Voel jou tiener eensaam? deur Mariette Snyman
Eensaamheid is deesdae ’n groter kwessie onder tieners en jong volwassenes as onder hul grootouers, het Britse navorsers onlangs vasgestel. “’n Derde van die jongmense tussen 16 en 24 voel die meeste van die tyd eensaam, byna drie keer soveel as mense bo 65.”
As jongmense vir wie die toekoms wink meer verlate voel as mense met die grootste deel van hul lewe en waarskynlik ’n paar verliese agter die rug, wek dit kommer. As jy boonop in ag neem dat geen samelewing voor ons op soveel kommunikasieplatforms met ander in gesprek kon tree nie – en dit binne sekondes – wonder jy waar die knoop lê.
Lees ook: Kweek só respek
Wat behels eensaamheid?
Vir elke mens spel eensaamheid iets anders, maar dit kom daarop neer dat die aantal en gehalte van jou verhoudings minder is as dit wat jy begeer. Selfs al het jy ’n hele rits vriende, kan jy geïsoleer voel indien jou vriendskappe nie ’n vertrouensverhouding insluit nie.
Die uitwerking van eensaamheid moenie onderskat word nie. Ons is sosiale wesens; ons behoefte om te “behoort” vorm deel van ons oerbedrading. In jagterversamelaar-gemeenskappe kon mense letterlik nie sonder die groep oorleef nie, en vandag sneller intense eensaamheid steeds die instinktiewe vrees vir die dood. Elkeen van ons het aanraking, oogkontak, lag en gesels net so nodig soos skuiling, kos en water.
Veral vir tieners, wat as deel van hul normale ontwikkeling toenemend op aanvaarding deur hul portuurgroep en minder op hul gesin fokus, kan eensaamheid ’n pynlike kwessie wees.
Lees ook: Besige ouer, eensame kind
Die uitwerking van eensaamheid moenie onderskat word nie
Gee jou kind perspektief
“’n Sekere mate van alleenwees is gesond,” sê Sandy Lewis, hoof van terapeutiese dienste by Akeso-psigiatriese klinieke. “Tieners het alleentyd nodig om te besin oor wie hulle is en watter waardes vir hulle voorop staan sodat hulle hul eie stem kan kry. Soms is tydperke van eensaamheid onvermydelik, soos wanneer gesinne verhuis, of wanneer daar onenigheid tussen tieners en vriende is.
“Wat die omstandige ook al is, dit is van kernbelang dat ouers besef hoe nodig hul kinders hulle het. Tieners en jong volwassenes se lewenservaring is nog beperk. Hulle sien nie altyd die groter prentjie nie. Daarby word hul breinontwikkeling eers teen ongeveer 25 jaar voltooi. Breingedeeltes wat met emosionaliteit verband hou, is ten volle aktief, terwyl die dele wat langtermynbeplanning en impulsbeheer behels, steeds ontwikkel. Ouers kan onvoorwaardelike aanvaarding, ’n veilige ruimte en breër perspektief verskaf sodat die kind geborge voel en verstandige besluite kan neem.
“As jy jou kind goed ken, sal jy sien wanneer eensaamheid haar lewenslus demp. Neem haar persoonlikheid in ag. Introverte laai hul batterye deur alleenwees, en word soms minder geraak deur eensaamheid as ekstroverte wat hul energie uit interaksie met ander kry. Vir albei groepe word eensaamheid ’n probleem wanneer alleenheid nie meer ’n keuse is nie maar chronies raak.
Lees ook: Lig jou kind uit depressie
“Gestel jou tiener het van skool verwissel en sukkel om vriende te maak. Sy bring pouses alleen deur en het naweke niemand om mee te kuier nie. Dalk voel sy dit beteken daar is fout met haar en dat sy ’n loser, ’n uitgeworpene, is. Hierdie interpretasie kan haar eiewaarde ’n ernstige knou gee en haar minder geneë maak vir interaksie met haar ouderdomsgenote.
“Jy kan haar help om haar siening van die situasie te verander. Dit veronderstel natuurlik goeie kommunikasie, waaraan alle ouers op lang termyn moet werk. Een ding wat intieme gesprekke makliker maak, is om jou ware gevoelens te wys, veral jou eie weerloosheid. ’n Ander is om regtig te luister sodat sy voel jy verstaan wat sy sê en dat sy maar gedagtes kan verbaliseer wat háár bangmaak.
“Dalk het jy as jongmens ook ’n tyd van eensaamheid beleef toe jy in ’n nuwe omgewing gaan studeer of begin werk het. Help haar om te begryp dat angstigheid, onsekerheid en negatiewe gedagtes in ’n transformasietydperk ’n normale reaksie is. Dit neem tyd om deel te word van ’n nuwe gemeenskap en ’n goeie ondersteuningstruktuur te ontwikkel. Die situasie hoef nie vir altyd te duur nie.
“Behalwe die wete dat die situasie waarskynlik tydelik is, help dit as sy besef dat eksterne faktore soos die verhuising tot haar eensaamheid bygedra het, en dat dit nie haar eie ontoereikendheid is wat daartoe gelei het nie.
Lees ook: Jou kind en eetversteurings
“As jy ’n lewensuitdaging soos eensaamheid die hoof moet bied, is die eerste stap om jou kop reg te kry. Eensaamheid is ’n gevoel, nie ’n feit nie; daarom kan dit verander. Maar negatiewe denke kan dit vererger. Eensaamheid laat jou die wêreld anders ervaar en beïnvloed jou optrede. Jy is sensitiewer vir sosiale ‘bedreigings’ en vrees makliker die ergste, soos verwerping deur ’n individu of die groep. Dit stel jou op die verdediging en maak jou dalk meer veroordelend teenoor mense met wie jy te doen kry. Indien jy oogkontak of gesprekke vermy en wantrouig of
krities is, voel ander dit aan en beweeg weg.
“Gesels met jou kind oor die bose kringloop wat so kan ont-staan. Beplan saam hoe sy haar isolasie kan verbreek. Dalk kan sy ’n klein treetjie gee, soos om iemand wat vriendelik lyk by die skool te begin groet – ’n enkele goeie vriendin kan uiteindelik die verskil tussen eensaamheid en gemeensaamheid beteken. Sy kan hiermee volhou totdat die groet in ’n gesprek ontwikkel.
“Miskien sal sy met jou aanmoediging die kans waag om by ’n paar kinders aan te sluit wat sit en gesels. Dis wys om langs ’n stiller kind te gaan sit, eerder as die een wat die meeste praatwerk doen. Twaalfstapprogramme soos Alcoholics Anonymous beveel aan dat mense by minstens ses groepe probeer aansluit voor hulle moed opgee.
“Gedeelde belangstellings, soos stap of fotografie, is ’n gemaklike manier om jou vriendekring uit te brei. As sy passievol is oor die aktiwiteit, kan sy daarop fokus, pleks van haar heeltyd te bekommer of sy aanvaar word. Die belangrikste is showing up; al is dit moeilik, moet jou tiener vasbyt en by samekomste opdaag. Een of ander tyd moet dit vrugte afwerp.
Lees ook: Sensitief, sensitiewer, empath
“Begelei haar deur die proses en kyk nugter na die situasie. Gestel sy nooi iemand uit en kry ’n ‘nee’, is dit dalk omdat die ander een reeds ’n afspraak het, nie omdat sy ongewild is nie. Help haar om optimisties te bly.
“Ouers – nie die portuurgroep nie – is ’n tiener of jong volwassene se eerste toevlug. Vestig ’n diep, intieme verbintenis met jou kind en maak seker sy voel deurentyd gekoester. Onthou dat
aanraking soos ’n hand op die skouer, of ’n speelsessie met ’n troeteldier goedvoelhormone vrystel.
“Soms voel ouers hulle kan nie veel doen nie, soos wanneer hul kind in ’n ander stad studeer. Dan is dit minder belangrik wát die ouers doen as dát hulle deurgaans kontak hou deur iets soos WhatsApp-boodskappe of skakels na interessanthede op die web te stuur. Hou aan om die verhouding te voed.”
Lees ook: Is jou kind ADHD of begaafd?
Eensaamheid is ’n gevoel, nie ’n feit nie
En die sosiale media?
Die meerderheid jongmense en hul selfone is onafskeidbaar. Navorsingsresultate dui op ’n direkte verband tussen ’n toename in die gebruik van slimfone en die voorkoms van geestesgesondheidsprobleme onder adolessente.
“Hoewel sosiale media ’n minder intimiderende manier kan wees waarop jongmense met ander kontak (en dalk vriende) kan maak, kan dit hulle ook uitgesluit laat voel. Hulle word verblind deur hul tydgenote se ‘perfekte’ lewe op sosiale platforms en vergeet hoe maklik dit is om ’n vals beeld te skep. Wetenskaplike studies wys ook dat virtuele kontak nooit persoonlike kontak kan vervang nie.
“Eensaamheid kan verskeie nadelige gevolge hê, waaronder depressie en selfs selfdood. Hou jou kind fyn dop. Die gulde reël is om professionele hulp te kry wanneer tekens van depressie soos hooploosheid, isolasie, ’n negatiewe selfbeeld, irritasie, aggressie, ’n beheptheid met die dood, selfskending of ’n verandering in slaap- of eetpatrone langer as twee weke ononderbroke voortduur.
“Uiteindelik het die oorkoming van eensaamheid meer met ’n jongmens se uitkyk te make as met die aantal vriende wat hy of sy het. Ouers kan hul kind help om dié uitdaging die hoof te bied en ’n veerkrag te ontwikkel wat hulle lewenslank goed te staan kan kom.”
Lees ook: 10 dinge wat jy kan doen om slegte gewoontes te breek
Het jy geweet?
- Een uit drie volwassenes word deur eensaamheid geraak.
- Eensaamheid kan jou streshormoonvlakke verhoog, wat jou immuunstelsel en breinontwikkeling benadeel.
- Navorsingstudies toon mense wat eensaam is, slaap slegter. Hulle slaap nie noodwendig minder ure nie, maar word meer dikwels wakker en voel minder uitgerus.
- Jongmense wat op die lang duur eensaam is, word makliker geboelie. Hulle is vatbaarder vir neerslagtigheid, depressie en selfdood.
- Eensaamheid kan jou lewensverwagting net soveel as die rookgewoonte inkort – en meer as obesiteit.
- Omdat eensaamheid party mense aanvuur om troos in kos te soek, kan dit tot gewigstoename lei. Terselfdertyd is daar niemand om hulle aan te moedig om gesonder gewoontes aan te kweek nie.
Lees ook: Is kos jou dwelm?
Ek is goed genoeg
Dié oefening van die bekende Amerikaanse lewens-afrigter Martha Beck (marthabeck.com) kan jou kind se selfvertroue ’n hupstoot gee deur hom of haar ’n praktiese ervaring van aanvaarding te laat kry.
Herhaal die oefening indien nodig.
- Vul jou tenk met goedvoelhormone. Ons skei dopamien af deur enigiets te doen wat onbekend en moeilik is, soos om ’n blokkiesraaisel in te vul of ’n ingewikkelde trui te brei. Die hormoon epinefrien word tydens matige oefening vrygestel en ook wanneer ons ’n kans waag, soos om ’n ongewilde mening uit te spreek. Sorg dat jy ’n goedvoelinspuiting kry net voor jy stap 2 aanpak.
- Gaan stap in ’n winkelsentrum of ander openbare plek. Verbeel jou 30 minute lank dat jy lieflik genoeg is om liefgehê te word. Beweeg soos iemand wat goed genoeg is – nie noodwendig die land se topmodel nie, bloot goed genoeg – en sorg dat jou gesigsuitdrukking dié gevoel eggo. Hoe doen jy dit? Fake it till you make it!
- Gaan sit in ’n koffiewinkel en drink iets heerliks terwyl jy steeds doelbewus beweeg en voel soos iemand wat goed genoeg is. Let op na die energie wat jy met ander kliënte of die kelner uitruil. Die belangrikste is dat jy waarneem hoe ander mense teenoor jou reageer.
- As jy die voorafgaande “huiswerk” deeglik gedoen het, kan iets magies begin gebeur. Jy kan agterkom dat die meeste mense aangetrokke voel tot jou. Hoe verder jy van jou verdedigende, selfbewuste innerlike kritikus afstand doen, hoe meer glimlagte, hoflikheid en vriendelikheid kry jy van mense. Nie net van mense nie – van genoeg mense!
- Bou voort op jou positiewe ervaring deur bewustelik goed genoeg te voel wanneer jy met ’n vriendin gesels (nie met gesinslede nie – daar is dikwels baie emosionele bagasie), dan met ’n kennis, dan met iemand wat jou intimideer. Groter selfaanvaarding help jou om ander positiewer te benader. Hoe minder jy oor jou tekortkominge loop en broei, hoe vryer is jy om jou volle aandag aan hulle te gee. Mettertyd gaan jou hart oop en vloei kommunikasie makliker.
• Akeso akeso.co.za of 0861 435 787 (24 uur hulplyn)