hê?
Jan ry deur leë strate terug na sy donker huis.
Marie-Tinka is begeerliker as wat hy onthou, kom Jan vroeg die volgende week agter. En sy’t ’n tong van vuur. Almal loop deur: die regering, die koerante, die motorbedryf, en mans. Veral mans. Hy bespeur opvallende plesier in die manier waarop sy teen hulle te velde trek.
Dan, skielik, sonder waarskuwing, kry sy ’n kleindogtertjiekyk wat iets in hom week laat word, hom lus maak om haar in sy arms toe te vou. Maar hy waag dit nie.
Die eerste aand eet hulle by ’n Italiaanse plekkie waar sy stukkies seekat genoeglik uit haar seekospasta pik en haar vingers moedswillig aan sy servet afvee.
Die tweede keer gaan hulle fliek, ’n romantiese komedie oor ’n man wat twee liefdes aan ’n lyntjie hou en amper met sy lewe daarvoor boet. Marie-Tinka leun warm teen hom aan en speel allerhande speletjies met sy hand. Asof dit nie genoeg is nie, kry hy ’n nagsoen by haar voordeur wat hom in ’n dwaal laat huis toe ry en hom tot in die nanag wakker hou.
Toe hy eindelik aan die slaap raak, droom hy rusteloos. Met die wakkerwordslag is sy eerste gedagte aan Mary May.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jan sug. Wanneer sy ma só na hom kyk, weet hy hier kom moeilikheid. Maak nie saak dat hy dag lank help slag het en nou blink geskrop hier aan tafel sit nie. En Pa sal hom nie te hulp kom nie, net sy kos eet en die gesprek volg soos hy altyd maak.
“Jy’t ons nog nie vertel nie, Jan.”
“Wat bedoel Ma nou?”
“Hoekom jy so anders lyk.”
“Hoe … anders?”
Die opskeplepel kom bo die stoweboontjies tot stilstand. Sy kyk verwytend na hom. “Jy weet goed waarvan ek praat. Daar’s weer iemand op die horison.”
“Ma … ”
“Moenie my ‘Ma’ nie. Ek ken jou. Dis twee jaar sedert Helena, en jy’t weer daai trek op jou gesig. Maar dié keer is dit anders. Daar is iets wat jou pla.”
Die bord kos waarna Jan so uitgesien het, lyk skielik na droë gras. “Ek wil nie daaroor praat nie.”
“Ek het so gedag.” Sy sug. “Dis nie dat ek wil inmeng nie, Jan, dis net – as daar moeilikheid is, moet jy sê.”
”Watse moeilikheid?”
“My kind … ” Sy kyk vinnig na sy pa.
“Ek dink Ma praat van die ding met Lourens, Jan.”
“My magtag, Ma! Ek is nie Lourens nie. Ek … ”
Jan stoot sy stoel agteruit. Hoe kán sy, hoe kan sy eens daaraan dínk dat hy …
Hy hoor hoe sy na hom roep toe hy die kamerdeur toeklap.
Teen dagbreek is Jan op die rantjie. Hy kies vanself koers na die plek waar hy en Lourens kleintyd gespeel het, waar hulle klip vir klip die fort gebou het. Met ’n sug leun hy teen die oorblyfsels aan.
Hul kinderjare het verbygevlieg. Jan is eers weg om te gaan studeer, toe Lourens. Hul paaie het uitmekaar geloop. Lourens het hard geleef. Die stad het in sy bloed gaan sit.
Hy het al hoe minder plaas toe gekom. Wanneer hy wel kom kuier het, het Ma hom teen die meisie gewaarsku. Ma het nog altyd aangevoel wat ander nie eens kon raai nie.
Die meisie was by hom in die motor toe hy verongeluk het. Te vinnig gery, die draai in die pad te laat gesien. Dit gebeur as jy so baie drink.
Wat hulle nooit verwag het nie, was dat die meisie swanger was. Sy was stil by die begrafnis, het haar eenkant gehou. Agterna het haar ma plaas toe gery om hulle van die aborsie te kom sê. Maar die hoofrede vir haar besoek was die verwyt. Hulle moes onthou, áltyd onthou: Lourens Coning het haar kind se lewe verwoes.
Ma was daarna nooit weer dieselfde nie.

Jan breek uit die vurige omhelsing los en hou Marie-Tinka ’n armlengte ver.
Haar oë blits. “Wat is dit nóú met jou?”
Hy soek na woorde. “Marie-Tinka, my ma … ”
“Jou má? Wat de hel het sy hiermee te doen?” Vererg staan sy ’n tree terug.
“Dis,” hy aarsel, “te swaar om te verduidelik.”
Sy gluur ’n antwoord uit hom uit. “My broer – sy meisie het swanger geraak en toe verongeluk hy en … ”
“Jan Coning, in watter eeu leef jy? Wie is nog so simpel om swanger te raak? Ek weet wat ek doen.”
Hy kyk verbouereerd na haar.
“Dalk het jy dit nog nie agtergekom nie,” sis sy, “maar ek weet wat ek wil hê en ek sorg dat ek dit kry. En dit sluit niks in wat my vir ewig gaan bind nie. Ek val nie vir die man-kind-huis-en-picket fence-storie nie. Ek is nié soos my suster nie.”
Sy bly stil en draai haar kop weg.
“Marie-Tinka.” Hy raak sag aan haar arm. “Wat wil jy dan hê?”
Sy draai terug. “Vir my om te weet en vir jou om uit te vind. As jy máns genoeg is daarvoor … ” sê sy betekenisvol en kyk hom uitdagend aan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Dankie dat jy ingestem het om saam troue toe te kom,” sê Jan toe hulle Saterdagmiddag voor die kapelletjie stilhou. “Terwyl jy dit so erg teen die huweliksinstelling het.”
“Ek mis nie ’n goeie paartie nie,” sê Marie-Tinka kortaf.
Jan sug. Dis al dae dat die spanning tussen hulle sit. Snags verwens hy die oervuur in sy lyf wat hom wéér in ’n onwennige vrou se web laat beland het. Sy lok hom nader, tart en terg, maar hy bly bang. Dalk speel sy net ’n speletjie. Dalk is hy die mot en sy die kers. Sodra hy weerloos voor haar staan, naak in sy hunkering, gaan sy begin lag. Vermakerig die vlam uitdoof, en verdwyn.
In Helena, soos in Marie-Tinka, was daar destyds ’n dieper pyn.
In die deur van die kapel steek hy vas. Die stemmige klanke kom van ’n strykkwartet. Oor haar viool buig Mary May, mooier as wat hy haar onthou, haar nek roomwit teen die glimmende hout.
“Wat de … ” loop Marie-Tinka van agter in hom vas. Mary May kyk op. Hy sien die skok op haar gesig. Sy bloos, vat ’n paar note mis en probeer vervaard haar balans herwin.
“Beweeg!” Marie-Tinka pomp Jan in die rug. Sy bene voel lam.
“Toe nou!” Hy sluk. O hemel, hier kom moeilikheid. Hy ken Marie-Tinka. Haar skerp oë mis niks nie.
Terwyl die dominee se stem rustig voortdreun, veg Jan se gevoelens ’n verlore stryd. Die oomblik van waarheid het aangebreek, en hy weet nie watter kant toe nie. Marie-Tinka staar oor haar uit, ’n kontakvrye sone tussen sy lyf en hare. Mary May kyk nie links of regs nie, maar sy lyk soos ’n bokkie wat enige oomblik op die vlug kan slaan.
Dit hét hy nou daarvan, verwyt hy homself. Vasgevang tussen die duiwel en die diep blou see. Marie-Tinka het die gestalte van ’n engel, maar in haar sluimer ’n wegholbrand. Dit wat haar nie aanstaan nie, vee sy met vuur uit haar pad.
Is dít wat hy begeer? ’n Vrou wat die wil uit hom gaan skroei? Mary May, aan die ander kant, is onpeilbaar soos die see. Sy lok hom op ’n onverklaarbare manier. Hy wil haar uit haar skuilplek gaan haal, spoorsny agter nuwe dinge aan, dinge wat hy nie ken nie, dinge wat talm soos note.
Maar Mary May is bang. Sy sal hom moet sien kom.
En wie sê ooit sy wil?
Dalk is dit klaar verby. Dalk is hy albei kwyt.
Jan sug, en sien toe hoe Mary May in sy rigting loer.
Ná die onthaal wag Marie-Tinka skaars dat hy die motordeur toeklap en wegtrek. “Wat is dit met jou en haar?”
“Ons het mekaar een keer gesien. Skrams gesien.”
“O. En dit moet ek nou glo. Moenie lieg nie, Jan. Jou lyf het gepraat.”
“Marie-Tinka … ” Hy maak ’n hulpelose gebaar.
“Dis hoekom jy nie voluit vir my wou gaan nie. Sy was die hele tyd in jou kop.”
“Dis nie waar nie … ” Genade tog, hoe moet hy hieruit kom?
“Julle is álmal dieselfde. Almal!” Hy sien hoe haar oë vol trane skiet.
“Marie-Tinka, ek sweer … ” probeer hy wal gooi.
“Sy kan jou kry. Boots and all. Ek was reg – al lyk ’n man hóé ordentlik, dis nooit … ”
Die kilometers rol in stilte verby.
“Ek was nooit by haar nie,” sê Jan toe hy voor Marie-Tinka se woonstel stilhou.
Sy kyk hom aan met die oë van ’n veel ouer vrou. Haar vuur het verdwyn. “Ek glo jou.” Sy sug. “Ons pas nie, Jan. Ek het dit geweet.”
Sy maak die deur oop, draai toe terug. “Trust my, sy hou van jou.”
Die volgende oomblik is sy weg.
By die huis het Jan nie rus of duurte nie. Die meenthuis se mure vou hom toe. Skielik onthou hy. Hy vlieg na die motorhuis, pluk die Audi se deur oop en gryp na die trouprogram. Hy was reg: “Musiek verskaf deur die Angel Strings-kwartet. Kontakpersoon: Mary May Hume.” Haar selnommer gloei behoorlik op die papier.
Minute later is Jan op pad, ’n fles kweperskywe op die passasiersitplek.
Sy selfoon lui. Hy loer na die skerm en glimlag breed.
“Hallo, Ma! Hoe gaan dit? … Nee, ek het nie die lotto gewen nie, maar ek hét iets om Ma te vertel …

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

2 days Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

2 days Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

2 days Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

2 days Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.