Vlam, Hoofstuk 26: Die keuse deur Martie Swanepoel
Het jy geweet? Vlam is gratis en jy kan dit enige tyd lees! Om op te vang met die vorige hoofstukke, klik hier.
Vlam, Hoofstuk 26: Die keuse
Laatmiddag laat die concierge van die hotel weet dat haar vervoerrelings na die première verander.
“Mnr. Duard Wayne sê u moet sesuur vanaand gereed wees aangesien u voor die première u werk moet afhandel. Hy het die perssekretaris laat weet dat u reëlings verander.”
Genade! Dink die man hy kan sommer net haar lewe kom oorneem? Dis nie dat hulle besties is na die onderhoud nie. Daar is bloot ’n wapenstilstand. En die groen rok …
Noudat die tasse met haar ontwerpersrokke uiteindelik gearriveer het, wonder sy of sy nie liewer by Claudia se reëlings moet bly en die geskeduleerde rok moet aantrek nie. Sy kyk na die smaraggroen skepping wat teen die kasdeur hang. Dit koggel haar, lok haar.
Uiteindelik weerstaan sy die versoeking en trek dit aan. Net om te toets, belowe sy haarself.
Die materiaal streel haar vel soos sagte oggendson. Dit vlei oor haar borste en sitvlak en sy kan die reënerige klamheid in die vars bries voel wat deur die venster op haar kaal rug waai. Sy gaan staan buite op die balkon. Die middaglug skyn deur die varsheid wat die pas afgelope reënbui gelaat het. Sy voel soos ‘n prinses op die balkon … in die groen rok. Seker nader aan Aspoestertjie, glimlag sy vir haarself.
Sy hoor ‘n harde wolwefluit van onder.
Het die Franse nie maniere nie?
Sy kyk na die mense wat op die boulevard by die strandkroegies kuier. Stylvol, gesofistikeerd. Die vroue, nooit oordadig aangetrek nie. Subtiele styl.
Nog ’n wolwefluit volg. Dan probeer haar oë die oorsprong in die klein groep mense oorkant die boulevard opspoor.
Haar blik verstar. Marco!
Sy gaan dadelik in na haar kamer en maak die balkondeur toe. Na hierdie uitputtende dag is hy die laaste mens wat sy wil sien.
Sy tap ’n bad water. Sy het strelende olies nodig om te ontspan voor die aand se harde werk. Dit dreineer jou energie as jy op jou voete moet dink op die rooi tapyt. Sy is daarby ook nog ’n bietjie onseker of sy die nodigste mense sal herken. Sy weet darem die blessidse Duard Wayne gaan daar wees … en Melissa Garbers, hy het haar mos vanoggend gevra of sy nog gaan?
Effe jaloers wonder sy of die paartjie saam gaan opdaag.
Haar gedagtes word onderbreek deur die foon. Sy laat dit lui.
Dan begin dit weer.
Die persoon sal seker nou die boodskap kry dat sy nie gaan antwoord nie, dink sy, maar die foon begin ‘n derde kleer lui.
Daar is net een mens wat so knaend kan wees.
Sy klim vies uit die bad en draai die handdoek om haar.
“Ma chérie?”
Sy vererg haar.
“Ek is nie jou cherry nie!”
Sy hoor die moedswillige laggie.
“O, is jy nog kwaad?”
Burkina Faso … wat is daar wat hy nie verstaan nie? Hy is ’n selfsugtige buffel wat haar in die donker hart van Afrika tussen scaly mense gedrop het en op sy eie missie vertrek het. Sy het reeds besluit dit is nie die soort mens wat ’n plek in die romantiese afdeling van haar hart verdien nie.
“Is jy nie ’n bietjie vroeg aangetrek nie?”
“Wat bedoel jy?”
“Daardie groen waas waarin jy soos prinses Grace op die balkon verskyn het?”
Sy sjarme is verlore op haar. Sy is geïrriteerd.
“Ek het dit net aangepas, en Prinses Grace het nie rooi hare gehad nie.”
“O ek weet, chérie, ek weet.”
Die irritasie laat haar lus voel om die foon neer te sit.
“Wat soek jy, Marco?”
“Ek en my vriende is oorkant by die boulevard en ek het gewonder of jy wil afkom vir ‘n drankie? Ee … maar trek liefs daai groen rok uit. Dit gaan effe overdressed wees vir ‘n strandkroeg.
“Ek is in die bad.”
Marco gee ’n smeulende laggie.
“O, sal ek dan liewer oorkom? Dit klink vir my baie meer opwindend as my vriende.”
Niekie is vas van plan om nie weer te swig voor Marco se sjarme nie.
“Bly weg van my, Marco. Bly weg. Ek rus want ek moet vanaand werk.”
“In daardie groen rok? Jy gaan al die aandag van die sterre af steel, en ek moet jou swaarsku, hulle hou niks daarvan om die kollig te deel nie.”
“Marco, ek is hier om te werk. Los my nou, ek moet gaan rus.”
Sy plak die hotel-foon neer en haal dit van die mikkie af. Sy skakel haar selfoon af en hang ‘n Do Not Disturb-bordjie aan haar deur.
Blessidse Marco.
Haar brein wil nie afskakel na die oggend se vermoeiende onderhoud nie.
Sy het nie verwag dat Duard so baie van die Bosoorlog sal weet nie. Hy het gepraat met emosie en werklike empatie vir die soldate wat grensdiens gedoen het. Dis merkwaardig dat hy hom as akteur so diep in die emosie van die oorlog kon ingrawe.
Na ‘n slapelose uur bel sy haar pa. Hulle praat Bosoorlog-stories.
“Dit stel my gerus dat die man oor die draaiboek gekla het. Lyk my ek en jy was verkeerd oor die wannabe-soldaat? Hy klink nie soos ‘n akteur nie, hy klink soos iemand wat die siel van oorlog verstaan.”
Sy het nog altyd al haar geheime met haar pa gedeel. Veral in die afwesigheid van ‘n ma-figuur het sy in haar tienerjare al haar verliefdhede en avonture eerlik met haar hom gedeel.
Sy lap alles uit oor die reën, die motorfietsrit, die flirtasie.
“My kind, moet nou nie jou hart gaan verloor daar nie. Al klink dit of die man se kop reg staan oor die fliek, beteken dit nie ek wil hê hy moet met my dogter se hart speel nie. Dan gaan ek en hy oorlog maak!”
Sy het haar pa niks vertel van die groen rok nie.
Teen vyfuur bekyk sy die swart rok van Jaco Hoesenaam wat Claudia vir haar uitgekies het vir die aand. Stylvol, effe afgetone, soos Claudia meen ‘n joernalis moet lyk wat op en af trippel langs die rooi tapyt. Dan kyk sy na die verleidelike groen rok. Beslis nie wat Claudia vir haar sou uitsoek nie. Dit gaan aandag trek.
Melissa en Duard gaan vanaand saam daar opdaag, vermoed sy.
En, dis hoekom sy die groen rok gaan aantrek. Sy weet dit gaan onnodige aandag trek, soos haar swart pakkie met die perspartytjie, maar sy voel roekeloos. Dalk is dit die vars Franse lug, maar sy voel ‘n opwinding oor haar vel tintel.
Die concierge bel stiptelik sesuur. “U vervoer is hier, Mej. Branders.”
Sy sien hom dadelik in die voorportaal raak. Marco staan met sy rug na haar. Dan draai hy om en sy hele gesig verhelder.
“Ma chérie, Vlam! Jy lyk verruklik!”
Sy kyk rond vir haar drywer na die funksie.
Marco hou sy arm galant na haar uit.
“Sal ons?”
“Sal ons wat?” vra sy
“Sal ons ry? Jy moet mos werk?”
Daar is geen manier wat sy saam met Marco na die première gaan ry nie.
“Ek het ander vervoer, dankie.”
Marco neem haar gesig tussen sy hande.
“Jy verstaan nie, Vlam, ek is jou vervoer. Duard het my vertel van julle onderonsie en besluit ek is die regte mens om jou na die première te neem.”
Niekie kan haar emosies nie verstaan nie. Hoekom voel sy so teleurgesteld dat Duard haar weer aan Marco wil afsmeer?
Dan stoot sy Marco weg.
“Nee, Marco, ek sal my eie vervoer reël.”
Sy stap na die concierge.
“Sal u vir my ‘n taxi laat kom?”
Het jy geweet? Ons het ’n opwindende vervolgverhaal, Botox, Barbies en Bietse, uit die pen van Martie Swanepoel. Dis voorgelees deur Elize Cawood, en jy kan gratis en enige tyd daarna luister.