Vlam: Hoofstuk 19: Tuiskoms deur Martie Swanepoel
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
As jy nog nie die vorige hoofstukke van Vlam gelees het nie, klik gerus hier om op te vang.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Niekie se aandag was nie by die skoonskropsessie in die personeelkantoor nie. Haar wese word die volgende paar dae oorheers deur die piep-piep-piep en pomp-suig-pomp-suig in die intensiewe waakeenheid van die Sandton-kliniek. Die enigste geluide wat aandui dat Elsa nog leef. ’n Meganiese lewe.
Sy wou nie teruggaan hospitaal toe nie.
“Ek gee nie om wat met haar gebeur nie,” het sy in woede vir haar pa gesê, maar daar was ’n seer in Niek Branders se oë wat sy nie uit haar gedagtes kon kry nie. Deur al die bitterheid en hartseer was hy nog altyd lief vir Elsa, en dit het Niekie woedend gemaak.
Haar kar se neus draai onwillig links uit William Nichol in Peter Place. Sy weet haar pa sal nog by die hospitaal wees.
Sy kan aan sy gesig sien hy is hewig onsteld, en dit ontsenu haar. Haar rots van ’n pa raak nie maklik ontsenu nie.
“Sy is breindood. Die toetse toon daar is geen hoop nie. Oom Herman en Tannie Ina is op pad. Hulle het saam met die dokters besluit hulle gaan vanmiddag die masjiene afskakel.”
Dit klink of haar pa se stem ver bokant haar kop sweef. ’n Deel van haar wil nie hoor wat hy sê nie. Sy wil onbetrokke bly by die emosies van die situasie. Dis al so lank wat sy niks wil voel oor Elsa nie.
Sy wil nie deel wees van die finale vergadering met die dokters nie. Dis ’n besluit vir mense wat vir Elsa omgee, nie vir haar nie.
Die koffie in die hospitaal-kafeteria is sterk. Haar lyf bewe van kaffeïene en ’n hartseer wat sy nie wil erken nie.
Niek Branders kom sit ’n ruk woordeloos oorkant haar. Dan breek hy die stilte.
“Ons kan elkeen ’n uur by haar sit. Dit is van drie-uur af jou beurt.”
Hy vra Niekie nie, hy sê haar.
Elsa is na ’n private kamer geskuif. Dis koud langs haar bed, maar dit het niks met die temperatuur te doen nie.
Niekie kyk na die vlekkelose vel, die dun perfekte neus, die koperrooi hare teen die wit kussing.
“Toe, waar is al jou boyfriends nou? Nou is dit net ons hier by jou. Die mense wat jy gedrop het,” dink sy moedswillig.
Haar kop dwarrel deur jare. Van ’n afstand sien sy ’n dogtertjie wat immer die voorhekkie dophou. Sy onthou speletjies met haar Barbie-pop en Ken en hul babapop. As niemand by was nie, was Ken en Barbie se name Elsa en Niek. Dan was die babapop Niekie. Hulle het gelukkig in die Barbie-huis in haar kamer gewoon.
Maar sy het later opgehou om dié speletjie te speel.
Sy kyk na die vrou wat vir haar emosioneel ’n vreemdeling is. Sy het Elsa gereeld op Facebook gestalk. Sy het haarself daaroor verag. Mens stalk nie ’n mens wat jy haat nie.
“Jy moet gaan vrede maak. Dis belangrik. Anders gaan jy altyd met die ding in jou hart rondloop. Gaan vergewe, my kind. Dis belangrik. Wat verby is, is verby. Maak jouself vry,” het haar pa gesê voor hy haar by die ICU se deur alleen gelos het.
Piep-piep-piep, pomp-suig-pomp-suig.
Die klanke weergalm deur die koue kamer. Niekie kyk na haar horlosie. Die minute tik te stadig verby.
Dan begin sy praat sonder om te beplan.
“Pa sê ek moet jou vry maak om te gaan, maar jy was nog altyd vry. Jy het daardie vryheid sommer net geneem asof ek en Pappa geen sê het nie. Jy was ’n selfgesentreerde, selfsugtige vrou en jy het ons baie seergemaak. Maar dis oukei. Dis nou verby. Ek vergewe jou, want dit maak my hart vry.”
Dis vir haar moeilik om die laaste woorde uit te kry. Haar lyf ruk van ’n diep hartseer.
“Jy was vir ’n ruk my mamma. Ek onthou die kere wat jy vir my stories gelees het, die borrels in my bad, die pony tails wat jy so maklik kon maak. Pappa het maar altyd gesukkel. Jy was vir my die mooiste mamma in die wêreld. Ek het later, toe jy weg was, ’n foto van jou onderin my kas gebêre, en as ek baie verlang, het ek Pappa se flits geneem en onderin my kas geklim. Dan het ek en jy gesels.”
Niekie hoor haar eie stem veraf. Sy luister na die piep, die pomp, en die suig. Dan streel sy oor die perfekte gesig.
“Van nou af is jy net my Mamma. Ek gaan nie meer kwaad wees vir jou nie. Ek gaan net onthou van die stories en die borrels en die pony tails.”
Sy sit die laaste halfuur in stilte langs die bed. Sy sien in haar gedagtes ’n ma en dogtertjie voor die spieëlkas. Die ma maak die dogtertjie se hare in ’n hoë pony tail vas. As die ma en dogterjie lag, wip-wip die pony tail met die vlamrooi krulhare vrolik.
Na ’n hele paar koffies kom roep haar pa haar weer in die kafeteria.
Die tyd het in ’n waas verbygegaan. Oom Herman en Tannie Ina wag reeds langs haar ma se bed. Die mediese personeel gaan stil aan met die prosedure.
Sonder al die pype is haar ma so beeldskoon soos altyd. Nee, sy is mooier as ooit. Sereen. Dis asof daar ’n vrede oor haar fyn gelaatstrekke vou.
Elsa se longe het geen wil om op hul eie asem te haal nie. Die lewe sypel sag en vredevol uit haar.
Hulle staan nog ’n paar minute. Tannie Ina huil.
Dan vat Niek Branders sy dogter se hand en stap saam met haar uit die hospitaal. Niekie voel die veiligheid van haar hand in haar pa se groot growwe hand. Vir ’n oomblik wens sy sy was weer ’n dogtertjie. Sy wens hulle het weer in hulle army-huis in Potchefstroom gebly. Sy wens sy kon weer met haar Ken en Barbie en hul babapop speel. En dan, wens sy, sy kon weer op die stoep sit en kyk na die tuinhekkie.
Dan sal sy haar ma sien aanstap. Haar ma se rooi hare sal wip-wip as sy stap.
Dan sal sy tuinhekkie toe hardloop.
Dan sal haar ma by die huis wees.
Vir nog wonderlike vervolgverhale, klik gerus hier – dis gratis om te lees!
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.