Vlam: Hoofstuk 2: Die kontrak deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock:MrKornFlakes
Duard Wayne is nou al ’n paar jaar Hollywood se warmste aksieheld.
Hy het die regte pakket wat vroue se hormone laat hande klap. Sy olyfbruin gelaat, smeulende grys oë, gekombineer met sy lang, lenige lyf maak hom een van die aantreklikste silwerdoekhelde naas Gerard Butler. Daarby spog hy met ’n netjiese sespak en bo-arms wat sy hemde op al die regte plekke laat bult.
Maar seker sy aanloklikste karaktertrek is die geheimsinnigheid wat rondom hom gehul is. Sy ware geboortenaam is een van die mees digbewaarde geheime in Hollywood. Niemand weet wat sy presiese land van herkoms is nie. Hy is obsessief privaat en juis dit vind die paparazzi onweerstaanbaar. Hulle grawe kompeterend in sy verlede rond en verskeie onbevestigde onthullings oor sy lewe is al in die geelpers gepubliseer.
Oor dit alles glimlag die smeulprins net geheimsinnig met sy skewe mondhoeke wat die vroulike geslag week in die kniekoppe maak. Die lyne langs sy mond plooi verleidelik saam sy diep stem met die effense vreemde aksent. Daar is mense wat glo hy is van Franse afkoms. Ander glo die Germane is sy voorvaders. Of die Pole of selfs die Hongare. Baie meen sy olyfgelaat en aristokratiese neus plaas sy herkoms dalk meer in die Mediterreense lande.
Hy kan die perfekte soldaat op die silwerdoek uitbeeld. Of hy ’n WOII-uniform, of ’n Marine-soldaat in Afghanistan speel. As Duard Wayne ’n uniform aantrek, word hy ’n soldaat asof dit in sy gene vasgehaak is.
Tog immer die globale verkleurmannetjie. Maar oor een ding is die media dit eens. Dié spiertier van die silwerdoek is nié van Amerikaanse oorsprong nie. Hy kan ’n Amerikaner speel, maar die sterre en strepe is nie in sy bloedlyn nie.
Dit was asof hy net op ’n dag in Hollywood sy opwagting gemaak het en die rolprenthuise dadelik op hom verlief geraak het. Agente staan sedertdien tou met draaiboeke om te sorg dat hul rolprenthuis die naam Duard Wayne op hul betaallys kry. Sy naam is die afgelope vyf jaar byna ’n waarborg dat ’n rolprent ’n treffer by die loket gaan wees en die dollars wêreldwyd sal laat inrol.
Hoewel hy al in ’n paar romantiese hoofrolle gesmeul het, is dit die aksie-held genre wat hom ongekende roem besorg het. Hy het die astrante stoutheid van ’n Bruce Willis, die eksentriekheid van ’n Johnny Depp, en ondanks die feit dat hy nog net in sy dertigs is, het hy ’n grysheid teen sy slape en ’n dagoud-baard wat George Clooney van sy troon as hartebreker af gestoot het.
Sy naam word gereeld aan dié van Melissa Garbers gekoppel en met haar ewe lang, lenige perfekte lyf is dié twee ’n gewilde silwerdoek-droompaar. Die aktrise se raafswart hare strek tot by die draak op haar stuitjie, wat sy graag by haar skrapse rooitapyt-rokke laat uitkrul.
Dis juis Melissa wat die vroulike hoofrol teenoor Duard gaan speel in Border War Patrol, die grensoorlog-fliek wat hulle aan die Suidelike punt van Afrika gaan skiet. Melissa speel die rol van ’n Suid-Afrikaanse joernalis wat oor die grensoorlog verslag doen, en dan op ’n dapper soldaat verlief raak.
Net so skuins voor middagete sit Duard in Elton Nichols se hoekkantoor in Cross Roads Studios se moderne glastoring in Los Angeles.
Elton vryf oor sy blinkgepoleerde kop. Hy swaai sy swart leerstoel in die rigting van Duard.
“Jy het my laat bloed sweet, ou. Plasse bloed. Ek dink ek weet watter speletjie jy wou speel. Kamma hardekwas oor die rol. Dis ’n droomrol vir jou en jy weet dit. Maar nee, jy speel mos hard-to-get! Kamma nie om die salaristjekkie op te stoot nie. Hel, ou. Jy was ekstra taai dié keer. Of is jy ’n bietjie bang vir Suid-Afrika? Skrik die Hollywood-held vir die nuus oor die nuutste opstande daar? En die misdaad? Waarvoor is jy bang, ou? Hierdie Suid-Afrikaanse ding het jou meer stuurs as gewoonlik gehad.”
Elton is reg. Duard het van dag een af weggeskram van die fliek oor die Suid-Afrikaanse grensoorlog. Hy het Elton verseker dit gaan nié oor die geld nie.
“Ek is net nie lus daarvoor nie. Ek is moeg na War Zone III so kort op War Zone II. Dit het aan my lyf gevat.”
Duard roem hom dat hy sy eie aksietonele doen, maar Elton het aangevoel daar is iets anders wat hom afskrik van Suid-Afrika. Hy kon nog nie sy vinger daarop lê nie, maar daar was iets wat Duard verbete laat vasskop het om nie Suid-Afrika toe te gaan nie. Dit het maande se oortuiging gekos om sy handtekening op die kontrak van Border War Patrol te kry. Aan die kontrak is ’n dik anneks met voorwaardes van geheg waarop Duard aangedring het.
“Hel, my ou, jy raak ’n prima donna,” het Elton oor die anneks gemor. Maar Duard se bepalinge het niks te doen met luukse voorkeure soos borrelbaddens in hotelkamers nie.
Soos sy gebruik, het hy bepaal dat die pers hom glad nie oor sy persoonlike lewe mag uitvra nie. Hy verpes die geelpers- en glansjoernaliste en weier gewoonlik om onderhoude aan hulle toe te staan.
Dié keer het hy onverbiddelik bepaal dat net een onderhoud aan ’n Suid-Afrikaanse joernalis toegestaan sal word, en dit moet ’n militêre beriggewer wees.
Hy het bepaal dat hy elke moontlike boek oor die Suid-Afrikaanse grensoorlog wil lees en alle beeldmateriaal wil sien wat daaroor beskikbaar is. Hy wil die draaiboek deeglik nagaan vir historiese korrektheid.
“Plasse bloed, my ou. Jy laat my sweet. Weet jy hoe moeilik is Harold Peters? Seker die taaiste draaiboekskrywer in Los Angeles! Nou wil jy vir my moeilikheid maak met daai man?”
Duard strek sy lang bene voor hom uit en skuif laer af op sy stuitjie.
“Ons het geteken, Elton. Dis my bepalinge. Ek keur die draaiboek voor ons skiet. Dis maklik.”
Elton vryf sky kop nog blinker.
“Die pers gaan ons mal maak oor onderhoude. Hoe meer hardegat jy is, hoe meer gaan hulle jou verpes. En waste nonsens is dit met die blyery? Hoe gaan ek dit regkry dat niemand weet waar jy gaan bly nie? Ek het my gaai af gesukkel om jou verblyf in Suid-Afrika en Angola te reël. Jis my ou. Hierdie een was taai.”
Duard speel met die glas water in sy hand. Sy lang vingers trommel liggies teen die loodkristal.
“Elton, hou op teem. Het jy die onderhoud in Cannes gereël? Onthou, ek is nie lus om met die een of ander Prada-queen van ’n vrouetydskrif oor nonsens te praat nie. Ek praat net met ’n militêre verslaggewer. Ons kan oor die bosoorlog praat. Oor niks anders.”
Elton gee ’n swaar sug. Duard is moeilik en hy is moeg daarvoor. Na dertig jaar in die bedryf het hy genoeg van akteurs en hulle “voorwaardes” gehad. Hy wil net die papierwerk van hierdie fliek afhandel.
“Ja, hier is die inligting oor die Suid-Afrikaanse verslaggewer wat in Cannes die onderhoud met jou gaan doen. Aangeheg is die ooreenkoms tussen jou en Mediahuis. Hulle is die grootste uitgewery in Suid-Afrika.”
Duard bekyk die dokument met ’n kritiese oog.
“Niekie Branders? Niekie? Dis seker ’n verkleinwoord vir Nick? Watter volwasse man laat toe dat mense hom Niekie noem?”
Elton sien die misverstand voor sy oë afspeel en hy is nie van plan om dit op te klaar nie. Hy help Duard nie reg nie.
“Nogal ’n rits pryse as militêre korrespondent gewen. Wonder of die outjie al ooit ’n regte oorlog beleef het.”
Duard lag beterweterig.
“Oukei, klink darem of die ventjie weet wat hy doen. Hierdie Niekie Branders moet net weet, ek gaan nie nonsensvrae beantwoord nie. Hy beter sy huiswerk doen voor hy Cannes toe vlieg.”
Elton besef hy moet nou die minimum praat. Hy wil net hê Duard moet die ooreenkoms teken. Hy glimlag tevrede as die goue handtekening gemaak word. Stilweg hoop hy arme Niekie Branders gaan opgewasse wees teen die moeilike aksieheld en al sy eise. Hy het haar naam op Goole gesoek en sy kennersoog het Niekie se grasgroen oë en koperrooi hare onder haar kenmerkende pette raakgesien. Nie te sleg nie. Beeldskone vroumens, het hy gedink. Hy het gelees dat haar pa ’n kolonel in die weermag was en sy as weermagkind grootgeword het. Dit en haar jarelange ervaring as militêre korrespondent kan dalk net genoeg wees om Duard Wayne op sy plek te sit. Duard is bekend vir sy wye kennis oor oorloë. Hy lees oor elke oorlog wat in die mens se geskiedenis plaasgevind het.
Elton neem die ooreenkoms met ’n tevrede opgewondenheid by Duard. Hy kan nie wag om Duard se gesig te sien as Niekie Branders by die Cannes-onderhoud opdaag nie. Hierdie girl gaan Duard dalk afbring aarde toe, dink hy tevrede.
Lees ook: Vlam: Die vervolgverhaal