Vlam: Hoofstuk 5: Kners op die tande deur Martie Swanepoel
Het jy die vorige hoofstukke van Vlam gemis? Lees hulle sommer nou!
Vlam: Hoofstuk 5: Kners op die tande
Niekie is op deadline. Dié keer regtig. ’n Erge deadline.
Daar was weer onluste in die Pretoria-middestad en winkels is geplunder. Die polisie beweer hulle het met rubberkoëels op die betogers geskiet, maar twee is noodlottig gewond. Niekie en fotograaf Henk Zeeman was die eerste persmense op die toneel.
Van die patroondoppies wat Henk afgeneem het, toon van die polisie het lewende ammunisie gebruik.
Niekie sukkel al heeldag om antwoorde uit die polisie te kry. Sonder ’n amptelike antwoord is haar voorbladstorie in sy maai.
Halfses die aand bel James Maloto, ’n polisiewoordvoerder, uiteindelik.
Niekie weet dadelik hy is ’n junior. Hy vra weer haar vrae. Sy het dit reeds per e-pos gestuur.
Hy maak of dit die eerste keer is wat hy van die patroondoppies hoor. Hy gooi wal en slaan vure dood.
Niekie staan vas. “Ons gaan dit publiseer, met of sonder julle kommentaar. Ek neem ons gesprek op.”
Sy weet sy vat ’n kans. ’n Ervare polisiewoordvoerder sou dit weet. Maloto val oor sy woorde, maar Niekie sê sy wil dadelik ’n antwoord hê.
Maloto praat met iemand in die agtergrond. Hy vra of Henk seker is hy het die patroondoppies op die toneel afgeneem.
“En die twee dooie betogers? Van wanneer af tref dit noodlottig?”
Die lyn gaan dood.
Niekie voel hoe haar nek rooi vlam van woede en ongeduld.
Dan lui haar foon.
“Ek wag vir ’n antwoord. Ons is op deadline. Wat is julle verklaring oor die lewende ammunisie?”
Daar is ’n stilte aan die ander kant van die lyn.
“Ekskuus?”
Niekie besef dit is nie Maloto nie.
“Wie praat?”
Die stemmetjie is effe uit die veld geslaan deur haar duidelike ongeduld.
“Eee … dis Hanro van Clivia wat praat. Ek en Claudia en Jaco Vermeulen vergader gou oor jou klere.”
Die vlamme op Niekie se nek is nou dieprooi.
“Ek is nou op deadline! Ek kan nie nou met jou praat nie!”
Maar Hanro is ’n klein vasbytertjie. Hy laat hom nie afsit nie. Sy baas en die land se top ontwerper sit langs hom en hy gaan nie laat los nie.
“Ons moet net gou jou mates kry.”
“Watse mates?”
Die stemmetjie raak effe angstig.
“Van jou klere. Watter grootte rok dra jy?”
Niekie vererg haar.
“Claudia behoort te weet ons is nou op deadline by die koerant. Ek werk aan ’n groot storie en terwyl jy my tyd mors, kan die polisiewoordvoerder nie deurkom na my nie. Ek gaan dus nou die foon neersit. Totsiens.”
Die foon lui dadelik weer.
Dis weer Claudia se skoothondjie.
“Watter nommer rok dra jy?”
“Ek dra nie rokke nie! Los my nou uit want ek het werk om te doen!”
Die outjie byt vas.
“Watter grootte bra dra jy?”
Niekie uiter ’n sagte kragwoord agter haar hand.
“Jy speel seker? Wie is jy eintlik?”
Die stemmetjie antwoord dié keer met selfvertroue.
“Ek is Clivia se moderedakteur. Ons het dringend jou mates nodig. Jaco gaan more oorsee.”
Niekie trek uit frustrasie aan ’n bos van haar krulle.
“Wie de hel is Jaco? Ek is ernstig, my ou, ek is op deadline en ons wag net vir die polisiewoordvoerder se antwoord. En jy hou my foon nou besig. Ek gaan dus weer neersit. Jy kan my oor ’n halfuur bel.”
Sy druk die foon dood en bel dadelik die woordvoerder se kantoor. Hy tel op.
“Juffrou Branders?”
Sy weet sy is die enigste joernalis wat weet van die lewende ammunisie en hulle wil groot gaan met die storie.
“Ons gaan nou ’n verklaring aan jou e-pos.”
“Wag ’n bietjie! Aan wie gaan jy die verklaring almal stuur?”
Maloto hakkel effe.
“Aan die pers.”
“Is jy mal! Ek is die enigste joernalis wat weet van die ammunisie en nou gaan jy my storie bedonner!”
Dan bedink sy haar. Sy praat mooi.
“Asseblief, meneer Maloto, julle gaan my storie aan almal breek. Wat staan in julle verklaring?”
Sy kners op haar tande. Sy moet nou fyn trap anders val haar en Henk se storie plat.
Maloto maak keel skoon.
“Die polisie ontken amptelik dat daar opdrag was om lewende ammunisie te gebruik. Ons betreur die dood van die twee betogers. Daar sal ’n ondersoek wees. Ons sal persverklarings moet uitstuur.”
Niekie sien hoe haar voorbladstorie disintegreer.
“Meneer Maloto. Ek is op deadline. Dit was ’n bitter moeilike dag. Kan ek julle vra om te wag tot twaalfuur vanaand voor julle die verklaring uitstuur? Ek vra regtig baie mooi.”
Sy probeer so vriendelik moontlik klink.
“Goed, juffrou Branders. Maar ons stuur die verklaring tienuur vanaand uit. Wanneer julle tweede uitgawe gesak het. Dis al wat ek kan belowe.”
Niekie is nie seker of sy dankbaar moet wees nie. Haar scoop gaan net die plattelandse gebiede haal. Sy sal met Piet moet praat. Dalk moet hulle die storie aanlyn breek.
Sy tik so vinnig sy kan. Sy is net gereed om haar storie te stuur, toe haar foon weer lui.
“Dit was ’n halfuur. Kan ek nou jou mates kry?”
Niekie besef sy sal die mannetjie van haar lyf af moet kry anders gaan sy nie haar deadline haal nie. Haar brein werk oortyd.
“Ek dra ’n size small T-hemp en ’n no 6-broek. Ek het lanklaas ’n nuwe bra gekoop en het geen idee hoe groot my boobs is nie. Tevrede? Kan ek nou my storie klaar skryf?”
Hanro se foon is duidelik op speaker phone. Sy hoor Claudia in die agtergrond. Sy sê Hanro moet iemand stuur om Niekie te kom meet.
“Wanneer kan iemand jou kom meet? Ons sal die mates vir Jaco deurstuur.”
Niekie probeer tik terwyl sy praat.
“My vvvrrek Claudia! Ek is op deadline! Gee my asseblief net ’n break!”
Claudia neem self die foon.
“Nicola, jy is nie die enigste mens op deadline nie! Indien jy vergeet het, Mediahuis bestaan uit vele publikasies. Ons almal werk op spertye. Ek stuur more-oggend nege-uur iemand na jou kantoor om jou te kom meet. En as hy klaar gemeet het, gaan koop om liefdesnaam vir jou ’n ordentlike bra. Ek het laasweek gesien hoe pap hang jou boobs. Nee man, ruk jouself reg. Jy is nie meer ’n tiener-tomboy nie. Jy is ’n volwasse vrou. En ja, skryf tog nou jou storietjie klaar.”
Toe druk die redakteur van Clivia die foon in Niekie Branders se oor dood.