Vlam hoofstuk 34: Esprit de Corps deur Martie Swanepoel. Foto: pexels
Om op te vang met die vorige hoofstukke van Vlam, klik hier
Vlam hoofstuk 34: Esprit de Corps
Dis al laatnag as iemand aan Niek Branders se voordeur klop.
Hy skrik nie.
Hy het die besoeker eintlik verwag.
“Kom in.”
Dan skink hy twee glase klippies en coke.
“Jy ken dit seker? Dit het my deur die army gekry. Klippies en coke.”
Die jonger man rol die glas tussen sy lang vingers.
“My pa het dit mos ook gedrink. Te veel daarvan.”
Die man praat Afrikaans vlot. Aksentloos.
Niek maak of hy niks agterkom nie. Hy is nie verras oor die skielike bekentenis nie.
“Ek weet, ou seun.”
Hy vou sy arm om die jonger man se skouers.
“Ek het gehoor dinge het later skeefgeloop.”
Die jong man lyk kwesbaar.
“Niemand mag hiervan weet nie. Ek vertrou jou al is jou dogter ’n joernalis. Ter wille van die esprit de corps wat eens tusen jou en my pa was. Broederskap, dit het my pa my darem vertel. Niemand weet van hom nie. Ek leef heeltemal anoniem, weet jy? Losgesny van alles. Toe ek die eerste keer van die fliek hoor, wou ek niks daarvan weet nie. Maar toe dink ek dit is tyd om vrede te maak.”
Niek steek ’n sigaret op.
Hy hou die pakkie Chesterfield na die jong man.
“Jou pa het dit ook gerook.”
Die jong man knik sy kop.
Hulle rook die sigarette woordeloos.
“Wat onthou jy alles?” vra Niek.
“Ek onthou die klippies en coke. Meer bottels Klipdrift as wat ek wil onthou. Oral. In die huis, in die garage, weggesteek in die tuin. My pa het sy geheue daarmee probeer verdrink.”
Niek gee hom kans om te praat.
“Hy het my en my ma geslaan, die grensheld. Hy was genadeloos. ’n Monster met ’n medalje. Ek het hom gehaat. Ek was nie hartseer toe hy homself geskiet het nie.”
Die jong man huil.
“Was jy jammer toe hy dood is, oom Niek? Na als?”
Oom Niek … Dis die eerste keer wat die jong man hom so noem.
Niek gaan haal sy foto-albums.
“Kan ek?”
Die jong man lyk skielik verbouereerd.
“Ek het nooit foto’s van my pa as jong soldaat gesien nie. Hy het als verbrand. Asof hy …”
Niek maak oop by die eerste foto’s van hom en Ewie.
“Jou pa was ’n goeie ou op sy dag. Ons wou saam die terroriste platvee.”
Hy wys foto’s van twee laggende jong soldate. Van twee verliefde paartjies. Daar is foto’s van harde dae tydens opleiding. En dan net enkele foto’s van hom en Ewie voor daardie dag.
“Wat dink oom het daardie dag in my pa se kop verkeerd gegaan?”
Niek steek nog ’n Chesterfield op.
“Die grens het baie ouens se koppe geskud. Die angs, die adrenalien, maar meestal die angs. Kol. Giepie het altyd gesê daar is nie ’n ateïs op die grens nie. As hulle op jou skiet, bid jy kliphard. Daardie dag. Jou pa was bang. Hy het ’n buddy se breins van sy klere afgevee. Dis nie maklik nie. Hy het gecrack en gehardloop en daarna kon hy nooit weer omdraai nie. Ek het daardie dag saam met jou pa gelieg om sy gat te red. En toe groei die leuen groter as wat ons gedink het. Ek het die afgelope weke baie daaroor gedink. Ek het ’n aandeel gehad in daardie leuen. En toe kan ek nie die gevolge van die leuen aanvaar nie.”
Die jong man staar na die laaste foto van sy pa in die album. Hy sien iets in die man se oë wat hy nooit in sy pa se oë gesien het nie. ’n Lag. Hoop.
“Jy en Alano … gister? Hy weet ook?”
“Ons sal weer praat, ek en hy. Hy sal verstaan. Dis beter as ons hierdie ding los in die verlede. Ons praat hom deur tot ons almal beter voel. Dan los ons dit. Ons praat nie weer daaroor nie.”
Die jong man blaai terug na die foto’s van die twee verliefde paartjies op Potchefstroom.
“My ma het nooit vrede gemaak nie. Ons is Frankryk toe. Na haar mense. My pa het ’n vreemdeling vir haar geword na die medalje, het sy altyd gesê.”
Niek onthou die beeldskone Franse meisie.
“Dis jammer dat ouens nie berading gekry het na die grens nie. Eers aan die einde van die Bosoorlog was daar sielkundiges om die ouens by te staan. Voor dit was daar geen berading nie. Jou pa was ook maar net ’n slagoffer van daardie stelsel. Mens het maar met jou buddies gepraat oor wat gebeur het. Maar nadat die ding met jou pa gebeur het, dink ek, was daar nie baie ouens waarmee hy sy geheim kon deel nie. Ek was die enigste ou wat werklik geweet het wat daardie dag gebeur het toe ons Alano uit die bos gesleep het. En na die debriefing het ek en Ewie nooit weer gepraat nie. Ons was diep buddies, maar ons broederskap is daardie dag gebreek. Jy moet probeer vrede maak met die ding, ou seun. Ek het laasnag finaal besluit dit is tyd dat ek oor die ding kom. Ek het ’n aandeel gehad in dit wat van jou pa geword het en ek is jammer daaroor.”
Die twee mans drink nog ’n klippies in stilte.
Elkeen besig met sy eie kop.
“Ek gaan na jou pa se graf ry. Ek gaan vrede maak. Ek is al ’n ou man. Dis nou tyd om die ding verby te kry. Hierdie fliek van jou. Dit gaan die regte storie vertel oor die Bosoorlog, maar die storie van ek en jou pa en Alano gaan tussen ons bly. Ons gaan dit onder die stof van Owamboland gaan begrawe. En dan los ons dit daar.”
Die jong man kyk op.
Niek sien sy pa in sy oë.
“Ek gaan saam as oom na my pa se graf gaan. Ek dink ek het dit al besluit voor ek Suid-Afrika toe gekom het. Ek gaan vrede maak. Dankie, oom.”
Niek druk die jong man teen hom vas.
“Ons maak ons los van hierdie ding.”
Die ou man en die jong man skud hande.
“Esprit de corps,” sê Niek.
“Esprit de corps,” herhaal die jong man in ’n perfekte Franse aksent.
As jy van hierdie vervolgverhaal hou, gaan jy dol wees oor ons voorlesing, Botox, Barbies en Bietse. Klik hier!