’n Vogsproeier vir die huis omskep water in koue stoom (mis) om die vog in ’n vertrek te verhoog.
Moenie ’n vogsproeier verwar met …
• Verstuiwers (nebulizer) wat op dieselfde beginsel werk maar medisyne in mis omskep sodat jy dit in jou longe, sinusse en lugweë kan inasem;
• Ioniseerders wat statiese elektrisiteit opwek en bakterieë en ander onsuiwerhede uit die lug onttrek. Ioniseerders kán so die lug suiwer, maar kenners verskil oor hul doeltreffendheid om ’n hele vertrek werklik skoon te hou; en
• Osoniseerders wat gewone lugsuurstof in osoon omskep. Osoon dood mikro-organismes baie doeltreffend maar kan in selfs lae dosisse die longe beskadig. Daarom word osoonterapie in talle lande nie meer toegelaat nie.
Hoekom sal ’n vogsproeier vir sinusitis help?
Die slymvliese in jou neusholtes se hooftaak is om slym te vorm – ’n liter daarvan per dag, en baie meer as ’n verkouekiem hom in jou neus probeer tuismaak. In die piepkleine ruimte werk hierdie slym soos ’n gom: dit vang die stof en kieme wat jy inasem vas en kanaliseer hulle uit na jou neus toe. So sorg dit dat net silwerskoon gefiltreerde lug in jou longe kom. Maar as die kanaaltjies verstop is, kan die mukus nie dreineer nie, wat jou sinusse in ’n warm, kosryke blyplek vir mikrobes omskep. Dit lei tot die tipiese inflammasie, druk en pyn wat jy ervaar. Jou slymvliese werk op hul beste as die lug skoon en/of vogtig genoeg is. Ons binnelandse winterlug is báie droog en lugreëling by die werk en in die motor, asook kaggels en verwarmers droog die lug verder uit. Dus is ’n vogsproeier ’n uitstekende oplossing. Máár talle asmalyers ervaar dat vogtige lug hul asma vererger.
Wat kan jy nog doen?
1 Gee jou kind ekstra vitamien C en omega-3’s. Volgens Vital is dit noodsaaklik vir gesonde slymvliese.
2 Die Universiteit van Maryland sê wasabi (die groen skerp pasta by soesji), gemmer, sterk kerrie, hoendersop en tee met heuning en suurlemoen is ontstumiddels wat werklik help om die swelling in die sinusslymvliese te laat sak.
3 As jy nie ’n vogsproeier het nie, week ’n vadoek in warm water met ’n paar druppels bloekomolie in. Droog die vadoek ligweg uit en drapeer dit oor jou gesig.
4 Sorg vir ’n plat bak water by ’n verwarmer of kaggel om die lugvog aan te vul.
Wat is …
Sinusitis
- Infeksie in die lugholtes rondom jou neus en bokant jou oë
- Kan akuut wees (vinnig ontwikkel, veral as deel van verkoue of griep) of chronies wees (’n laegraadse langtermyn-infeksie wat van tyd tot tyd opvlam). Geen of lae koors
- Simptome is ’n toe neus; pyn as jy weerskante of bo jou neus en oë druk, wat veral onaangenaam is as jy vooroor buk; moegheid, geel slym, en onwelriekende asem
- Kan veroorsaak word deur bakterieë; voortdurende hooikoors; prikkels soos rook, parfuum en insekgif; en as teenreaksie op allergieë soos vir huismyt, troeteldiere, melk en koring (meel, brood en gebak)
- Kan verminder as jy gereeld saans jou sinusse spoel met ’n koppie louwarm water waarin ’n kwart teelepel sout opgelos is
Griep
- Veroorsaak hoë koors, kouekoors, rillings, lyfpyn en geweldige moegheid
- Kan met die griepvaksien gekeer word, en is die beste voorkomingsplan, veral as jou kind maklik asma, brongitis of longontsteking kry. Dit behoort vanjaar maklik beskikbaar
te wees - Word die beste gehanteer deur jou kind tuis en rustig te hou. Gee hom ’n pynstiller, ekstra vitamien C en/of ’n antivirale aanvuller. Neem hom dokter toe as hy ná vier tot vyf dae weer sieker word. Dit kan beteken dat ’n sekondêre (bykomende) infeksie toegeslaan het
Verkoues
- Veroorsaak neus- en kopsimptome, eerder as lyfsimptome soos griep. Jou kind sal nies en ’n loopneus en ’n seer keel hê
- Word net soos griep hanteer