Vlam: Hoofstuk 1: Die Opdrag deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/MrKornFlakes
Die opdrag
Niekie Branders gooi haar rugsak en sleutels op haar deurmekaar lessenaar neer. Mediahuis is nog in oggendstilte gehul. Die reuk van wyn en tabak kom uit die leë nagkantoor waar die koerant die vorige nag gesak het.
Niekie se lessenaar weerspieël haar beat: oorlog en misdaad. Die skoonmakers mag nie daaraan raak nie. Netnou krap hulle haar filing system deurmekaar, keer sy.
Drie leë blikkies Red Bull, ’n halfgedrinkte koppie koffie, ’n botteltjie Gaviscon as teenvoeter vir die garage pies waarop sy leef, Grandpa-poeiers vir min-slaap-hoofpyne, ’n gekamoefleerde keps van haar afgetrede army-pa, haarrekke vir haar ontembare bos krulle, stapels koerantknipsels. Teen die kennisgewingbord bokant haar lessenaar is verskeie pers-toegangskaarte met persakkreditasie vasgeplak. Trofeë van haar besoeke aan oorlogsones en internasionale misdaadtonele.
“Piet wil jou sien,“ gil Elsie, die nuusredakteur se sekretaresse, oor die leë lessenaars. Haar swart ogies loer nuuskierig na Niekie se reaksie.
“Ek het nog nie koffie gehad nie!” gil Niekie terug.
Sy kom elke oggend twee uur voor haar kollegas in. Saans verlaat sy die kantoor eers ná die tweede uitgawe gesak het.
“Dis hoekom jy nie ’n boyfriend kan hou nie,” kla haar ouma Tina. Sy wil haar enigste kleindogter so graag eendag in ’n wit rok voor die kansel sien. Maar op 30 ontwyk Niekie domestic nirvana. Sy glo in elk geval nie in ’n white picket fence-bestaan nie. Daarvoor het haar ma gesorg toe sy die pad gevat het en Niekie en haar pa alleen gelos het in die army-huis op Potchefstroom.
Kol. Niek Branders het sy dogter so goed grootgemaak as wat ’n army-kolonel ’n meisiekind kan grootmaak. Van sy tien jaar oud was, was dit net hulle twee daar in die army-huis. Daar was ’n doringdraad voor die huis waar ’n pa en kind sonder ’n ma oorleef het.
Niekie verkies die stilte van die vroegoggend op kantoor. Dan bel sy haar misdaad- en militêre kontakte. Sy verkies dit om in stilte te werk. Sy aan die een kant van die kantoor en haar nuusredakteur, Piet Gouws, aan die ander kant. En Piet se sekretaresse, Elsie Geselsie, soos Niekie haar noem.
“Piet sê jy moet nou dadelik kom! Ek sal koffie bring,” kom dit weer van Elsie.
Niekie weet goed dat Piet haar kan hoor en sien. Sy neem moedswillig ’n ekstra paar minute om op haar lessenaar rond te krap vir ’n pen en notaboek.
“Bly jy kon dit maak,” sê Piet sarkasties terwyl hy ’n tandestokkie in sy een mondhoek vasknyp. Hy steek ’n sigaret aan. Hy glo hy mag rook voor die verslaggewers inkom. Die nagkantoor se mense rook in elk geval ook in die gebou, keer hy as die gebou-bestuurder kom kla.
Elsie kom plak twee bekers koffie voor hulle neer. Sy staan nuuskierig rond.
“Maak maar die deur agter jou toe,” boender Piet haar by die deur uit.
Piet grawe rond in ’n paar hope dokumente.
“Jy het mos gemoan oor jy nooit ’n lekker luukse trippie kry nie. Jou drome het waar geword,”sê hy en sit ’n persverklaring voor haar neer.
Cannes-rolprentfees.
Niekie bekyk dit. Vir haar beteken dit glans en glorie. Rooi tapyte en aandrokke. Als wat sy verpes.
“Jy speel seker!”
Piet skuif die tandestokkie na sy ander mondhoek.
“Hulle wys oorlogflieks ook daar.”
Niekie ken Piet, sy weet daar is ’n vangplek. Haar oorsese opdragte was nog altyd in oorloggeteisterde gebiede of by plekke waar groot terroriste-aanvalle gepleeg is. Sy word nooit na Mauritius of plekke soos die Seychelle-eilande gestuur waar sy met ’n skemerkelkie kan ontspan nie.
“Wat moet ek by Cannes gaan doen?”
Piet skuif ’n foto van Hollywood se nuutste aksieheld oor sy lessenaar. Niekie ken die gesig van Duard Wayne. Hy is haar en haar pa se pet hate. ’n Wannabe-soldaat wat volgens Niekie se pa seker nog nóóit ’n regte geweer vasgehou het nie.
“Is hy vermoor?”
Niekie weet baie goed die aksieheld is nog in lewende lywe.
“Jy het seker so gehoop?” Lag Piet. “Jy, my liewe Vlam, het ’n voorreg waaroor vroue wêreldwyd droom. Jy kry ’n eksklusiewe onderhoud met hom oor sy nuwe oorlogfliek.”
Niekie voel hoe die bloed van haar nek na haar gesig opstoot. Haar wange gloei in byna dieselfde skakering as haar bos koper hare wat vanoggend weer in alle windrigtings staan.
“Dis nie my soort ding nie! Ek kan daai vent nie verdra nie.”
Maar Piet weet dit reeds. Dit is hoekom hy skud soos hy lag.
“Hierdie opdrag kom van bo. Jy is die man vir hierdie joppie.”
Hy praat spesifiek van “man” want géén manlike verslaggewer het soveel guts soos Niekie nie. Piet weet dit.
“Pieta, hy maak k… , hy maak stupid flieks. Hy probeer ’n oorlogheld wees en dit irriteer die wit blitse uit my uit! Ek het niks vir daai vent te sê nie.”
Piet trek haar siel verder uit.
“Dit gaan nie oor wat jy vir hom te sê het nie. Dit gaan oor wat hy vir jou te sê het. Soos ek gesê het, hierdie opdrag kom van bo. Die base voel sterk oor die een. Dit kan groot word.”
Niekie sluk vererg die helfte van haar koffie weg.
“Ag jimmel, Pieta, hoe groot kan ’n storie oor daardie slymbol se nuutste oorlogfliek tog word?”
Piet het sy punch line vir laaste gelos.
“Dit kan groot word, sê ek jou. Jou Hollywood-hero kom sy fliek hier in Suid-Afrika maak.”
Niekie luister met ’n klein bietjie meer aandag.
“Daar word baie internasionale flieks hier gemaak. Ek kan nie sien dat sy ou fliekie enigsins my belangstelling sal prikkel nie.”
Piet skuif weer sy tandestokkie.
“Glo my, dié een gaan jou volle aandag trek …”
Niekie kyk na Piet, sy ken hom al te goed om te weet hy praat nie nonsens nie.
“Watse oorlogfliek is dit? Hoekom dink jy ek sal daaroor wil skryf?”
Piet sit vorentoe. Sy hande vou voor sy mond asof hy ’n tafelgebed wil doen. Hy doen dit altyd as hy ernstig is.
“Die Amerikaners kom skiet in Suid-Afrika en in Angola. Duard Wayne speel die rol van ’n oorlogheld.”
Niekie sy grasgroen oë raak ’n skakekring donkerder van irritasie.
“So what’s new? Hy is mos altyd die hero.”
Sy gee ’n paar verontwaardigde snorkgeluide.
“Hierdie keer gaan hy ’n grensheld wees. Soos jou pa was. Die Amerikaners kom ’n fliek oor die grensoorlog maak.”
Niekie snak na haar asem.
“Maar dis ons oorlog! Ons storie! Hoe kan hulle? Wat weet hulle van die grensoorlog!”
Piet glimlag tevrede. Hy het geweet hy gaan Niekie se aandag trek met dié onthulling.
“Daar is reeds ’n paar manne wat hoogs ontstoke is oor die fliek. Manne uit jou pa se geledere. Die manne is meer de bliksem in as wat Chris Louw se Boetman was. Dis jou jop om uit te vind wat in die storie aangaan en wat die Amerikaners wil bereik. Dan is daar natuurlik ook ons huidige regering. As die moewie oor die grensorlog gaan en dit beeld die prentjie reg uit, gaan dit hulle irriteer. Hier kom ’n ding, Vlam, hier kom ’n ding.”
Niekie se kop maal van al die inligting.
Haar pa was ’n regte-egte oorlogheld. Hoe de hel kan iemand soos Duard Wayne dink hy het die reg om ’n grensheld te kom speel? ’n Held in ’n oorlog waarvan die Amerikaners niks weet nie!