Vlam hoofstuk 52: Jupiter deur Martie Swanepoel
Voordat jy met Vlam hoofstuk 52 begin, lees eers die vorige hoofstukke. Klik hier
Vlam hoofstuk 52: Jupiter
Dit is soos ‘n pelgrimstog. Vir ‘n buitestaander sou die drie reisgenote ‘n vreemde kombinasie gewees het: die rolprentheld, en die oudsoldaat en sy vyand.
Alano Gumba en Niek Branders sit stil langs mekaar in die helikopter. Hulle gedagtes reis ver terug terwyl hulle oor die landskap van Owamboland ry. Hulle kyk by die venster uit na die terrein waar hulle eens as vyande tot die dood toe geveg het.
Skielik vat Alano Niek aan die arm.
“Ek is bly ons het gekom.”
Niek knik sy kop. Sy mond voel droog en sy hart klop in sy keel. Byna soos daardie dag.
Duard sit langs hulle met sy eie gedagtes. Hy veg al jare ‘n eie oorlog met sy pa in sy kop, en vandag hoop hy daardie oorlog kom tot ‘n punt. Hy wil vrede maak met Ewie du Preez, die dapper soldaat met die medalje. Vandag wil hy vrede maak met ‘n pa wat hom en sy ma emosioneel verniel het.
Voor die eerste tonele van Border War Patrol geskiet word, wil hy sy eie grensoorlog klaar fight. Die geveg tussen die grense van die kinder- en volwassejare.
Met die landing slaan die hitte teen hulle op. Die son is fel, Niek stap vooruit. Sy oë fynkam die terrein vir bekende bakens. Herinneringe bring die reuk van kordiet, en in sy kop hoor hy die kleingeweervuur, die mortiere, die kanonne. Die gesuis van RPG7-vuurpylvuur ruk sy gedagtes tot stilstand. Hy kyk om hom na die bosgebied wat nou so vreedsaam en verlate lyk. Hy kyk na Alano en hy weet, hy onthou ook. Die weermagman en die SWAPO-man aan weerskante van die jare tagtig se oorgrensoperasies.
Niek en Ewie was betrokke by operasie Jupiter en Alano en sy manne se basis was hulle teiken.
“Hier het die ops-tent gestaan,” beduie Niek. Hy vertel van die haarfyn beplanning en Alano vul detail van die ander kant van die munt in. Vir Duard is dit asof die fliek waarin hy in die volgende weke gaan speel nou voor sy oog afspeel.
“Ek en jou pa was reg vir daardie dag. So reg as wat kan kom.”
Niek stap vooruit. Hulle ry met Jeeps tot by die plek waar Niek en Ewie se peletons as stoppergroepe ontplooi is.
Alano onthou hoe die mirages gekom het. Dit was verwoestend. Hulle het gevlug vir hul lewens … en Niek en Ewie se manne het vir hulle gewag.
“Ons was die Bravo- stoppergroep. My manne dié kant van die donga, en Ewie-hulle daardie kant. Duard, jou pa was na aan sy manne. Jy moet dit weet. Ons was almal saam in die ding. Die RPG7 se vuur het Ewie-hulle getref. Sy makkers het voor hom gesterf. Dit het hom gebreek. Elkeen het sy oomblik wat hy crack-punt bereik. Daardie dag was Ewie se oomblik. Ek het lank gesukkel om hom daarvoor te vergewe.”
Duard luister na die ouer man se vertelling, maar hy onthou hoe hy as seuntjie bang weggekruip het as sy pa uithaak.
“Ek verstaan hoe my pa moes voel, maar wat hy na daardie dag geword het … Dit is waarmee ek en my ma moes deal. Ons moes vlug en in my ma se vaderland nuut begin. My ma het baie goed geweet wat my pa voor die tyd was, en ek dink sy het probeer verstaan hoe die grens hom verander het, maar dit wat hy na die tyd geword het, het ons lewens vernietig. My pa kon nie saam met sy leuen saamleef nie en hy het my en my ma daarvoor gestraf.”
Hulle stap stil in die rigting van waar Niek vir Ewie gekry het.
“Ek dink dit was hier rond. Duard, ek kan nie vir jou probeer verduidelik hoe ‘n man se kop verander word deur so ‘n ding nie. Ek verskoon Ewie nie, maar ek het baie manne sien breek. Baie kon aangaan met hul normale lewe, party nie. Ons kan nie verander wat daardie dag aan jou pa gedoen het nie, maar ons kan dalk verander hoe ek, jy en Alano vandag daaroor dink. Die fliek waarin jy gaan speel, dit gaan ‘n goeie storie vertel. Ek is tevrede met die storie wat julle fliek gaan vertel, en ek glo Alano ook. Dit was ‘n oorlog. Teenpole word saamgegooi in ‘n situasie wat hom een of ander tyd uitwoed. Die grensoorlog het uitgewoed en nou staan ons vandag hier langs mekaar, ek en Alano. Twee ou mans wat die oorlog van ons jeug onthou.”
Hulle stap in die koers waar Ewie en Niek vir Alano gekry het.
“Ek sou daardie dag onder hierdie bos gesterf het aan my beserings as jy my nie gevang het nie, Niek. Jy het my gevang, maar ook my lewe gered. En ja, jy het Ewie ook daardie dag gered. Dis jammer dit het so skeef uitgedraai. Maar ons is mos vandag hier om daardie dag agter ons te los? Of hoe?”
Tewyl die twee ouer mans gedagtes uitruil oor wat na daardie dag met hulle gebeur het, sit Duard eenkant en luister. Dan staan hy op en stap die veld in.
“Los hom,” sê Niek. “Laat hy die ding met homself gaan uitsorteer.”
Dis eers laataand toe die helikopter naby die rolprentspan se kamp land.
Niekie staan en toekyk hoe die drie mans mekaar omhels, en sy wonder watter soort recce het hulle saam beleef.
Sy sien hoe Duard met geboë skouers na sy woonwa stap. Skielik lyk hy nie soos ‘n beroemde rolprentheld wat Melissa uitbeeld nie. Hy lyk soos iemand wat ‘n swaar las dra.
Sy wonder wat gaan aan in dié geheimsinnige man se kop. En sy kan nie help om te dink haar pa ken die held beter as wat hy voorgee nie.
Dalk beter as Melissa?
Sy neem haar voor dat sy Duard Wayne se geheime gaan ontrafel nog voor die fliek in die blik is.
As jy van Vlam hoofstuk 52: Jupiter gehou het, gaan jy gaande wees oor ons twee GRATIS voorlesings – albei uit die pen van Martie Swanepoel! Luister sommer nou:
Botox, Barbies en Bietse
Dans met die rooi rok