Vida se beste vriend staan op trou. As hy hom lewenslank wil opsaal met ’n meisie wat die Barbie-model is, is dit sy saak. Dit is wel hinderlik dat sy as “best woman” ’n tuxedo-aandrok moet dra en alles wat daarmee saamgaan.
Sy’t ander probleme ook: haar onvergenoegde ma, haar immer swerwende pa, ’n ramparty wat uithaak en ’n Bosveldnaweek met gevolge.
As daar ooit ’n moontlikheid was dat Vida se beste vriend eintlik die liefde van haar lewe is, is dit nou te laat. Die strykkwartet speel omtrent al die troumars. En Vida se sin vir humor is meestal al wat haar staande hou.