Vroue is die aanloklikste wesens. Ek ontmoet kwalik ‘n vrou wat my nie op een of ander vlak fassineer nie – elk het ‘n storie, ‘n broosheid, ‘n passie, ‘n verlange, en iewers ‘n stukkie parmantigheid. Party vroue swaai dit soos ‘n vaandel. Ander steek dit baie goed weg.
Die skoonheid van jong meisies is bittersoet, soveel dat dit soms seermaak. Die soet lê in die blink oë, die jeugdige velle en rondings, die ingehoue opwinding, die hoop. Die bitter is die onsekerheid wat hulle blind maak vir hul eie prag.
Ouer vroue het die lewe reeds in hul uitdrukkings en hartkamers geïntegreer. Sommige kan dié deurleefdheid in woorde vertaal en ‘n net van wysheid om jou weef. Ander dra dit net deur lyftaal oor.
Maar oud of jonk – vroue het die vermoë om, wanneer hulle onbedreig voel, ryk konneksies met mekaar te vorm. Dit wissel van gedeelde giggelbuie tot ’n woordelose verstaan. Dalk het dit te doen met die bindingshormoon wat vroue vrystel wanneer daar ’n veg- of vlugsituasie is, en wat hulle op dié primitiewe vlak so anders maak as mans.
Mans? Ek weet nie. Ek probeer die spesie nog uitpluis…