Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier of ’n silikoonbakmatjie uit.
Room die botter en suiker met ’n elektriese klitser in ’n groot mengbak. Voeg die kondensmelk by en meng goed.
Sif die koekmeel, bakpoeier en sout by die bottermengsel. Meng goed.
Verdeel die deeg in twee, druk effens plat en bedek met kleefplastiek. Laat vir minstens 30 min. in die yskas rus.
Rol die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak uit. Sit die voëltjiestensil op die deeg en sny die patroon met ’n skerp groentemessie uit. Herhaal tot die deeg op is.
Sit op die bakplaat en bak vir 15-20 min. tot goudbruin. Laat op ’n afkoelrakkie afkoel.
Sif intussen die versiersuiker, voeg die suurlemoensap by en meng goed. Skep die versiersuiker in ’n spuitsak met ’n baie dun tuit of gebruik ’n toebroodjiesakkie waarvan ’n hoekie afgeknip is.
Spuit die versiersuiker op ’n deel van die koekie, soos die vlerk en strooi saadjies oor. Herhaal tot die hele koekie versier is. Gebruik ’n ander soort saad vir elk van die dele soos die vlerk of snawel.