Die gebou waar ek werk, het ‘n make-over gekry. Ek verlustig my in die oop ruimtes, verbeeldingryke teëlpatrone, baldadige oranje en rooi aksente en veral in die wit lessenaar waarby ek sit.
Ek het net een probleem. Die lang spieël in die nuwe badkamer is lelik met my. Ek kan sweer hy maak my met opset korter en breër. Elke keer wonder ek: is dit ‘n optiese illusie, of lyk ek deesdae so? (Enige vrou sal jou kan sê dáárdie gedagtegang is in wese Onaangenaam en lei na die Oorweging van Onplesierige Opsies soos meer oefen/minder eet/’n verbete soeke na klere wat ‘korter en breër’ kamoefleer.)
Is dit moontlik dat ‘n fabriek in 2014 ‘n spieël kan vervaardig wat nie reg weerkaats nie? Of is my ouer spieëls by die huis foutief? Watter spieël moet ek nou eintlik glo? En wie sê die spieëls in klerewinkels se aanpaskamertjies is nie gedokter om vroue langer en skraler te laat lyk nie?
O genade. Dit begin nou klink na een van daardie samesweringsteorieë.
Die ergste is dat, afgesien van sekere spieëls, my waarnemingsvermoë moontlik ook aangetas is. Almal weet mense met dieetsiektes sien hulself as baie vetter as wat hulle is, en mense wat verlief is, dink weer hulle is pragtig. Natuurlik weens die kalfsogies waarmee hul geliefde hulle aankyk. Dis dus nie wys om op jou eie twee oë staat te maak nie.
Nee wat, ek gee op.
Ek gaan my voortaan min aan énige spieël steur. Met onverstoorbare kalmte gaan ek my beeld in winkelvensters, wieldoppe en die spieël in die badkamer by die werk betrag.
En as ek weer by die tandarts kom, sluk ek daai klein spieëltjie sommer in.