Vlam, hoofstuk 25, Woorde sny diep deur Martie Swanepoel. Hooffoto: pexels
Het jy al die vorige hoofstukke van Vlam gelees? Klik hier om op te vang.
Vlam, hoofstuk 25, Woorde sny diep
Sedert Duard gehoor het hy het die hoofrol van die Bosoorlog-fliek losgeslaan, het dit ou emosies losgemaak wat hy lankal weggebêre het. Diep in die verlede wat hy so verbete vir almal wegsteek.
Die Suid-Afrikaanse Bosoorlog het van 26 Augustus 1966 tot Maart 1990 gestrek. Hy weet dit. Hy ken elke feit van daardie oorlog. Hy weet wie was vriend en wie was vyand.
“Het jy enige idee hoe groot die magte was wat aan die oorlog deelgeneem het?”
Hy weet Niekie dink dis ’n strikvraag.
“71 000 aan die Suid-Afrikaanse kant en 122 000 aan die vyandige kant. Mens kan dit google, weet jy? 32 000 lede van SWAPO, 40 000 Kubane en 50 000 FAPLA-lede.”
Vir ’n oomblik is Niekie op haar plek gesit.
“Baie van my pa se vriende het gesterf. Weet jy hoeveel Suid-Afrikaanse seuns het gesterf?”
Duard geniet die vrae wat soos ’n tafeltennisballetjie heen en weer oor die tafel bons.
“So ver ek weet, is daar 2 500 name op die Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument in Pretoria, maar ek meen daar is baie name wat nog ontbreek. Daar is name van manne wat in diens van die weermag gesterf het en nie as grenshelde erken word nie omdat hulle in konflik was met die high brass. Het jy dit geweet, mej. Branders?”
Hy het nou al Niekie se aandag.
“Soos ek gesê het, my pa en sy vriende het diens gedoen in daardie oorlog.”
Duard stel ook sy eie vrae.
“En hoe het hulle gevoel toe die aankondiging in 1990 gekom net dat die oorlog verby was?”
Niekie kyk uitdagend na die akteur.
“Hulle was de bliksem in.”
Duard ken sy feite.
“Ek het die Boetman-debat gelees. Ek weet.”
Niekie is verstom.
Die glansprins het inderdaad nie net oppervlakkige kennis van die Bosoorlog nie. Hy weet ook wat tussen die lyne gebeur het.
“Hoe sou jy gevoel het as jy in hulle posisie was, mnr. Wayne?”
Duard glimlag.
“Ek sou ook de bliksem in gewees het.”
Hy gebruik die Afrikaanse word “bliksem” en dit val haar op hoe maklik dit op sy tong val.
“Jy moet met ’n Afrikaans-Engelse aksent praat in die fliek. Gaan jy daarmee sukkel?”
Die glansprins skuif hom reg in sy stoel en val weg in vlot Afrikaans: “Ek het reeds geoefen. Ek glo ek sal regkom, dankie dat jy vra.”
Niekie wonder of sy of Elton die meeste verbaas is.
Maar Duard verduidelik sy foutlose aksent.
“Ek is ’n ernstige akteur. Ek sorg dat ek voorbereid is op my rolle. Terloops, het jy geweet dat ek Frans, Duits en Nederlands vlot kan praat? Laasgenoemde is waarskynlik hoekom ek nie met Afrikaans sukkel nie.”
Sy verduideliking maak sin.
“Ek verneem jy het beswaar gemaak teen die aanvanklike draaiboek en daarop aangedring dat dit herskryf word?”
Elton maak keel skoon. Hy wil Duard se aandag daarop vestig dat hy nog nie vergeet het hoeveel moeilikheid hy veroorsaak het nie. Daar is hewige gesprekke gevoer en Hollywood se top-draaiboekskrywer moes in die proses sy trots in sy sak steek en die draaiboek herskryf.
“Ek is gesteld op die korrekte feite van die draaiboek van elke rol wat ek vertolk, mej. Branders. Ek lees wyd oor elke oorlog. Ek verstout myself om te sê dat ek nogal ‘n kenner is op die gebied. Van die Romeinse tydperk tot vandag. Dis my passie. Ek het ’n groot boekery oor elke moontlike hoek van oorloë. Ek glo aan balans. Ek wil weet wat elke deelnemende party se motief vir die oorlog is. Ek was nie tevrede met die eensydigheid van die eerste draaiboek nie. Ek het gevoel dit skep sensasie uit ’n oorlog, wat ek glo, ’n teer saak is vir elke soldaat wat daarin geveg het.”
Dit voel vir Niekie of sy ’n eggo van haar pa se woorde hoor.
“Dit was vir my belangrik dat die dapperheid van die Suid-Afrikaanse soldate reg uitgebeeld word. Hulle het teen ’n oormag geveg. Maar ek bewonder ook die rol wat mense soos kol. Jan Breytenbach in die oorlog gespeel het. Ek verneem hy leef nog? Ek wou graag met hom wou gesels as ek Suid-Afrika toe kom. Ek sou ook graag jou pa en van sy vriende wou ontmoet. Ek wil onder die vel inkom van ’n soldaat wat in die oorlog geveg het. Nie net die manne wat medaljes vir dapperheid gekry het nie. Elke soldaat wat geveg het. Elke seun wat verpligte diensplig gedoen het. Gewillig of onwillig. Elkeen het ’n rol gespeel. Die helde en diegene wat as lafaarde uitgetree het.”
Niekie voel hoe haar woede teenoor die man kalmeer, maar sy wys dit nie openlik nie. Hy “praat” die taal van haar pa en sy vriende en sy voel al meer gerus oor hoe hy ‘n held in die fliek sal uitbeeld.
“Daar is baie stories oor die oorlog wat nog nie geskryf of vertel is nie.”
Hy onderbreek haar.
“Dit weet ek baie goed. Dit is so in elke oorlog. Daar is gesinne wat diep deur die bosoorlog geraak is. Nie net gesinne van die helde nie. Ook gesinne van diegene wat nie as helde uit die oorlog getree het. Die lafaards. Diep seer loop van die glorie tot onder in die diepste wortels van elke oorlog.”
Niekie merk op hoe gespanne Duard voorkom. Sy het hom nie voor die tyd as so ’n intense mens opgesom nie.
Hy hou aan gesels sonder dat sy vrae stel.
“Ek kan jou verseker dat ek die volle impak en verantwoordelikheid van my rol besef. Daar is geen manier dat ek ’n wanindruk wil skep van wat werklik daar gebeur het nie.”
Die onderhoud spoel oor die bepaalde tyd. Niekie hoef geen verdere vrae meer te stel nie. Duard se monoloë beantwoord elke vraag wat sy beplan het om te vra.
Elton dra tee aan en kyk toe hoe die aanvanklike teenpole aan weerskante van die gesprek uiteindelik na ’n neutrale grond beweeg.
“Juffrou Branders, ek weet ons tyd is verby, maar daar is nog baie wat ek oor julle bosoorlog wou sê. Ek hoop ons loop mekaar nog in die volgende dae raak.”
Niekie kan nie glo dat die man vir wie sy enkele uur gelede so woedend was, haar hart week gemaak het nie.
Hulle groet. Hy hou haar hand in beide sy hande.
“Dit was ’n interessante onderhoud, mej. Branders. Ek hou van ’n uitdaging. Ek hoop ek sien jou vanaand by die première. En, dra jou groen rok. Smaraggroen sal mooi pas by jou oë.”