Baie mense dink verkeerdelik vanielje kom van Mauritius af. Maar Madagaskar is die eintlike tuiste van dié geurige peulplant. Jy kan wel plomp vanieljeboontjies op Mauritius teen beter pryse as in Suid-Afrika koop. Ek het hier ook die eerste keer vars borrie teëgekom. Dit lyk baie soos gemmerwortel met ’n helder oranje kleur – en vlek net mooi alles. Hierdie bredie word met dié twee eilandbestanddele gemaak wat dit ’n baie unieke smaak gee.
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, gekneus
1 rissie, pitte verwyder en fyn gekap
10 ml (2 t) komyn
5 ml (1 t) borrie
2 gedroogde lemmetjieblare
1 vanieljepeul, in die lengte middeldeur gesny
1 x 400 g-blik heel tamaties, met ’n vurk fyngedruk
1 groen soetrissie, in blokkies gesny
500 g witvisfilette
8-10 garnale, skoongemaak
sout en gemaalde swartpeper
hand vol vars koljanderblare
lemmetjiewiggies
Instructions
1 Verhit die olie in ’n kastrol oor matige hitte. Soteer die ui, knoffel en rissie daarin tot sag. Voeg die komyn en borrie by en braai vir nog 1 min. 2 Voeg die lemmetjieblare, vanieljepeul en tamatie by. Prut vir 5 min. 3 Voeg die soetrissie en vis by, bedek en prut vir 8 min. Draai die vis om en voeg die garnale by. Bedek en prut vir sowat 2 min. tot die garnale pienk en gaar is. Geur na smaak. 4 Sit voor met koljanderblare en lemmetjiewiggies.