Deur Tanya de Vente-Bijker
Carla Hansen* was in ʼn vriendskap vasgevang wat haar ongelukkig gemaak het. “Ek en sy was vanaf skooldae af vriendinne en ek het gedink omdat ons mekaar so lank al ken, moet ek met haar vriende bly.” Hul gesprekke het meestal net oor die vriendin se lewe gegaan. Wanneer dit oor Carla gegaan het, het haar vriendin net op negatiewe dinge gefokus. “Sy het agter my rug lelik van my gepraat, en sy sou openlik my gewig of menswees kritiseer.” Soms het sy selfs vir my poetse gebak soos om te sê sy is in ʼn ernstige ongeluk en dat ek dringend hospitaal toe moet jaag, net om te sien hoe ek sal reageer,” vertel Carla.
Toe Carla tydens die pandemie tyd vir introspeksie gehad het, het sy besef sy is in ʼn toksiese vriendskap vasgevang. “Ek moes soms na haar stories luister hoe sy haar man met ander mans verneuk, en na praatjies oor haar sekslewe en dit wat hulle verkies. Ek het een aand toe ek siek was op haar bank gelê en slaap, en agterna het sy my vertel hoe sy en haar kêrel seks reg langs my op die bank gehad het. Ek het tyd gehad om na te dink en besef dit is tyd om weg te breek.”
Carla het besluit om kontak met haar vriendin te verbreek. “Ek het opgehou om haar boodskappe te antwoord en uiteindelik het sy opgehou om my te kontak.
“Dit was eers toe een van my kollegas vir my vertel hoe erg dit is as iemand jou net ignoreer dat ek besluit het om vir haar ʼn eerlike boodskap te stuur. Ek het jammer gesê dat ek kontak verbreek het, maar vir haar verduidelik dat ek ons vriendskap vir my eie oorlewing moes beëindig. Sy stuur steeds nou en dan boodskappe. Ek antwoord steeds nie.”
Die skrywer Didi Potgieter sê sy moes onlangs ook ’n vriendskap beëindig. “As jy vir my man vra wat my beste eienskap is, sal hy vir jou sê ek is uiters lojaal. As jy hom vra wat is my swakste eienskap, sal hy dieselfde antwoord gee. Ek is dus die vriendin wat bly lank ná enige ander mens sou oppak en wegloop. Ek skram ook weg van konflik.” Didi sê sy het besef ongelukkig moet ’n mens sekere dinge laat gaan om vorentoe te beweeg.
“Ek was al baie maal sonder goeie rede die vark in my vriendin se verhaal en elke keer was die skade aan ons vriendskap moeiliker om te herstel. Tog was ons vriendskap nog altyd ʼn terrein waar ek versigtig moes beweeg omdat sy baie sterk menings het en glad nie bang is vir konflik nie. Ek het egter net een oggend skielik besef dat ek nie nodig het om meer deel van die drama te wees nie. Ek het doelbewus uit haar geveg geklim. Ek het geleer jy kan wegloop sonder om iemand seer te maak, maar jy hoef nie in ʼn vriendskap, wat jou seermaak, te bly nie.”
Die doel van vriendskap
Die bekende Amerikaanse skrywer en motiveringspreker, Mel Robbins, sê in ʼn episode op haar gewilde potgooi, The Mel Robbins Podcast, dat vriendskap een van die belangrikste dinge in jou lewe is. Maar, sê sy, die idee van “best friends forever” is ʼn leuen wat onnodige druk op ons lewe plaas.
“Vriende kom en gaan,” verduidelik sy. “Soms sal jou vriendskap met iemand mettertyd verdof en dit is oukei. Dit is die natuurlike gang van die lewe.” Mel reken om van “beste vriende vir altyd” te praat, kan groot druk op jou verhouding plaas.
Sy sê wanneer jy dan aan vriendskappe vasklou waar daar eintlik nie meer ʼn verbintenis is nie, wat jou nie langer voed nie of wat jou nie ondersteun in wie jy geword het nie en jy vriende bly omdat jy voel jy moet, dan voel jy verwerp.
“Die waarheid is: Jy gaan nie altyd vriende bly met dieselfde mense nie. Jy moet buigsaam in jou vriendskappe wees. Vriendskap moet ʼn gemeenskaplike, ondersteunende verhouding wees gegrond op die passies en doelwitte wat jy nou in jou lewe het, en nie op jul gesamentlike geskiedenis nie.
“Daar kan volgende week iemand in jou lewe instap, en julle kan onmiddellik kliek. Dit kan die perfekte persoon wees wat jy op hierdie oomblik in jou lewe nodig het.”
Sy sê soos wat jy groei, gaan jou vriendskappe groei. “En as iets geforseerd begin voel, dan is dit nog verbind aan die mens wat jy was, nie wie jy nou is nie.” Mel verwys ook na die bekende raamwerk van vriendskap: “Soms is jy vriende vir ʼn rede (julle werk saam of is bure), of vir ʼn seisoen (julle is dalk jong ma’s), of vir ʼn leeftyd (jou vieruur-in-die-oggend vriendin wat jy kan bel as jy nodig het om met iemand te gesels).”
Die pandemie het mense oor hul vriendskappe laat herbesin, meen Mel. “Maar onthou om buigsaam te wees. Beoordeel jou vriendskappe volgens die raamwerk. Dalk was julle vriende vir ʼn seisoen, maar jy of sy het in ʼn ander rigting gegroei. En dit is oukei.”
Tyd om aan te beweeg
Dr Adele Frisby-Lowe, ’n sielkundige by Evexia in Midstream, verduidelik die belangrikste aspek om in enige vriendskap in ag te neem, is of dit jou behoeftes en begeertes bevredig. Sy sê jy moet jouself afvra: Verruim dit jou lewe, of stres dit jou lewe? “Dit is ook belangrik om jou rede vir jou gevoel te probeer identifiseer.”
Dr Adele sê daar is ’n paar dinge waarvoor jy kan uitkyk as jy wonder of dit dalk tyd is om jou vriendskap te beëindig:
- Jy begin voel jy gee meer in die vriendskap en ontvang niks terug nie.
- Jy verduidelik jou gevoelens aan jou vriendin, maar dit val op dowe ore.
- Julle bring nie meer tyd saam deur nie.
- Julle het minimale kontak en dit word altyd eerste deur jou geïnisieer (deur byvoorbeeld ’n WhatsApp te stuur).
- Jy word by sosiale geleenthede uitgesluit.
- Daar is ’n vertrouensbreuk.
Sy sê die beste manier is om reguit en eerlik te wees. “Veral as dit ’n goeie vriendin was, dan is dit net regverdig. Mense sukkel oor die algemeen om met onsekerheid saam te leef en deur direk en eerlik te wees, maak jy dit op die langtermyn vir al die betrokke partye makliker. Tensy jy ’n tiener is, of op ’n passief-aggressiewe manier ’n punt probeer maak, is dit nie die ideaal om iemand te ignoreer (ook ghosting genoem) nie.”
Sy raai aan dat jy ’n skoon breuk maak. Dit is dus beter om eerder maar jul vriendskappe op sosiale media ook te verbreek. “Die tipe kontak doen gewoonlik meer skade as goed. Dit is ’n besoek aan iets wat ‘dood’ is. Sou dit enige doel dien?”
Beëindig die vriendskap openlik
Candice King, ʼn lewenstylafrigter van Durban, sê vriendskappe verdiep wanneer jy oop teenoor mekaar is. “Kwesbaarheid, vertroue en empatie is goeie boustene vir enige vriendskap.”
Sy glo ook daar hoef nie noodwendig ʼn dramatiese einde vir ʼn vriendskap te wees om op te hou bestaan nie. “Soms loop die vriendskap stelselmatig dood, of jul lewens loop verskillende paaie en jul belangstellings het verander. Dit is belangrik om ʼn vriendskap op ʼn vriendelike en liefdevolle manier te beëindig en nie net iemand te ghost nie. Ek het ervaar dat wanneer ʼn vriendskap net botweg van een kant beëindig word, kan daar onnodige probleme insluip.”
Hoewel dit moeilik en ongemaklik kan wees om so ʼn gesprek met iemand te voer, is dit belangrik. “Dit verg baie moed om so gesprek te hê en jou gevoelens oop en eerlik te deel. Ons probeer om die tipe gesprekke te vermy omdat ons glo ons gaan die ander persoon seermaak, maar in werklikheid is dit omdat ons self nie ongemaklik of weerloos wil voel nie.”
Candice sê dit is belangrik om vooraf te besluit wat jy uit die gesprek wil bereik.
“Ontmoet jou vriendin op ʼn neutrale plek. Kies ook jou tyd versigtig. Jy moet seker maak jy is rustig, kalm en in beheer. Maak seker jy het jou emosies onder beheer voor jy die gesprek begin, ook tydens die gesprek.
“Onthou om nie te oordeel, kritiseer of vinger te wys nie. Dit gaan nie oor haar nie, maar oor jou. Deel jou besluit, en jy hoef nie jou redes te deel nie, maar dit kan dit makliker vir die ander party maak.
Iets wat altyd in so gesprek help, is om ʼn eienskap wat jy van haar waardeer uit te wys. Dit sal die kans dat sy onmiddellik op verdediging gaan verminder.”
Candice sê dit is belangrik om jou emosies in toom te hou, want wanneer jou emosionele vlakke verhoog, blokkeer dit jou rasionele brein. “Indien nodig, vir jou of vir haar, kan julle altyd ʼn breuk vat en later weer na die gesprek terugkeer. Hou dit kort, tot die punt en moenie oorverduidelik nie.”
*Skuilnaam