Vinette groet die Laan Inligting verskaf deur 7de Laan, verwerk deur Catherine Schenck. Hooffoto: Leana Clunies-Ross
7de Laan het gister ’n persverklaring uitgereik waarin hulle vir Vinette Ebrahim groet. Ebrahim sal tot 24 Oktober 2019 in dié gewilde sepie op SABC2 verskyn.
Vinette Ebrahim het die karakter Charmaine Meintjies vertolk. Sy (en haar tweelingsuster Vivian, ook gespeel deur Meintjies) het kykers vir meer as 19 jaar vermaak.
Haar karakter, Charmaine, is volgens 7de Laan se persverklaring, “diep gefokus op gesinswaardes, vriendskappe, en diens aan ander.” Maar, voeg hulle by “die tyd het aangebreek vir haar om met grasie en flair te groet.”
7de Laan noem dat in ’n langstaande sepie soos dié, kom ’n karakter se reis soms tot ’n einde. “Nadat ons huidige en verlede storielyne van 7de Laan geëvalueer het, het dit aan die lig gekom dat alle moontlike stories rondom Charmaine en Vivian uitgeput is.”
Hulle noem verder dat hulle vir Vinette sterkte wens in alles wat sy in die toekoms sal aanpak.
Hierdie nuus kom nadat daar vroeër aangekondig is dat Annelisa Weiland ook dié sepie later vanjaar sal verlaat. Ander gunsteling-karakters het reeds die Laan gegroet, insluitende Pierre van Pletzen, wat die rol van Oubaas vertolk het.