Vlam: Hoofstuk 7: Niek en Ewie deur Martie Swanepoel
Het jy al die vorige hoofstukke van Vlam gelees?
Vlam: Hoofstuk 7: Niek en Ewie
Die oproep van Niekie oor die Amerikaners se grensoorlogfliek, het ou emosies by kol. Niek Branders opgeroep.
By die kantien vir bosoorlog-veterane in Potchefstroom het die gemoedere hoog geloop oor die Amerikaners se arrogansie.
Dit was hulle jeug, hulle oorlog en hul makkers wie se bloed het in die sanderige grond van Angola gelê het.
By die huis het Niek sy ou army foto-albums uitgegrawe. Hy het vir jare nie daarna gekyk nie. Hy was nie lus vir ou seer oopkrap nie, maar vandag moes hy daarna kyk.
Tussen die bladsye van sy albums het die grootste avonture van sy jong lewe gelê … en ook die grootste ontnugtering.
Hy was niks lus vir die army toe hy sy oproeppapiere op hoërskool gekry het nie. Al die seuns het daaroor gepraat. Dit was anders as die kadette en oefeninge op die skool se skietbaan. Hierdie was régte oorlog. En hulle het nie ’n keuse gehad nie.
Vir baie was dit ’n vreemde, vreesaanjaende vooruitsig. Hulle was immers nog net seuns.
Toe het Niek met die gedagte van diensplig begin vrede maak. Hy het immers van kleins af vir niks gestuit nie. Altyd in die veld en altyd vol snye en skrape.
Maar, het hy besluit toe die army-papiere voor hom lê, as hy kon kies, wou hy graag eerder vloot toe gaan. Hy wou gaan duik. Hy het elke skoolvakansie by sy ouers se strandhuis deurgebring en was mal oor die see.
Toe roep die army hom op na 4SAI Middelburg …
Niek kyk na die foto’s van die maer outjie in die oorgroot uniform. Hy was ’n agtienjarige infanterie voetsoldaat.
Hy blaai stadig deur die album.
Die weermag het op hom gegroei. Hy was op skool nie een van die cool manne nie. Hy was nie ’n toegewyde akademikus of sportman nie. Maar in die army het hy geblom. Hier was hy die meeste manne ’n aks voor. Hy kon uithou waar ander uitpaas.
Die foto’s bewys hy was superfiks. Onstuitbaar.
Diensplig was toe nog net een jaar, maar hy het gou besluit om korttermyn aan te sluit vir drie jaar. Waar ander ouens van “min dae” gedroom het, wou Niek syne meer maak. Hy het sy nis in die lewe gevind.
Net na basies is hy gekeur vir ’n offisierskursus in Oudtshoorn.
Niek blaai traag na die volgende bladsye.
Ewie …
Hy het sy beste army pel, Everard Wynand du Preez, in Oudtshoorn ontmoet.
Daar is foto’s van die strawwe drilsessies wat hulle saam oorleef het. Hulle het gesuffer. Lekker harde dae. Daar het hulle geleer wat beteken “vasbyt”.
Niek onthou met ’n wrang smaak hoe hy en Ewie gedrewe was om goeie soldate te word. Saam sou hulle die terroriste beveg.
Saam.
Vreesloos.
Die volgende bladsye in die album wys hoe hul toewyding beloon is. Hulle het gekwalifiseer as peletonbevelvoerders met die rang van tweede luitenant.
Trotse soldate. Gereed vir groot uitdagings.
Next stop vir die twee army buddies was Potchefstroom toe, na 3SAI.
Die Potch-foto-album wys Potch het naas die army-kamp en eikebome ook girls gehad. Baie girls by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër onderwys waar dans verbode was, maar waar lovers lane die romanse kon aanvuur.
As Niek en Ewie die kans gekry het, het hulle weggeloop na die dameskoshuise.
Daar is baie foto’s van hom en Ewie en girls. Lekker tye. Maar net soveel van hom en Ewie alleen. Altyd hand om die skouer. Baie keer met ’n bier in die hand. Buddies.
Die eerste foto van Niek en Elsa Jansen gee hom ’n onverwagse steek in sy hart.
Sy was ’n mooi eerstejaartjie. Vlammende rooi krulhare en die mooiste bene op die PU vir CHO.
Niek onthou sy effe onbeholpe hofmakery. Maar sy uniform het hom anders gemaak as die mansstudente wat tou gestaan het om Elsa uit te neem. Veral nadat sy joolprinses geword het, was die kompetisie groot.
Hy blaai vinnig verby die foto’s van sy groot liefde. Die joolprinses en die soldaat.
Dis Elsa wat Ewie aan Ané Duval, ’n Franse uitruilstudent, voorgestel het.
Bladsye vol foto’s wys die twee paartjies was onafskeidbaar. Hulle het elke vryplek in Potch geken.
Daar is ook foto’s van Niek en Ewie as Charlie-kompanie se peletonbevelvoerders.
Hy onthou hoe ambisieus en gedrewe hulle was. Al het die liefde geblom, wou hulle net grens toe.
Foto’s van sweet en swoeg tydens hul troepe se opleiding in basies en veldkuns was een stappie nader aan die grens. Hulle en hul manne was slaggereed en gretig.
In daardie stadium het SWAPO se insypeling vanaf Angola toegeneem. Suid-Afrikaanse weermageenhede is al meer in Namibië in die Caprivi en in Ovamboland ontplooi. Die Angolese grens moes bewaak word. Intussen het die burgeroorlog in Angola veroorsaak dat die Portugese burgers als gelos het en onttrek het. Met die politiese onstabiliteit in Angola het die VSA toenemend druk op Suid-Afrika geplaas om betrokke te raak. Die FNLA, MPLA en UNITA het verbete teen mekaar geveg om die leierskap in Angola.
Toe dit begin lyk of die Russiese gesteunde MPLA die oorhand kan kry, het Amerika diep bekommerd geraak. Hulle het Suid-Afrika gevra om klandestien betrokke te raak deur UNITA te steun, omdat hulle meer pro-westers was.
Dit was die begin van die Suid-Afrikaanse Weermag se eskelasie in Angola, en dit was al waaroor die manne in Potch saans by die kantien kon praat, onthou Niek.
Hy en Ewie was voor in die koor. Kamerade. Gereed om die Rooi Gevaar te gaan fight. Hulle was dapper, veral na ’n paar klippies-en-cokes.
Niek verstom hom aan hoe bitter jonk hulle op die foto’s lyk. Maar hulle harte was reg. Hulle wou hul deel gaan doen.
Die volgende album is van Katima Molilo.
Die verplasing na die Caprivi was vêr van hul girls, maar die vervulling van ’n opwindende droom. Hulle groot taak sou wees om patrollies te loop om die kaplyn te patroller en om terroristespore op te volg. Hulle en hul manne het hinderlae gelê vir die insypelaars, en binne maande was hulle geswore grensvegtyers.
Bosfoto’s van manne wat sonder hemp met Lucky Strike-sigarette tussen die vingers poseer. Sespakspiere op jong lywe. Dae van Rat Packs en Suiderkruisfonds-pakkies. Boeliebief en baked beans in varkpanne. Dog biscuits, muskiete, malaria en stof.
Niek en Ewie het elke oomblik van die avontuur gelééf. Die adrenalien van kontak met die terroriste was verslawend. Bedags die moordende Afrika-son en saans die lafenis van Klipdrift. Hulle was deel van “PW-en-Seuns” en was oukei daarmee.
Niek kyk na foto’s wat harde werk en hard speel uitbeeld. En baie kattekwaad aangevang het.
Die posparades met briewe van Elsa en Ané het hulle aangevuur. Ander ouens het “dear Johnny”-briewe gekry maar hulle Potch-girls het by hulle gestaan. Hulle was twee geliefde dapper grenshelde.
Bloedbroers.
Geniet jy ons vervolgverhaal,Vlam? Dan gaan jy baie van ons vorige vervolgverhale hou. Vind hulle hier.