VLAM: Hoofstuk 20: Sopnat deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/brazzo
Het jy dalk ’n hoofstuk van Vlam gemis? Klik hier om op te vang.
Vlam: Hoofstuk 20: Sopnat
Die weke voor Cannes was ’n chaos van emosies. Werk, kantoorpolitiek, Kaapstad, Marco … haar ma. Genadiglik het Niekie soos ’n klip geslaap op die vlug na Cannes.
Na die ding met Marco was sy niks meer lus vir die luukse trippie na die Franse Riviera nie. Met Marco uit die romantiese prentjie was daar nie meer iets om na uit te sien nie. Sy was allermins lus vir die onderhoude met Duard Wayne en die Melanie-popsie, wat die rol van ’n oorlogkorrespondent probeer speel.
En die rits glansfunksies in die lyfklewende rokke van Jaco Vermeulen staan ook al weke soos ’n berg voor haar.
Niekie weet sy gaan Marco in Cannes raakloop. Of nee, wag, hy gaan sekerlik kom flikflooi ná hy haar in Burkina Faso so gruwelik gedrop het!
Maar sy neem haar voor dat haar hart verhard gaan wees teen sy sjarme.
Dit reën katte en honde in Cannes. Nie juis die verwelkoming wat sy verwag het nie. Gewoonlik gaan sy die weer na as sy reis, maar met die dolheid wat haar ma se dood in haar gemoed gelaat het, het sy in zombie-modus ingegaan en net gepak. Somersklere. Dis mos wat mens by die Franse Reviera verwag? Sonskyn, skemerkelkies, strande?
Die tasse met haar rokke vir die rooitapyt en die klere vir die onderhoud met Duard Wayne het nie saam met haar ander bagasie gearriveer nie. Die deeglike Claudia het seker gereël dat dit direk na die hotel geneem word?
Niekie grawe in haar karige tassie rond vir iets warm om aan te trek. In haar kamerasak kry sy die dun plastiekjassie wat sy altyd saamneem ingeval die weer haar oorval. Die baadjie het al beter dae gesien. Dit is nog stowwerig na Burkina Faso. Sy probeer red wat daar te redde is en vee dit met een van die weelderige wit waslappe van die hotel af.
Sy wil ’n ent gaan stap om haar kop gereed te kry vir die funksie later die aand. Al stort dit buite. Sy moet net uitkom.
Die Franse Reviera lyk mistroostig in die reën. Die legendariese Cote d’Azur se strande lyk uitgewas in die vaalheid. Verlangs sien sy tekens van die luukse seiljagte in die mistigheid.
Maar sy laat haar nie afskrik nie. Sy stap dat die water spat. Haar hare peul sopnat uit die kappie van die baadjie, maar sy stáp.
Dis asof die koue natheid haar laaf. Sy stap verby elegante boulevards, glansryke restaurante.
Die beroemde palmbome buig laag in die stormwind. Subtropiese blomme sluk gulsig aan die waters wat die hemele mildelik uitstort.
Niekie stap af met Boulevard de la Croisette, een van die imposantste strate in die riviera. Dis waar die rykstes van die rykes in hotelle tuisgaan vir die fees. Die historiese InterContinental Carlton staan imposant in die misweer.
Sy stap tot by die La Rosarie-park.
Haar skoene maak slof-slof geluide en sy trap moedswillig in die middel van waterplasse.
Die yswind vul haar longe.
’n Klein wegsteek-straatkafee lok haar met die aroma van warm sjokolade. Sy staan voor die venster en loer na binne. Sy is sopnat en hulle gaan haar waarskynlik uitgooi.
’n Motorfiets kom met ’n swierige swenk voor haar tot stilstand. ’n Boog water tref haar reeds deurdrenkte lyf.
“Jou swernoot! Kon jy nie sien ek staan hier nie!”
Vir ’n oomblik vergeet sy dat die motorfietsryer waarskynlik nie Afrikaans verstaan nie. Sy snou hom nog ’n paar onvleiende woorde toe. Hy staan skuldig voor haar. Sy Engels het ’n effense aksent en hy maak vreeslik verskoning vir sy onhoflikheid.
“Maar wat op aarde maak jy hier buite? Kyk hoe lyk jy! Jy sal longontsteking opdoen!”
Niekie se woede is nog nie uitgewoed nie. Sy snou die man nog ’n paar Afrikaanse beledigings toe.
“O, ek hoor jy is nie van hier nie? In watter taal sê jy my so sleg? Ek neem aan dit is nie klomplimente wat jy so kwistig uitdeel nie?”
Hy probeer haar rooi hare onder haar kappie indruk.
’n Ferm hand sluit om haar arm.
“Kan ek vir jou gaan koffie koop? Hierdie is een van die bes bewaarde plekkies in Cannes. Weg van die glans en besige hotels tydens die rolptrentfees.”
Niekie luister nie. Haar tande begin skielik op mekaar klap van die koue. Haar dun seilbroek kleef teen haar bene. Die dun jassie klou bedremmeld aan haar lyf.
“Kan ek jou terugneem na jou hotel?”
Sy gee in.
Die minste wat hierdie vreemdeling kan doen, is om haar terug te neem na haar hotel.
Sy klim woordeloos agter hom op sy motorfiets. Hy swiep en swenk verby luukse hotels.
Haar arms vou om sy lyf. Sy klou asof haar lewe daarvan afhang. Haar lewe flits saam met die bedremmelde Franse Riviera verby haar. Hierdie man jaag soos ’n besetene!
In haar gedagtes sien sy al die koerantopskrifte. “Joernalis sterf tragies in Cannes”
Onder die dik leerbaadjie voel sy ’n gespierde lyf.
Sy voel die selfvertroue waarmee hy die motorfiets in die swaar weer hanteer. Na ’n ewigheid hou hy voor haar hotel stil. Hy wag nie vir die deurman om haar met sy sambreel te kom haal nie en boender haar sommer self by die deur in.
“Toe, gaan neem ’n bad en sorg dat jy warm aantrek!”
Die vent het nie eens die ordentlikheid om sy valhelm af te haal as hy met haar praat nie!
Hy haal ’n kaartjie uit sy sak.
“Hier is my kaartjie, ek sal sorg dat jou klere na ’n droogskoonmaker geneem word.”
Dan verdwyn hy by die deur uit.
’n Toonbankklerk kom aangedraf met ’n handdoek.
Hy vou dit om haar en vra in om Frans verskoning vir die weer. Hy probeer vervaard om haar deurdrenkte klere droog te druk om te keer dat sy die luukse hotel vol drup.
Een van sy kollegas neem haar na haar kamer en tap woordeloos ’n stomende bad.
Nadat haar lyf ontvries het, vou sy die weelderige wit kamerjapon om haar dankbare lyf.
Kamerdiens bring warm sjokolade en ’n groot kom hoendersop.
Eenkant op die badkamervloer lê haar bedremmelde hopie nat klere.
In haar baadjie se sak kry sy die vreemdeling se kaartjie.
Haar oë kan nie glo wat sy lees nie!
“Duard Wayne.”