Vonkelwyn-en-aarbei-koek deur Vickie de Beer.
Bygestaan deur Martjie Malan Foto’s deur Lee Schwagele van www.crphotographic.co.za. Blomme deur Marida Steyn van Paradiso Flowers.
Vonkelwyn-en-aarbei-koek
Ingredients
- Genoeg vir 1 klein koek
- Koek
- • 250 ml (1 k) sonneblomolie
- • 125 ml (½ k) Griekse jogurt
- • 3 eiers
- • 400 g (2 k) suiker
- • 375 ml (1½ k) karringmelk
- • 550 g (4 k en 2 t) koekmeel
- • 5 ml (1 t) bakpoeier
- • 5 ml (1 t) koeksoda
- • 5 ml (1 t) sout
- • 200 g vars aarbeie, dun gesny
- Vonkelwynstroop
- • 250 ml (1 k) droë vonkelwyn (brut of brut rosé)
- • 200 g (1 k) suiker
- Vonkelwyn-botterversiersel
- • 500 g botter, by kamertemperatuur
- • 500 g versiersuiker
- • vanieljesaadjies van een peul of vanieljegeursel
- • 125 ml (½ k) vonkelwynstroop, louwarm
Instructions
1 Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Spuit twee 15 cm-koekpanne met kleefwerende kossproei, of smeer dit goed met botter en voer met bakpapier uit.
2 Gebruik ’n elektriese staanmenger en heg die ballonklitser aan. Klits die sonneblomolie, jogurt, eiers, suiker en karringmelk. Voeg die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout by en klits net totdat die beslag goed gemeng is. Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak vir 30 min. tot mooi goudbruin en gaar, of tot ’n toetspen skoon uitkom.
3 Laat die koeke vir ’n paar minute in die panne afkoel en keer dan versigtig op ’n draadrakkie uit en laat verder afkoel.
Vonkelwynstroop
4 Verhit die vonkelwyn en suiker in ’n klein kastrol tot kookpunt. Laat die stroop vir ’n minuut of twee kook tot dit effens verdik. Laat afkoel.
Vonkelwyn-botterversiersel
5 Gebruik ’n elektriese staanmenger en heg die spaan aan. Verroom die botter en versiersuiker tot dit lig van kleur en donsig is. Skraap die kante van die mengbak af en klits weer goed deur. Klop die helfte van die louwarm vonkelwynstroop by tot dit goed deurgemeng is.
6 Sny die koeke horisontaal in 4 lae. Sit die eerste laag op ’n koek- of opdienbord en druip ’n bietjie van die orige vonkelwynstroop oor en smeer ’n dun lagie versiersel oor. Rangskik ’n lagie vars aarbeie bo-op. Herhaal tot al die lae versier is. Eindig met die onderste laag van die ander koek.
7 Smeer die versiersel oor die hele koek en trek met ’n palet-messie vertikale strepe in die versiersel. Rangskik vars lenteblomme op die koek.