Luister en glo
Sanger, liedjieskrywer en vervaardiger Joe Niemand van Johannesburg het ’n fyn oor vir God se stem.
“As voorskoolkind het ek al gevoel die Here praat met my. Iemand het my egter vermaan en gesê die enigste manier om met die Here te kommunikeer, is om kerk toe te gaan. Ek het besef my ervarings met die Here maak van my ‘n weirdo.”
Joe se pa is oorlede toe hy tien was, en sy ma het weer getrou. “Dit was vir my moeilik. Boonop het ek op hoërskool ervaar dat volwassenes een ding voor mense sê, maar anders optree wanneer hulle die masker laat sak. Ek het hierdie valsheid met Christene geassosieer, en ongelukkig ook met God. As student het ek al verder van die Here beweeg. Ek was later so rebels dat ek uit ’n geselskap sou stap wanneer mense oor Christenskap praat.”
Loopbaangewys het Joe uitstekend ge-vaar. In 2002 het hy en Jay Crescendo met sy eie komposisie gewen. ’n Jaar later het SARRAL hom as kontemporêre liedjieskrywer van die jaar aangewys en sy liedjies het plaaslik sowel as oorsee trefferlyste gehaal. Hy het gereeld korporatief opgetree en die rockgroep Niemand gestig. Tog was hy ongedurig.
“Toe ek in 2003 in die Kaap was vir Idols, was ek op ’n donker plek. Kort tevore het ek musiek vir ’n fliek oor MIV/vigs geskryf, en ’n onverklaarbare vrede ervaar terwyl ek daarna luister. Agterna was die vrede weer soek.
“Een aand het ek die nag in gery en op Seinheuwel geëindig. Ek het vir die Here gesê ek was lank weg, en dit werk nie vir my nie. Alles wat ek geglo het my gelukkig sou maak, was wind. Ek het Hom gevra om beheer oor my lewe te neem. ’n Bruin man het daar verbygekom, en ek het gesê: ‘Ek het hierheen gekom dat die Here met my kan praat, en nou daag jy hier op. Wat sê jy daarvan?’ Hy het gesê ek moet seker maar kerk toe gaan!”
Joe is deur ’n kunstenaarsbestuursmaat-skappy na Los Angeles genooi. “Hulle het my hemel en aarde belowe, maar ek kon net nie die kontrak teken nie. My niggie het vir my Skrif ge-SMS wat sê as ons wil weet wat die Here se wil is, moet ons net vra. Ek het. Oom-blikke later vertel ’n musiekdirekteur ongevraag vir my dat die maatskappy hul kunstenaars soms nie betaal nie. Voor my oë het die krake in die pragtige kunswerk verskyn.”
Terug by die huis het Joe Reborn opgeneem, en toe ’n aanbieding van nog ’n vooraanstaande Amerikaanse vermaaklikheidsmaatskappy gekry. “Dit was ’n wonderlike kans. Maar die Here was duidelik daaroor dat ek in Suid-Afrika moes bly. Dit het nie sin gemaak nie, maar as die Here praat, weet jy dat jy weet. Agterna het ek besef ek moes bly om die hele Mighty Men-fenomeen mee te maak. Vanjaar tree ek in Singapoer, Kanada en Skotland saam met die Oubaas (Angus Buchan) op.”
Joe het ’n volgende uitdagende opdrag van die Here gekry: “Ek moes This is War maak sonder ’n platemaatskappy, ’n band, songs of geld. Die Here het telkens voorsien – op die nippertjie. Toe ek Hom vra of dit regtig so stresvol moes wees, was sy antwoord: ‘Moet My nie kwalik neem dat ek jou ná aan My hou nie.’”
Die volgende projek, in 2009, was nóg groter. “Ek het ’n visie gekry van ’n album oor God se glorie; ’n massiewe musikale produksie. Ek mag geen beleggers genader het nie, en moes boonop die CD verniet uitdeel. Ek het blindelings voortgegaan. Elke keer as ek iemand moes betaal, was daar geld. Vandag het ons reeds 350 000 kopieë van Glory to the King uitgedeel en in 98 lande is 200 000 digitale kopieë gratis afgelaai.”
Hierna was God se opdrag aan Joe om die musiekbedryf te verlaat. “Dit was onverstaanbaar. Ek is vir musiek gemaak! Ek het ’n klein klankmaatskappy begin, en mettertyd besef dat ek moes rus. Ek moes ook leer die Here is nie lief vir my oor wat ek dóén nie.”
Joe se Sabbatstyd is in 2010 en 2011 gevolg deur ’n ryk oes: Love, Ek sal nie bang wees nie, Revival: The Anthems of Joy en Ester – Die Musical.
“Ek verstaan nou my job description: dis om te luister én te glo wat die Here vir my sê. Hy gee jou die krag om die sprong te maak.
“Ek weet dat Hy real is. Ek weet darem ook al dat ek nie mal is nie. As ons tyd uitsit om sy stem beter te leer ken, eer Hy dit. Nog elke keer as die Here iets amazing begin doen, moes ek dít opgee wat vir my die belangrikste was. Maar sy pad met my is infinitely beter as myne.”
En die toekoms? Joe grinnik. “Ek was pas ’n week alleen met God. Nou het ek splinternuwe moeilikheid.”
Maskerloos
Vir ’n man met mediese opleiding, ’n MBA van die vooraanstaande Yale-universiteit, ’n indrukwekkende CV en ’n rits talente, is dr. Pierre van der Spuy toeganklik – selfs kwetsbaar.
Lees jy sy boek, ’n Gelukkige brein (Metz Press, 2011) besef jy hy het hom in sy lewensreis laat stroop van voorskrifte en voorgee en laat lei na dit wat onvervals en eg is.
Al vat ’n Gelukkige brein navorsing uit die kliniese psigiatrie, positiewe sielkunde, kinderontwikkelingstudies en breinwetenskap inspirerend saam, beteken dit nie Pierre wil bekend staan “as die gelukkigheidsghoeroe nie. Ek is bloot iemand wat die pad eerlik wil stap, al het ek nog nie alles bymekaar nie.
“My eerste kennismaking met die donkerte in my was in die jare negentig, ná anderhalfjaar as die enigste dokter op ’n klein Kanadese dorpie. As enkelloper was ek sonder emosionele steun. My lewenslange strewe om nice te wees en hard te werk, het ‘n knou gekry.”
Met sy MBA-studie aan Yale het Pierre onrustigheid ervaar. “As dokter moet jy altyd reg en in beheer wees, en nou was ek in ’n ewe veeleisende studieveld. Die eis van onfeilbaarheid het swaar op my gerus.”
Pierre se werk as bestuurskonsultant in New York het hom nie vervul nie, ondanks “die sukses van ’n hoë salaris en verhoudings met jong, mooi, slanke vroue. Selfhelpboeke en psigiatriese handboeke het ook nie die antwoord gehad nie. Teen die geskree van ’n Afrikanerwysheid dat net mal mense ’n psigiater raadpleeg, het ek eindelik aan my perfekte self erken dat ek ’n terapeut nodig het.
“Ek kan jou skaars sê hoe pynlik elf jaar se sessies by dr. James Masterson was. Ek moes my kinderdemone in die oog kyk. Die verlies van my grootste verdedigingsmeganisme – oorintellektualisering – het die wêreld uiters onveilig gemaak. Dikwels was my volgende sessie my enigste reddingsboei. Maar ek het in kontak met my ware self gekom en besef wat vir my belangrik was, nie vir my ouers, Afrikanerkultuur of die samelewing nie.”
Pierre het nauurs opleiding in onder meer toneelspel gekry. In 2005 het hy ’n verhoogstuk oor die Russiese skrywer Anton Tsjechof in New York opgevoer. “Ek was vervaardiger, regisseur en hoofakteur. Ek is nie beskou as die Groot Hoop vir die teater nie, maar ek het my passie ontdek. Om later in jou lewe jou passie te ontdek, is erger as volwasse pampoentjies. Maar dit bring ook baie vreugde!”
In ’n stadium het Pierre stembandverlamming gekry. “Ek het nie geweet of ek ooit my stem sou terugkry nie. Dit was reeds ’n moeilike tyd vol selfmoordgedagtes. Ek wou my-self opeet van vernedering; voorheen sou ek nooit erken het dat ek probleme het nie. Mense sê die teenpool van liefde is vrees, maar ek dink dis skaamte. Uiteraard kon ek sonder my stem nie ’n enkele date kry nie.”
Ná drie maande is die sisgeluid wat Pierre kon maak, deur ’n hoë stemmetjie vervang. Omdat sy droom ’n toekoms as akteur en spreker was, het hy sy akteursklasse voortgesit. In een klas het hy met sy “twaalfjarige stemmetjie” “The Rose” gesing. “Ek het dit oorleef! Dit het tot sangklasse gelei. Ek het geleer sang is my beste wapen teen my demone.”
Pierre se oortuiging dat ’n Hoër Hand in ons lewe ingryp, is bevestig toe hy in 2010 deur ’n sameloop van sinchronistiese gebeure na Suid-Afrika teruggekeer het. Hy woon in Stellenbosch en gee klas in skryfwerk en toneelspel by ’n teaterskool vir voorheen benadeeldes en doen motiveringsaanbiedinge.
“In 2011 het ek ‘n Afrikaanse drama, In die skadu van die uile, geskryf, vervaardig en opgevoer. Op ’n manier was dit ’n coming out party.
“Ek sukkel steeds met die liefde. Ek was die grootste commitment-phoebe ooit. Gelukkig verstaan ek nou hoekom ek bang was vir intimiteit. Al is ek nog nie getroud of ’n ouer nie, bly ek daaraan werk.
“Soms voel ek soos ’n adolessent van 45. My persoonlike vaart oor die stormagtige oseane van my verwarde psige is beloon met ’n liefde vir die lewe en al sy mense. Dis ‘n volwasse liefde – een wat oop is vir the good, the bad and the ugly.”
Tuiskoms
Op 33 beleef Renier Cronje, lewensafrigter en predikant by die Renaissance-gemeente in Kaapstad, ’n tuiskoms.
“Die lewe het my weggelei van die samelewing se verwagtings, en terug na myself. Ek is gelukkiger as ooit, hoewel ek enkel is, geen eiendom besit nie en met ’n ou karretjie ry. In terme van roeping is ek nou eers ’reg’ om mense te begelei.”
Renier wou van kleins af “met opregtheid vir die Here leef. As tiener het ek ’n gaping gesien tussen die Bybeltekste en die strenge kerkstruktuur, maar my vrae is stil gemaak met: ‘Dis wat die Bybel voorskryf.’”
Renier het as deel van Youth With a Mission sendingwerk in Oezbekistan gaan doen, ’n jaar lank ’n Bybelskool bygewoon en daarna aan die Universiteit van Stellenbosch teologie studeer. “Intussen het ek by die charismatiese kerke rondgekuier omdat ek die intensiteit en gemakliker styl geniet het. Maar die kloof tussen my intellektuele bewussyn en my geloof het al groter geraak. Aan die einde van my studie het die damwal in duie gestort. My roeping was weg. So ook my beroep en my rede vir leef. Dit was die minder aange-name deel van my reis: depressie met selfmoordneigings. ’n Psigiater en narratiewe te-rapeut was my redding.”
Renier het soos die Verlore Seun gevoel. “Ek moes van vooraf leer leef en betekenis vind. Einde 2005 het ek vir 15 maande by Disney in Orlando gaan werk. Daar het mense my bloot as Renier ontmoet, sonder die ‘geestelike leier‘-etiket. Ek het my diep kant wat mense wil help, herontdek, maar nie geweet wat om daarmee te maak nie.
“Terug in Suid-Afrika het ek by die familiesaak met spons en matrasse betrokke geraak, maar geweet ek kon nie daarmee volhou nie. In 2009 het ek met lewensafrigtersopleiding by die Consciousness Coaching Academy begin en by Renaissance-gemeente betrokke geraak. Hier kon ek eindelik intellektuele kongruensie bereik, en met integriteit die dogma van oordeel en skuld laat gaan. Dis een ding waarvoor ek ongelooflik dankbaar is!”
Voorlaasjaar het Renier se gesondheid ingegee. “Sedert my lewe ná my teologie- studie ge-crash het, was my immuunstelsel onder druk. In Augustus 2010 het ek intern soveel bloed verloor dat ek ses eenhede bloed moes kry. Ek was ’n maand lank buite aksie en het agt maande gevat om my energie te herwin. Dis in tye van bitter sleg voel en finansieel swaarkry wat ek besef het: as my geluk sou afhang van dit wat ek het en van die toestand van my lyf, sou ek hiperongelukkig wees. Ek het geleer om vrede te maak met wat ek nou is en het. In die Weste is ons behep met die ’goeie‘, en het ons ’n afkeer van alles wat tyd vat of nie lekker voel nie.
“Vanjaar het ek besef ’n intellektuele reis is ’n doodloopstraat. Die rede is beperk, en kan jou net so ver bring. Dis hier waar my reis in die mistieke begin het, die hunkering na die Essensie waarna my geloofstradisie wys en wat ek wéét ek al beleef het. Dis ’n verskuiwing van die ‘wat’ na die ‘hoe’. Dit gaan nie soseer oor dit wat ek doen nie, maar oor hoe ek leef. Wat ek doen en het, is van minder belang as die geur, smaak en reuk wat ek laat.
“’n Man kan vir sy vrou ’n duur bos blomme bestel; ’n ander man kan vir sy vrou een blommetjie pluk. Kom ons sê die gewer van die ruiker is geheg aan sekere belonings, terwyl die ander man die enkelblommetjie gee omdat hy aan sy geliefde gedink het. Waar is die essensie van liefde gekommunikeer?
“Dieselfde onderskeid van vorm en essensie word in die mistiek deurgetrek na God: Wil ek die Essensie van God beleef, of haak ek by die dogmas oor God vas?
“Ek weet nou: wanneer ons die misterie van die lewe aanvaar, raak alles eenvoudiger. Dood en swaarkry is deel van die lewe. Ek hoef dit nie te verklaar of te verstaan nie. Ek kan die paradoks omhels. Ek mag ernstig én oppervlakkig wees, konserwatief én liberaal, soet én stout. My enigste reël is om niemand doelbewus te na te kom nie.
“Ek droom van ’n suksesvolle praktyk en om oor die wêreld te vlieg en praatjies te gee; ek droom daarvan om eendag pa te wees. Maar ek wil nie hierdie oomblik vergeet nie. Die lewe moet nóú betekenis hê.”