Vlam: Hoofstuk 13: Duard Ontplof deur Martie Swanepoel
As Duard Wayne ’n vloermoer gooi, doen hy dit met oorgawe. Almal in Hollywood weet dit. Maar hy gooi nie prima donna-tantrums nie. Sy woede gaan nooit oor onbenullighede nie. Dit gaan gewoonlik oor die een of ander beginselsaak. Oor die verskil tussen reg en verkeerd.
Hy is bekend daarvoor dat hy sy alles en meer gee vir ’n rol, maar as ’n draaiboek die werklikheid bietjie skeef buig, gaan hy oor tot stoomroller-aksie. Draaiboekskrywers se broekies bewe as hulle ’n teks na hom stuur. Hulle weet hulle moet fyn trap rondom die ware feite van historiese gebeure. Hy is nie ’n voorstander van stories wat toelaat dat die dramatiese effek die ware feite verdraai nie.
Dit het ’n paar vurige vergaderings by Cross Roads Studio en telefoongesprekke tussen Duard en Elton Nichols gekos voor die draaiboek vir Border War Patrol by sy huis in Malibu afgelewer is. Harold Peters, self ’n moeilike man, maar een van die beste draaiboekskrywers in die bedryf, het tot dusver geweier om een van Duard se tantrum-vergaderings by te woon. Die arme Elton het behoorlik rondgedans om sy hoofrolspeler én draaiboekskrywer gelukkig te hou. Hy weet wanneer om te dans, want beide Duard en Harold kan die dollars by die loket laat inrol.
Elton se lang geskiedenis met moeilike akteurs het hom al geleer hoe om hul buie te hanteer. Hy ken elkeen se sterk en swak punte. Veral hulle Achilles-hakke. Maar Duard se swakte sit in sy geheime verlede en hy kon nog nooit uitvind wat die aksieheld se skanse kan verkrummel nie.
Die Suid-Afrikaanse weermagtrommel vol grensmemorabilia wat hy saam met die draaiboek laat aflewer, weet hy, sal die held se hart vermurwe. Duard het een van die grootste versamelings oorlogmemorabilia in Amerika.
Hollywood se liefling vou die Suid-Afrikaanse weermaguniform stadig oop. Browns, soos wat hy gaan dra as hy die rol van Gerhard de Vos gaan speel. Elke detail van die rang en uniform is presies reg. Daarvoor het Elton gesorg. Daar is niks wat Duard so briesend maak as ’n militêre uniform waarvan die kentekens of medaljes nie honderd persent in plek is nie.
Duard se hande bewe as hy die browns op sy bed uitpak. Hy streel oor die tekstuur van die materiaal. Sy hand bewe. Hy tel die hemp op en druk dit teen sy gesig asof hy na die bekendheid van ’n reuk soek. Die materiaal is nuut en klinies.
Hy stroop sy klere van sy olyfbruin lyf af. Stadig, asof hy besig is met ’n gewyde seremonie, trek hy die uniform aan. Elke knoop en gespe perfek. Hy ryg die stewels se rieme uit en begin dit moeisaam terugryg. Soos hy geleer is toe hy nog ’n klein seuntjie was. Hy weet hoe om ’n stewel reg te ryg. Presies reg …
Hy staan voor die spieël. Van die uniform se nate is nie honderd present reg gestryk nie. Hy sal dit later self reg gaan stryk. Dit moet honderd persent wees. Hy weet. Hy onthou.
Sy skouers begin ruk as hy na die bekendheid van die beeld in die spieël kyk. ’n Ou, diep seer laat sy skouers skud. Hy kan nie na die man oorkant hom kyk nie. Daar is te veel bekendheid in die beeld. ’n Ou vrees. Hy herken die houding in die skouers, die gerigtheid van die ken. Maar dit is die grys oë wat hom van emosie laat bewe.
’n Ou bangheid kruip uit sy binneste. Hy gaan lê in ’n fetus-posisie op die bed. En Hollywood se aksieheld huil. Hy huil soos die klein, bang seuntjie wat hy eens was. Dit is die oë wat ou nagmerries weer oproep. Deur al die jare kon hy nooit sy vrees vir sy pa se kil grys oë afskud nie.
Na ’n rustelose slaap, trek hy die uniform uit en vou dit netjies op. Weermag-styl. Hy weet hoe om dit te doen. Presies. Hy onthou.
Hy wil nie na die ander items in die trommel kyk nie. Elton het sy huiswerk behoorlik gedoen, en hy waardeer die korrektheid van elke detail, maar dit is juis dit wat hom ontstel. Die ontstellende bekendheid van die trommel vol goed. Soos die trommel herinneringe wat hy in Frankryk in ’n stoorkamer toegesluit het. Die stoorkamer wat hy weet hy nooit weer wil oopsluit nie.
Dis eers die volgende dag wat hy die moed kry om die draaiboek te lees.
Dit begin by die oproeppapiere wat Gerhard de Vos kry, die harde basiese opleiding, sy ambisie, en hoe hy sy beste buddy op offisierskursus ontmoet. Die korrekte terme, range, opleidingskampe. Als is in plek. Harold Peters het skynbaar goeie navorsing gedoen. Die eerste skote wat die draaiboek uitbeeld, kon die verhaal van enige ander ou gewees het wat in Suid-Afrika na skool verpligte weermagdiens moes gaan doen. Daar was duisende outjies wat dieselfde pad gestap het.
Na die offisierskursus is Gerhard en Kobie Botha onafskeidbare buddies, aldus die draaiboek.
Dan gaan hulle grens toe.
En dit is waar die detail skoot vir skoot in die Angolese bos aan Duard se hart ruk. Hy het gehoop Peters se draaiboek is na aan die werklikheid, maar daar is dele wat vir hom te naby is. Dit raak aan dinge wat hy gedink het tot diep in die donkerste deel van sy kinderjare weggebere is.
Hy wonder nou of hy die rol sal kan uitbeeld. Die Afrikaner-outjie wat ’n held op die grens geword het. Dit is wat in die opsomming van die storie gestaan het. Maar noudat hy met die draaiboek daardie outjie se spore deur die Angolese oorlog volg, wonder hy. Sal hy ’n rol kan speel wat so diep in sy siel kan kerf?
Dit is die laaste derde van die draaiboek wat hom tot stillstand ruk. Hy gooi die draaiboek neer en bel Elton.
“Huh? Duard? Wat is verkeerd? Dit is drie-uur in die nag!”
Maar die emosie wat Duard dryf, laat hom nie deur tyd voorskryf nie.
“Ek onttrek!”
Elton se sug suis oor die foonlyn.
“Jy kan nie. Jy het geteken.”
Duard speel sy troefkaart. “Die voorwaarde was dat die draaiboek histories korrek is. Dit is nie! Dis verregaande! Dis ’n spul twak wat die Suid-Afrikaners se rol in die grensoorlog na missies vir massamoorde op die plaaslike bevolking van Angola laat lyk. Hulle het SWAPO beveg, nie die locals nie!”
Elton het geen idee waarvan Duard praat nie. Hy het die draaiboek besonder boeiend gevind. ’n Goeie lokettreffer. Die held is ’n soldaat wat in die skadu van sy dapper vriend stap, maar dan vind hy uit dat hulle missie nie gemik is om ’n SWAPO-basis op te blaas nie, maar wel ’n groep burgerlikes wat ’n SWAPO-terroris huives. Sy gewete pla hom só dat hy dit aan ’n beeldskone militêre verslaggewer uitlap en saam onthul hulle ’n spul missies in Angola waar onskuldige burgerlikes afgemaai is.
“Het Harold Peters enige behoorlike navorsing oor die bosoorlog gaan doen? Magtag, Elton, dis ’n spul sensasie wat hy opdis! Kyk, in enige oorlog is daar soms burgerlikes wat per ongeluk in die spervuur beland, maar om te maak of die Suid-Afrikaanse weermag net links en regs burgerlikes afgemaai het, is ’n gruwelike liegstorie. Dit gaan ’n herrie ontwikkel! Ek sê jou nou dit gaan moeilikheid veroorsaak, en met reg!”
Die swaar sug tril weer oor die telefoonlyn.
“Moenie so emosioneel raak nie, Duard. Dis net ’n oorlogstorie.”
Hy moet die foon ’n entjie van sy oor hou. Duard ontplof behoorlik.
“Het julle geen respek vir feite nie, Elton? Dink julle net aan die geld wat gaan inrol? Hierdie draaiboek is ’n sensasionele liegstorie. Dit laat die Suid-Afrikaners na ’n moordlustige spul klink. Ek het die oorlog bestudeer. Niks is verder van die waarheid nie!”
Elton weet hy sal moet begin vure doodslaan anders verloor hy die warmste aksieheld in Hollywood.
“Ons kan weer oor die draaiboek gaan saam met Harold. Ek is seker hy sal bereid wees om hier en daar ’n verandering te maak.”
Duard smyt sy waterglas teen die muur stukkend.
“Hy sal meer as ’n paar veranderings moet maak, my maat! ’n Hele paar veranderings! En dit is nie net ek wat in sy keel gaan afspring nie. Die Suid-Afrikaners gaan moeilikheid maak as hierdie draaiboek so bly. Glo my, jy wil nie die ou manne wat die ware grensoorlog geveg het, kwaad maak nie! Hulle weet waaroor die oorlog gegaan het. Verpligte diensplig het baie outjies in manne verander, en dit het ’n klomp gebreek. Maar as jy aan hulle oorlog se kern gaan karring, gaan dit moeilikheid veroorsaak. Daai manne vorm ’n broederskap en hulle weet waarvoor hulle geveg het. Maar een ding kan ek jou verseker, hulle missie was nie om Angolese burgerlikes in massagrafte toe te stoot nie.”
Duard se vlaag woede in die middel van die nag laat Elton ’n glas whisky nader trek.
“Is jy nou klaar, Duard? Kan ek nou gaan slaap?”
Net voor die foon dood klik, hoor hy sy aksieheld se stem voortdreun.
“Sorg dat Harold Peters later vandag by is as ek jou kom sien. Hoor jy?”
Het jy al die vorige hoofstukke van Vlam gelees?