Vlam: Hoofstuk 4 deur Martie Swanepoel. Hooffoto: pexels.
Lees die vorige hoofstukke van ons nuwe vervolgverhaal, Vlam:
Niekie se hart bokspring as die bekende naam op haar selfoon flits. Sy vererg haar vir haar hart se weekheid. Na al die jare kry die blessitse Fransman dit steeds reg.
Marco Momple. Na ses maande se stilte.
“Ja?” antwoord sy kortaf, maar met afwagting.
Die diep stem met die aksent wat vlinders oor haar maag kan laat vlieg reageer.
“Het jy my gemis?”
“Nee.”
Sy lieg. Sy het haarself van kleins af geleer wat die moeite werd is om te mis, en wat nie. Haar hart het Marco gemis. Haar kop nie.
“Ek het gesê jy moet saamkom.” Sy stem is effe beskuldigend. Hy wou haar regtig saamneem. Hierdie ding wat tussen haar en onbeperkte avontuur staan, begryp hy nie. Hy kan sy klein rugsak en sy kamerasak pak en net gaan. Sy nie. Hy verstaan haar ding oor haar pa, maar hierdie ander ding, dit is vir hom vreemd.
Hy was van kleins af ’n reisiger. Eers was dit nie sy keuse nie, maar later het dit deel geword van wat hy is. Sy sendeling-ouers het van nedersetting na nedersetting in Sentraal-Afrika getrek. Dis waar Marco gesien het wat mense aan mekaar kan doen. Hoe oorlewing en die veg en vlug die slegste en beste uit mense kan bring.
Niekie luister na sy stem. Dit streel haar hart.
Marco, wat net leef vir die volgende avontuur wat hy deur sy kameralens kan vasvang. ’n Deel van haar is soos hy. Maar sy hunker na iets wat hy nie verstaan nie. Sedert haar ma in haar graad een jaar uit hul weermag-huis weggestap het agter ’n blink lewe aan, het daar ’n wens in Niekie gegroei.
Eendag, as sy groot is, gaan sy ’n goeie ma wees. Sy en haar man en kinders gaan in ’n huis bly met roosbome voor in die tuin en ’n grasperk waarop haar kinders gaan speel. Dan kan sy en haar man op die stoep sit en na hul kinders kyk.
’n Pa, ma en kinders.
Dit het tot ’n obsessie in haar hart gegroei en sy het al hard probeer om dit met haar sinisme te vernietig. Daar is so min huwelike wat hou. Die ding van die ma, pa en kind wat gelukkig is, is net ’n mite, het sy haarself probeer oortuig. Maar die droom het vasgesteek. Asof dit deel is van haar DNA. Dit het ’n kloof tussen haar en Marco geword. Marco sal nooit ’n sentrale veilige nessie hê waarheen hy elke keer kan terugkeer nie. Sy huis is die volgende plek waar hy sy rugsak neersit. Niekie het avontuur in haar, maar sy het nodig om iewers gekoester te voel.
Marco vertel van sy nuutste avontuur. Hy het die verstommende manier om ’n gesprek na maande se stilte te hervat.
“Sirië klink rof.”
Sy het daagliks gekyk hoe dit in Sirië gaan. Uit belangstelling … en omdat Marco daar is. Sy het sy foto’s gevolg wat hy vir die internasionale agentskap neem.
“Ek sien jy kom Cannes toe.”
Marco se netwerk informante stel nooit teleur nie.
Niekie weet klaar. Marco gaan ook in Cannes wees.
“Cannes is mos nie jou scene nie, Marco?”
Hy lag sy beterweterige laggie.
“Beslis ook nie joune nie, Vlam. Maar vanjaar is dit myne. My girl gaan daar wees.”
Niekie se moedswillige hart bokspring. Blessitse Marco.
“O? En wie is die nuutste meisie op jou slagoffer-lys?”
Weer die laggie.
“Miskien sal ek vanjaar vir daai Garbers-girl gaan. Dan kan ek ’n goeie woordjie vir jou doen. Jy gaan mos met haar en haar boyfriend onderhoude doen? Duard behoort van jou te hou. Hy is mal oor action Barbies.”
Niekie se wange en nek vlam op van woede. Marco ken haar swak plekke.
“Is daar iets belangriks wat jy wou sê? Ek is op deadline.”
Marco weet goed Niekie is nie op deadline nie.
“Ek sien daarna uit om jou weer te sien, Vlam. Ons gaan hulle in Cannes wys hoe mens paartie hou. Jy beter vir jou ’n paar rokkies kry.”
Sy vererg haar. Wat is dit met almal en haar kleredrag? Veral Marco. Hy behoort haar beter te ken as iemand anders.
“Jy weet, noudat ek daaraan dink, ek het jou nog nooit in ’n rok gesien nie! Maar moenie worry nie, ons leen vir jou ’n paar. Ek het kontakte. Jy weet mos ek is ook nie ’n ou vir grênd aantrek nie, maar ek belowe jou ek sal ’n suit leen en dan gaan wys ons hulle hoe om hulle ou dorpie rooi te verf. Ons wys hulle we clean up well.”
Niekie het Marco ontmoet toe sy na universiteit as vrywilliger-sendeling in sentraal-Afrika gewerk het. Marco was pas klaar met sy vyf jaar kontrak met die Franse Vreemde Legioene en het foto’s van die onrusgeteisterde en oorlogsones in die hart van Afrika vir National Geographic geneem. Hy het weens sy militêre agtergrond en kennis van die gebied gou opgang gemaak as oorlog-fotograaf. Veral omdat hy vreesloos in ’n gebied kon ingaan. Agter sy lens, het hy onaantasbaar gevoel.
Dis die Fransman se deernis met die mense wat hy afneem, wat Niekie getrek het.
Baie mense oordeel fotograwe in misdaad en oorlogsgebiede omdat hulle die lelikste deel van die mensdom se nalatenskap afneem. Niekie het verstaan hoekom Marco juis dit na sy militêre loopbaan wou doen. Deur die lens van sy kamera wil hy en ander fotograwe die gewone mens in staat stel om ’n ooggetuie te wees van wat werklik in oorlogsgebiede aangaan. Dit is nie ’n mooi prentjie nie. Dit photoshop nie die geweld uit nie. Dit wys waartoe die mens in staat is.
Lank voor Niekie Marco ontmoet het, het sy die gedig War Photographer deur Carol Ann Duffy gelees. As weermagkind met ’n liefde vir fotografie het die woorde haar getref.
“A hundred agonies in black and white
from which his editor will pick out five or six
for Sunday’s supplement,
the reader’s eyeball prick with tears
between the bath and pre-lunch beers.
From the aeroplane he stares impassively at where he earns a living and they do not care.”
Die mens agter die lens wat die geskiedenis vaslê.
As student in die joernalistiek het Niekie die geskiedenis van die sogenaamde Bang Bang-klub in Suid-Afrika geken. Ken Oosterbroek, Kevin Carter, Greg Marinovich en João Silva was helde vir haar en mede-joernaliste wat op harde nuus fokus. As misdaad- en militêre verslaggewer het sy later die verslaafdheid aan adrenalien leer ken. Daardie dryfkrag om eerste op die toneel te wees en jou opponent te scoop met die beste storie.
Dis hoekom sy Marco beter verstaan as baie mense. Sy dryfkrag. Die verslawing van vreesloosheid.
Daar was ’n stadium wat sy bereid was om alles op te gee om saam met Marco van die een oorlogsgebied na die ander te gaan. Sy het haar werk bedank en vir twee jaar saam met hom in Afghanistan gewerk. Dit was van die gelukkigste dae in haar lewe. Sy en Marco op die mespunt van aksie. Hulle was saam met die Amerikaanse soldate op patrollies en het berig oor die skermutselinge. Hulle het die oorlog geleef.
Hard gewerk en hard gespeel. Sy was verslaaf aan Marco en hul opwindende lewe.
Niek Branders het sy dogter haar avontuur gegun. Dit het aan sy hart gevat elke keer as sy foon lui, maar hy het geweet wat dit is wat haar dryf. Dieselfde ding wat hom na sy diensplig permanent by die weermag laat aansluit het.
Maar hy het ook geweet sy sal weer terugkom. Hy ken sy kind se behoefte aan daardie huis met die ma en pa op die stoep en die kinders op die grasperk. Dit het sy hart nog altyd gebreek dat hy dit nie vir haar kon gee nie.
“Vlam?” Niekie hoor die sagtheid in Marco se stem wat aan ’n plek in haar hart se binnekamers raak. “Ek mis jou. Ek kan nie wag vir Cannes nie.”
Toe raak die selfoon-sein dood.
Niekie staar na die foon.
Marco.
Skielik kan sy ook nie wag vir Cannes nie.