Ek gril my dood. Ek praat nie eens van ontmoetings in lewende lywe nie; ek praat van die blote gedagte aan vlermuise. Dis onregverdig, ek weet, want dié soogdiertjies het my nog geen kwaad aangedoen nie. Hulle het net in my verbeelding in my hare nesgemaak … vervlakste ouvroustories.
Dit troos natuurlik ook maar min om te weet dat vlermuise letterlik oral behalwe in die poolgebiede voorkom. Hulle hou verseker in my woonbuurt; ek het so tien dae terug teen skemeraand ‘n skouspel beleef (natuurlik op ‘n veilige afstand) toe ‘n blitsbataljon bruin gedaantes ‘n rysmierfees in die straat voor my huis gevier het. ‘n Verbyganger het die storie so gekyk, en wou toe by my weet: “Where is the nest?”
Wat maak hierdie “vlieënde muise” so eeuw? Die feit dat vampiervlermuise op bloed leef en dat ‘n paar soorte kannibalisties is, dra nou nie juis by tot hul sjarme nie. En het jy al ‘n prentjie van ‘n babavlermuisie gesien? Dis nié ‘n kwessie van “ag hoe dierbaar” nie.
Dis darem seker net regverdig om na vlermuise se goeie eienskappe ook te kyk. Hulle eet ander grieselrige wesens soos oorkruipers, en verslind soveel insekte dat insekdodervervaardigers ‘n kleiner werklas het en vakansiedae kan afvat. Hulle simboliseer hergeboorte omdat hulle in grotte – die aarde se “baarmoeder” – leef en elke aand “weer gebore” word. En hulle was die inspirasie vir Batman.
Ek was in my skik om te lees vlermuise vlieg nie in die reën nie. Ek sal dit onthou as ‘n donderstorm my iewers in die donker nag in die veld betrap en ek my seëninge wil tel.
Intussen koes ek steeds onwillekeurig as ek saans in my tuintjie gaan wandel. En die eintlike rede vir my kort hare bly vir eers ‘n geheim …