Toe my dogtertjie vyf was, het sy een aand ná ons oor die Skeppingsverhaal gesels het, skielik ’n gloeilampie-oomblik gehad.
“Ah! So dís hoekom Boetie so vuil van die rugbyveld af kom en ek is nog mooi skoon na netbal? Seuntjies is van stof gemaak en ons van ribbebene … Nóú verstaan ek!”
So het hierdie ma al die tyd gedink die “skoner geslag” verwys na skoonheid, maar daar het ek dit toe uit die voorskoolse skoonlief se bekkie.
Hoe dit ookal sy, die maand waarin die deugde van die skoner geslag tradisioneel gevier word, het aangebreek. Vir die meeste van ons is Augustus egter maar net nóg ’n maand in die winter, boonop in ’n baie bedrywige derde skoolkwartaal. Die wortel voor die neus is darem ’n vakansiedag op 9 Augustus waar van ons ’n bietjie later kan lê as ander gewone weeksoggende.
Die meeste vroue wat gewoonlik op openbare vakansiedae werk, sal egter soos altyd volgende Woensdag vroegoggend steeds werk toe vertrek en die ander sal dalk die kans gebruik om solank die huis reg te ruk na die naweek en Maandag en te sorg dat die klere- en koskas gepak en die benodighede gekoop is vir die res van die week.
Maar, wat is Vrouedag en watter rol speel dit nou, drie-en-twintig jaar nadat dit die eerste keer in ons land gevier is?
Volgens Wikipedia is Nasionale Vrouedag ’n “openbare vakansiedag wat jaarliks op 9 Augustus in Suid-Afrika gevier word. Die eerste Nasionale Vrouedag het op 9 Augustus 1994 plaasgevind. Die dag gedenk die nasionale optog van vroue op hierdie dag in 1956 om petisie aan te teken teen wetgewing wat Afrikane verplig het om ’n pas te dra. Die pas is ’n spesiale dokument wat die beweging van swartmense gedurende die apartheidsera beperk het om sodoende die wit woongebiede te beveilig.”
Vrouedag in ons land is dus ’n instelling van die demokratiese regering wat in 1994 tot stand gekom het. Dit gedenk die rol wat vroue gespeel het om die mure af te breek wat in ’n vorige bedeling onderskeid getref het tussen mense op grond van ras.
Wat is Vrouedag en watter rol speel dit nou, drie-en-twintig jaar nadat dit die eerste keer in ons land gevier is?
Maar, wat dan nou van die vroue wat nie aan hierdie optog deelgeneem het of hoef deel te geneem het nie aangesien hulle ook maar net gebore is in ’n land waar besluitmakers reeds hulle besluite gemaak het en almal moes inval – of betoog?
Daar word dikwels gemor oor al die openbare vakansiedae en die verlammende effek wat dit op die ekonomie en produktiwiteit van die land het. Dus is iets soos Vrouedag met sy politiese konnotasies en viering van een geslag een van die eerstes waaroor gekla word.
Maar, ek wonder of dit nie juis nou, 23 jaar sedert die eerste Vrouedag gevier is en 61 jaar sedert die optog, selfs nóg nodiger is om ’n dag te hê waarop vroue geëer word nie? Want die hartseer realiteit is dat daar in vandag se samelewing ten spyte van beroepsgeleenthede en leierskapsplatforms vir vroue, selfs harder geveg moet word vir gelyke regte en die waardes wat vir ’n gesonde gemeenskap daargestel moet word.
As primêre versorgers van kinders, bejaardes, swakkes wat nie meer na hulself kan omsien nie, en ook mans, verrig talle vroue elke dag ’n ondankbare werk. Dikwels is hierdie vroue enkelouers wat lank voor sonop reeds op is om om te sien na die behoeftes van ander.
Nie alleen is hierdie vroue verantwoordelik vir die fisiese versorging van ander nie, maar hulle is ook die emosionele steunpilare en die bewakers van die sedes in die samelewing. Dit is hulle plig om gesonde gewoontes te kweek en ook as rolmodelle op te tree vir ’n jonger geslag.
En dít is geen maklike taak nie. Vra enige onderwyser hoe dissipline, selfdissipline en morele waardes deesdae verskil van dekades gelede. Daar heers óf ’n nonchalante minagting van ander en ’n “ek verdien dit en dat”-mentaliteit óf ’n woede wat dikwels veroorsaak dat iemand met ’n vuis bygedam word – hetsy agter geslote deure of op die pad.
Vroue word dikwels fisies en emosioneel só mishandel dat dit deel van die norm word en ’n blinde oog gegooi word. Dink maar aan die “Springs-monster” en die kritiek wat daar teenoor sy vrou was wat so lank toegelaat het wat agter die gruwelhuis se mure gebeur het.
Enigeen wat die nuus volg, word daagliks blootgestel aan die vergrype wat selfs die leiers en rolmodelle pleeg teenoor vroue. Ons lewe in ’n land waar die man aan die hoof al jare lank en by verskeie geleenthede vroue met sy woorde en dade minag, waar die hoof van die polisie eerder pornografiese materiaal via sy selfoon versprei as om te sorg vir die veiligheid van vroue en ander landsburgers en waar die media gereeld uitwys hoe die afstootlike optrede van kansvatter manlike gesagsfigure teenoor vroulike kollegas en kennisse dikwels ontken en onder die mat gevee word.
Vroue word dikwels fisies en emosioneel só mishandel dat dit deel van die norm word en ’n blinde oog gegooi word
So baie vroue word weens die voortdurende morele verval ontmagtig om op te staan vir hulle menseregte.
Dit is juis vir hierdie vroue wat ons moet opstaan en sterkstaan en sê: Ons reik uit na jou. Ons sal help om jou te bemagtig. Jy is ’n vrou. Jy is sterk. Jou taak om te versorg, beskerm, ondersteun en volwaardig mens te wees hou nooit op nie. As vrou is jy die gom van die samelewing – jy bind dit en hou dit bymekaar.
Hoe en waar ookal jy volgende week Vrouedag vier, maak seker jy víér dit. Hou op kwaad of skuldig voel oor die onregte van die verlede, want dit is in die verlede. Maar, jy kan sorg dat jy as vrou elke dag só lewe dat jy die hede en die toekoms ’n beter plek maak – vir jouself en jou mense, maar ook vir ander vroue, mans en kinders.
As ons as vroue mekaar ophef, eerder as afbreek, en saamstaan, kan ons mure afbreek en sterker anderkant uitkom.