Vlam Hoofstuk 39: Gebedsroep deur Martie Swanepoel. Hooffoto: pexels
Om op te vang met die vorige hoofstukke van Vlam, klik hier.
Vlam Hoofstuk 39: Gebedsroep
Niekie is ’n tawwe koekie, maar sy is bang. Sy weet waar sy aangehou word. Sy en Henk het al die skuilplek in Fordsburg saam met ’n bendelid besoek. Sy onthou die sirenes wat gereeld by ’n nabygeleë fabriek afgegaan het en die gebedsroep van die nabygeleë moskee.
Dit gee haar ’n soort gerustheid om darem te weet waar sy is. Sy weet die Moslems het vyf gebedstye deur die dag en dit help haar om te skat hoe laat dit is aangesien sy in ’n vertrek sonder vensters aangehou word.
Sy is vasgebind op ’n bed en sy leef in vrees dat haar aanhouers hul dreigemente sal uitvoer om haar te verkrag as sy nie haar samewerking gee nie. Elke keer as ’n bendelid by die vertrek inkom, vryf hulle suggestief oor haar bene om hulle dreigement te benadruk,
Sy luister angsbevange na die onderhandelinge in die vertrek langsaan. Sy ken Immerman se agtergrond en weet hy sal geen genade toon as hy in ’n hoek gedruk word nie.
Sy word yskoud as sy besef hulle gaan Duard gebruik om die losprys groter te maak en om aan hul eise te voldoen.
Die bendelede maak geen geheim daarvan dat hulle besig is om die polisie om die bos te lei met hul relings nie.
Die reëling dat Immerman na ’n vliegveld geneem sal word en van daar landuit sal vlug, is net ’n rookskerm.
Immerman is nie van plan om Suid-Afrika te verlaat en sy waardevolle misdaadnetwerk agter te laat nie. Die feit dat hulle die plan voor haar bespreek, laat haar besef dat sy nie lewend uit die situasie gaan kom nie!
Sy voel sy het ’n groot nood, maar is te bang om te vra om badkamer toe te gaan. Die vorige keer wat sy gevra het om die toilet te gebruik, het hulle haar gedwing om ’n bedpan te gebruik. Haar nood was so groot dat sy dit gedoen het en sy het verneder gevoel toe die bendelid haar broekie aftrek en die bedpan onder haar indruk. Hy het heeltyd smalende aanmerkings oor haar anatomie gemaak.
Niekie was al ’n paar keer in lewensgevaar, maar die keer weet sy, is haar situasie benard.
’n Bendelid kom sit langs haar op die bed.
Sy weet sy naam is Jimmy.
Hy is die een wat haar tot dusver die menslikste behandel het.
“Is jy dors?” vra hy.
Sy knik haar kop en hy trek die verband om haar mond af.
“Jy beter presies doen wat hulle sê anders gaan hulle ’n paartie hou met jou lyf.”
Ondanks die water wat sy gulsig sluk, voel haar mond droog van vrees.
“Wil jy toilet toe gaan?” vra hy daarna, en dan sonder om te wag vir haar antwoord, bring hy die bedpan nader.
Hy sien die vrees op haar gesig.
“Ek sal jou met dignity treat. Maak net vinnig klaar voor Clive inkom.”
Die verligting is groot.
“Hulle gaan jou netnou met Henk laat praat. Moet nou nie trieks met hulle probeer nie, ek het jou gewaarsku. Hierdie ouens is hard core.”
Maar Niekie se brein spring dadelik in aksie. Vandat sy besef het dat sy waarskynlik nie lewend uit die situasie gaan kom nie, weet sy sy het nie veel om te verloor nie. Maar sy gaan ook nie net oorgee nie, sy gaan terugveg.
Sy dink wat sy vir Henk kan sê om aan te dui waar sy aangehou word.
Haar brein fynkam elke stukkie detail van haar en Henk se vorige besoek aan die bendeskuiling in Fordsburg.
Henk het ’n Moslemvriend, Imra, en sy onthou hy het haar daardie dag vertel wat die verskillende gebedsroepe van die Moslems deur die dag beteken.
Later die middag kom gee Clive haar instruksies oor die foonoproep wat sy na Henk moet maak.
Sy moet presiese detail gee van hoe laat die helikopter by die selle gaan land en waar die geld oorhandig moet word.
“Geen trieks, onthou, ons sal nie omgee om ons dreigemente uit te voer nie. Jy het ’n lekker lyf.”
Sy beduie na die band om haar mond.
Sy gaan haar kans waag om met hom te onderhandel.
Hy haal die verband af.
“Toe? Wat het jy te sê?”
Hy druk sy gesig tot teenaan hare.
Sy asem ruik soos ’n ou asbak wat klam geraak het.
“Ek sal alles doen wat julle vra, maar ek wil ’n boodskap aan my geliefdes stuur. Dis al wat ek vra.”
Hy lek met sy tong oor haar wang.
Sy ril.
“Oukei, maar jy weet wat op jou wag as jy kanse vat.”
Hy hou die foon teen haar oor.
Sy luister gespanne hoe Henk se foon vier luie gee voor hy antwoord.
“Henk?”
Henk se stem is hees van spanning. Hy luister na die instruksies.
“Vlam, is jy oukei?”
Clive gluur waarskuwend na haar.
“Ja, ek is oukei. Ek wil net hê jy moet vir my Pa en Imra liefde stuur.”
Dis omtrent dieselfde tyd wat die Maghrib, die sonsondergangsgebed, vanaf die moskee naby die skuiling weerklink.
Clive druk die foon dood.
“Dis nou genoeg praatjies van jou kant. Imra? Wie is dit? Het jy dan nog ’n boyfriend? Hmm, jou rooikop slet?”
Niekie dink vinnig.
“Imra is my hond. My pa en my hond is die naaste aan my. Ek verlang na my pa en my hond.”
Genadig lyk dit of Clive haar storie koop.
By die kantoor sit Henk ’n ruk nadekend met die foon in sy hand.
Imra? Hoekom sal Niekie in haar groot oomblik van nood juis vir iemand liefde stuur wat sy nog nooit ontmoet het nie?
Dan dring dit tot hom deur.
Die gebedsroep wat hy in die agtergrond van die oproep gehoor het … Imra … Die dag toe hy en Niekie by die bendeskuiling in Fordsburg was, het hy haar van Imra en die gebedsroepe vertel!
Die groep mans staan gespanne na Henk se stilswye en kyk.
Dan spring Henk op.
“Ek weet presies waar hulle Niekie aanhou! Sy is in Fordsburg! Ons moet kol. Loxton dadelik laat weet!”
Maar Dan kom staan Duard voor hom.
“Henk, as ons Niekie ooit weer lewend wil sien, moet jy ons vir die volgende twee uur vertrou. As ons jou nie binne twee uur bel nie, kan jy vir Loxton laat weet waar Niekie is.”
Luister ook na ons splinternuwe, gratis voorlesing uit die pen van Martie Swanepoel: Dans met die rooi rok.