As aktrise, skrywer, vervaardiger, fliekmaker, eggenoot en ma, het die veelsydige en talentvolle Donnalee Roberts al menige keer op die voorblad van bekende tydskrifte verskyn en elke keer ‘n onvergeetlike indruk gemaak.
Nou pryk sy op die voorblad van ons Julie-uitgawe, en deel met ons haar waardevolle skoonheidsgeheime en -roetines wat sy volg om kamera-gereed te wees. Met haar 40ste verjaarsdag wat in Augustus nader kom, gesels sy ook haar gunsteling-produkte, raad wat sy van haar ma gekry het en hoe sy dit regkry om met ‘n besige skedule so stralend te lyk.
Ek maak seker ek is voorbereid vir ‘n fotosessie deur…
die aand voor die tyd lekker te slaap en baie water te drink. Disveral in die winter moeilik om genoeg water te drink en jy lang ure op ‘n stel spandeer waar jy heeltyd koffie drink. As jy voel dis te koud vir ‘n glas koue water, is ‘n koppie kookwater met suurlemoen en heuning ‘n lekker alternatief. Heuning is anti-flammatories en suurlemoen is ‘n goeie bron van vitamien C, dit voel dan ook nie asof jy net ‘n koppie kookwater drink nie!
Produkte en behandelings waarsonder ek nie kan klaarkom nie…
- Ek is mal daaroor om so twee to drie keer ‘n week my gesig met Neostrata se Correct Glycolic Microdermabrasion Polish te was, dis ‘n lekker skrop wat my vel glad en stralend laat.
- Ek verlaat nie die huis sonder om eers sonskerm aan te smeer nie- dis vir my baie belangriker om my vel op te pas as om te tan! My gunstelinge is die Matrix Support van Neostrata en Heliocare 360°.
- Ek is ook mal oor ‘n lekker oogroom. Ek lag baie en het redelik lyntjies onder my oë. Omdat die vel daar so sensitief is, bevogtig ek gereeld daardie area met die NeoStrata Intensive Eye Therapy.
- Ek glo in gesig-joga, net soos jou lyf oefening nodig het, kort jou vel dit ook. Hierdie rol-masseerder en Gua Sha-steen van The Olio Store werk lekker om spanning in jou kakebeen en voorkop te verlig. Dit help met bloedtoevoer wat suurstof na die oppervlakte van jou vel bring, dra by tot kollageen-produksie en hou jou vel soepel.
- Ek is versot op NuSkinnovation se laser-en DermaPen-behandelings en probeer elke vier tot ses weke tyd daarvoor te maak.
Gaan loer op ons Instagramblad om te sien hoe jy en ‘n vriendin vel- en laserbehandelings van NuSkinnovation ter waarde van R 5000 elk kan wen!
NuSkinnovation se Fotona Starwalker-behandeling help met fyn lyntjies en plooie vermindering, velverjonging, akneë, vergrote porieë, dermale en epidermale pigmentasie, sonvlekke, tatoeëermerkverwydering en soveel meer.
Die behandeling word in twee stappe gedoen. Tydens die eerste stap gebruik hulle ‘n volstraallaser wat die pigment in die vel afbreek. Die opgebreekte pigment word dan deur die limfatiese stelsel opgeneem en deur die liggaam weggegooi. Tydens die tweede stap gebruik hulle ‘n Fraksionele Laser. Hierdie stap maak 81 mikroskopiese gaatjies in die vel, wat kollageenproduksie in die vel stimuleer.
Om selfversekerd en gemaklik voor die kamera te voel, glo ek…
jy kan al die gesonde kos in die wêreld eet en net die beste skoonheidsprodukte gebruik, maar as jy nie na jouself met liefde kyk en probeer om uit ‘n gebalanseerde plek jouself te aanvaar nie, gaan jy altyd fout vind met wat jy in die spieël sien. Ek glo met my hele hart dat dit wat jy uitspreek, jou realiteit word. Jou liggaam, vel en menswees is sensitief vir dit wat jy uitspreek. As jy altyd net die negatief gaan uitspreek oor hoe sleg jy voel of lyk, gaan dit al wees waarop jy kan fokus. Vind ‘n manier om lief te word vir jouself en al jou tekortkominge. Kyk na jou uniekheid deur God se oë, want dan gaan jy nie anders as om lief te word vir dit wat jy in die spieël sien nie.
Die beste skoonheidswenk wat ek by my ma geleer het…
is om nooit ooit met jou grimering aan te gaan slaap nie! Dit maak nie saak hoe laat ek by die huis kom of hoe moeg ek is nie, ek gaan slaap nooit met grimering op my gesig nie. Dit mag erg voel om jou grimering laat in die aand te moet afhaal as jy net in die bed wil klim, maar dis baie erger om die volgende oggend wakker te word met taai maskara en ‘n gesig wat swaar voel want jy het nie jou gesig behoorlik gewas nie.
My ma het my ook geleer om die vel onder my oë baie saggies te hanteer. Wanneer ek my ooggrimering verwyder, sit ek ‘n lappie onder my onderste wimpers, maak my oog toe en vou die ander deel van die lappie oor my oog sodat ek nooit oor die hele area hard hoef te vryf om die grimering af te haal nie.
‘n DIY-skoonheidswenk wat my nie ‘n sent kos nie…
Ek ys graag my vel! Dit wat ons eet en drink, sowel as ons stresvlakke en omgewingsfaktore maak soms dat ‘n mens se vel in die oggend pofferig voel. Ek vat op ‘n daaglikse basis en veral voor ‘n fotosessie, ‘n blokkie ys en rol dit oor my gesig en nek totdat dit gesmelt het om te help met inflammasie.
Hierdie ysroller werk ook lekker hiervoor as jy die proses nog meer wil vergemaklik.
Lees ook: 10 redes waarom jy die Julie-uitgawe van rooi rose móét lees!