Vlam Hoofstuk 33: Nagmerries deur Martie Swanepoel
Klik hier om op te vang met die vorige hoofstukke van Vlam
Vlam Hoofstuk 33: Nagmerries
Na ’n paar stewige slukke wyn by die after paartie, is Niekie oor die verleentheid van die stukkende beeldjie.
Sy ontspan.
Tot ’n bekende stem agter haar praat.
“Drama volg jou ook net waar jy gaan.”
Duard neem haar aan die arm en gaan staan tussen haar en Pieta.
Sy doen haar bes om nie te wys dat die man haar ontsenu nie.
“Pieta, dis nou Duard Wayne.”
Piet skud hoflik blad. Hy is nie ’n man wat deur iemand se sterstatus gevlei sal wees nie.
“En Duard, dit is my pa, kol. Niek Branders.”
In ’n breukdeel van ’n sekonde is daar skok op haar pa se gesig.
Of verbeel sy haar?
Duard gaan staan reg voor Niek.
Na die handdruk hou hy Niek se hand lank vas.
“Wat ’n voorreg, kol. Branders. Ek het al so baie van u gehoor.”
Niekie besef dat sy haar pa nog nooit in detail met Duard bespreek het nie.
Sou hy opgelees het oor haar pa?
Sy het haar pa nog selde ontsenu gesien, maar sy kan sien die Hollywood-ster se teenwoordigheid rattle hom.
Hoekom? Sy wonder. Haar pa hou dan nie eens van die akteur se flieks nie?
Dit is asof Duard en haar pa vir haar en Pieta met die res van die gesprek uitsluit. Hulle praat net oorlog. En, haar pa nooi die man na sy huis! Duard wil sy army buddies ontmoet en na die army memorabilia kyk!
Dit moet als deel wees van hoe hy homself vir sy rol voorberei, troos Niekie haarself vir haar ongemak oor die man se oordrewe belangstelling in haar pa.
Daardie nag slaap Niek Branders byna niks nie.
Die fliek van die Amerikaners het van die eerste oomblik aan sy siel gekrap. Maar sy ontmoeting met Duard Wayne het ’n diep seer oopgekrap en hy weet sy vriende gaan dieselfde voel as hulle die akteur ontmoet.
Hy weet hulle gaan dit ook ervaar … die ou bekende.
Daardie oë.
Vir Niek gaan die gekrap in sy siel nie meer oor die vrees dat die Amerikaners hulle bosoorlog kaap met ’n fliek nie. Dit gaan oor die oopkrap van ’n ou storie waaroor deur die jare net gefluister is.
In die newels tussen slaap en brandewyn-en-coke kom te veel ou herinneringe na die oppervlak.
Dinge wat hy gehoop het hy lankal onder ’n paar lae aanvaarding kon wegsteek.
In een van sy drome kom staan Ewie voor hom. Sy beste army pel, Everard Wynand du Preez …
Die laaste boesemvriend wat hy ooit gehad het.
Daarna het hy nooit weer ‘n ou so na aan sy siel toegelaat nie.
Dan is Duard Wayne skielik deel van sy droom. Hy voel weer die skok as hy die man sien. Die Amerikaner wat die rol van ‘n bosoorlog-held kom speel, ’n held …
Dan is hy in sy droom weer op die grens. Die reuk van kordiet hang in die lug. Hy ruik diesel, hy voel vrees en adrenalien. Kleingeweervuur, mortiere, 90 millimeter kanonne, die gesuis van RPG7-vuurpylvuur deur die lug.
Hy is weer by die oorgrensoperasie wat sy lewe verander het. Operasie Jupiter.
Hy ruik die bekende reuke van Ovamboland. Verlangs dreun kolonel Giepie se stem “… aanvalsroete, verdedigingslinies, masjiengeweerstellings … sandmodel … “
Die mirages, die artellierie. SWAPO in hul loopgrawe. Die Bravo- stoppergroep wat in twee posisies wag vir SWAPO. Hy sien die flits van die terroris se RPG7. Vuur en rook uit Ewie se ratel.
In sy droom soek hy Ewie tussen die bosse.
Hy sien ’n stewel onder ’n bos uitsteek. Is dit ’n SWAPO-stewel of Ewie se stewel? Hy kan nie onthou nie.
“Moenie skiet nie,” gil Ewie. Of is dit die terroris?
In sy droom sleep hy Ewie en die terroris terug na die basis.
Dan hoor hy kol. Giepie se stem.
“Jy was dapper, Du Preez. Hier is vir jou ’n medalje.”
Dan hoor hy hoe kol. Giepie en die manne vir hom lag.
Hy sit in die stof langs die terroris en sy buddies lag vir hom.
Ewie se blikmedalje verblind hom.
Niek Branders skrik wakker.
Hy voel moeg. Dis asof hy ure deur die bosse na Ewie gesoek het.
Hy skink nog ’n klippies. Dan staan hy op en sleep sy ou army-trommel nader.
As hy deur die albums blaai, hoor hy stemme van ver uit die verlede.
“In watter rigting is die luitenant?” Hy hoor mans lag.
Hy kyk na foto’s van Ewie as dapper troep.
Niek sit met sy kop tussen se hande.
Dit was die bosoorlog. Dit het Ewie gecrack.
Maar ’n stem vra hom iets wat hy nie wil onthou nie.
“Hoekom het Ewie stilgebly? Hoekom het hy toegelaat dat jy die ‘rap’ vat vir die mislukte operasie? … Hoekom?”
Niek onthou die verraad. Die ontnugtering.
Dit was nie die angs, die bloed en die breins wat hom wat Niek is gecrack het nie. Dit was Ewie. Sy buddy. Ewie se stilte. Ewie se medalje.
Dit het ’n bloedspoor in sy muwwe geheue gelaat.
Hy weet hy sou weer dieselfde gekies het. Hy sou weer sy buddy se gat gered het.
Vroeg die volgende oggend bel Elton vir Niek. Duard wil hom dringend sien.
“Daar is iemand wat jy dalk graag sal wil ontmoet. ’n Ou wat in dieselfde tyd as jy in Ovamboland was. Hy was aan SWAPO se kant en het Nichols bygestaan met die draaiboek. Hy het spesiaal gevra om jou te ontmoet.”
Al die herinneringe dreig om te veel te word vir Niek. Hy wens party van die dinge kon maar net in die verlede bly. Maar hy besef ook hier voor hom staan nou ’n kans om genesing te kry van party goed wat vir jare soos ’n kanker aan hom vreet.
Hy was sy gesig met koue water. In die spieël sien hy homself as jong luitenant. Agter hom sien hy Ewie se laggende gesig. … of sien hy iemand anders?
Hy weet al van gisteraand af … Daar is nie by hom twyfel nie.
Ewie en Anel. Hulle het nooit weer saam gekuier nie. Hy het net die stories gehoor.
Die alkohol en gesinsgeweld.
Die kind.
Laatoggend hou ’n voertuig voor sy deur stil. Drie mans klim uit. Elton, Wayne en nog ’n man. ’n Ouer man.
Hulle skud hand.
Hy en die ouer man kyk mekaar diep in die oë.
Niek is skielik terug in die bos. Hy hoor swaar asemhaling. Hy sien die stewel uitsteek. Dis ’n SWAPO-stewel.
“Don’t shoot,” se die man in sy herinneringe.
Die ouer man se handdruk is warm.
“Kol. Niek Branders,” se hy. “Ek het gehoop hierdie dag gaan aanbreek. Ek wag al jare om jou weer te ontmoet.”
Dan stel die man homself voor …
Maar Niek weet reeds wie dit is.
Dis Alano Gumba, die SWAPO streeksbevelvoerder, wat hy destyds gevange geneem het.
Niek neem die mans na sy sitkamer. Hulle gesels oor al die Bosoorlog-memorabilia.
Hy en Alano gesels nie oor wat daardie dag gebeur het nie. Hulle bly vir eers stil.
Net voor hulle vertrek, onderbreek Alano die stilte.
Hy Roep Niek eenkant.
“Ek is bly dat jou army-loopbaan vir jou goed uitgedraai het, Niek. Ek het deur die jare dikwels aan jou gedink. Ek weet presies wat daardie dag gebeur het. Julle het nie gedink ek verstaan nie, jy en Du Preez, maar ek het geweet wat aangaan. Ons gaan dinge regstel. Ek en jy en Duard.”
Het jy Vlam Hoofstuk 33: Nagmerries geniet? Dan gaan jy baie van ons voorlesing van Botox, Barbies en Bietse hou! Klik hier