Verwerk jou pyn deur Corné Coetzee. Hooffoto: Ben White vir Unsplash
Pyn is deel van die lewe. Hoe versigtig, ordentlik en verstandig ’n mens ook al leef, of jy nooit ’n vlieg skade doen nie en of jy ’n gemene streep het, die een of ander tyd kom verdriet oor jou pad.
Iemand wat jy liefgehad het, sterf. ’n Verhouding verbrokkel, ’n huis met kosbare herinneringe moet verkoop word, jy word op ’n dag ’n afskeidspakket in die hand gestop (of nie) en jy moet hoor: “Ons het jou nie meer nodig nie.”
Om te reageer, om ongelukkig, bitter, wrokkig, verneder of verslae te voel wanneer jou lewe omvergewerp wordé, is bloot menslik. Dis wanneer hierdie gevoelens jou oorheers, deel word van wie jy is, dat dit tyd is om te laat gaan.
Lees ook: Jy kán herstel van trauma
“Vriende en familie sê dikwels vir iemand wat lyk asof hulle te lank treur of ’n wrok koester, ‘Laat gaan net,’ asof dit so eenvoudig is,” sê Liz Barrow, kliniese sielkundige van Johannesburg. “Dit is nie.”
Daar is ook nie ’n resep wat sal waarborg dat jy ’n emosionele las kan afskud asof dit soveel ekstra kilogramme is nie, sê Izan Hartman, ook ‘n kliniese sielkundige in Johannesburg.
“Dis ’n proses wat vir elkeen anders verloop. Bowendien is daar ’n belangrike geestelike of spirituele komponent by begrippe soos ‘laat gaan’, ‘berus jou daarby’, of ‘aanvaar dit’.”
Baie mense wat reeds begin het met hul eie laat gaan-proses spreek sielkundiges omdat hulle vashaak daarmee, of sukkel om die proses te voltooi. Die feit dat hulle hulp soek, wys dat hulle bereid is om met die proses te begin.
Om iets te laat gaan, impliseer dat ’n mens dit eers vasgehou het,” sê sy. “Dis amper ’n cliché om vir mense te sê: ‘Pyn het nie ’n ompad nie. Jy moet daar deur.’ Ongelukkig is dit waar. Jy moet erkenning gee aan jou hartseer.
Lees ook: Kan TRE help om trauma te verwerk?
“Die algemeenste reaksie van mense wat baie hartseer ervaar, is om te vinnig te wil laat gaan. Dit kan baie lank neem, selfs jare, om deur die pyn te werk. Ander hou weer te lank vas – gewoonlik weens onopgeloste kwessies wat in die verlede begrawe lê. Dis gewoonlik in albei gevalle ’n kwessie van nie ten volle erkenning aan die pyn gee nie.”
Want om erkenning te gee aan pyn kan ou wonde oopkrap. In dié proses is dit eerder swere wat ontbloot moet word. Die pyn is gewoonlik ’n teken dat daar ander seerkry is wat nooit behoorlik genees het nie. Ons almal ken mense wat ná die een of ander groot terugslag, soos ’n egskeiding, herstel en met wysheid en insig ’n nuwe begin kon maak en weer gelukkig is. Ander word byna daardeur verpletter.
Izan sê in sulke gevalle het mense dikwels ’n probleem om hulself te herdefineer wanneer ’n groot omwenteling plaasgevind het. As jy voor die egskeiding “Jan se vrou” was en dit nou nie meer is nie, kan dit moeilik wees om jouself as ’t ware te herwaardeer. Soms is daar ou emosionele bagasie wat jou verhinder om te glo dat jy iets anders – en dalk iets beter – as “Jan se vrou” kan wees.
’n Vertroueling, sielkundige of ander terapeut kan jou help om na seerkry in die verlede te kyk, daaraan erkenning te gee en daardie ou pyn vir ’n ruk lank “vas te hou”, insig daarin te kry en dan te laat gaan.
Maar dit kan ondraaglik wees om jou seer oor ’n onreg van lank gelede nóg nader te bring. Dit verg moed om jou pyn in die oë te kyk. En soms voel dit asof jy daardie kyk nie kan verduur nie.
Dis dan wanneer baie mense hul emosionele pyn onderdruk deur hulle te verdoof of af te stomp. Hulle prop die ure vol met besig wees, begin dalk so gou moontlik ’n nuwe verhouding – hoe opper-vlakkiger, hoe beter – werk, jaag, rook, drink, of wat ook al, soos ’n besetene. Soms ontken mense bloot dat iets fout is en gaan soos gewoonlik voort. Alles om die pyn op ’n afstand te hou.
Oriah Mountain Dreamer skryf só in haar boek The Invitation: “Ons moet baie vinnig hardloop as ons een stap voor hierdie pyn wil bly. Uitgeput, probeer ons dit begrawe … Ons is ’n baie krea-tiewe spesie … ons kan so te sê enigiets gebruik om onsself mee te verdoof. Maar deur dit te doen, word ons ervaring van vreugde ook geblokkeer. (…) Wanneer ons verdoof is, word dit moeilik om die wysheid te kry wat ons in ons lewe en die wêreld nodig het.”
Dis ook wanneer mense vermydingsgedrag toon dat die pyn op ander maniere manifesteer, soos ’n siektetoestand, langtermyn-depressie of bitterheid wat ‘n hele lewensuitkyk beïnvloed, sê Izan.
“’n Wond wat nie ten volle gevoel is nie, vreet van binne af,” stel Mountain Dreamer dit.
Lees ook: 7 maniere hoe jy ’n beter vriendin kan wees
Liz glo aan die Boeddhistiese beginsel of fundamentele waarheid wat bloot lui: “Pyn bestaan.”
As ’n mens aanvaar dat pyn deel is van menswees, ook jou eie menswees, kan jy jou pyn begin aanvaar. Maar dit kan voel asof emosionele pyn jou gaan oorweldig, sou jy dit erken. Daarom breek Liz hierdie aanvaardingsproses af in stappe:
“Kom tot stilstand,” sê sy. Gee ’n naam aan jou gevoel: “ek het pyn” of “ek is diep hartseer” of “ek is bitterlik kwaad”.
Die tweede stap noem sy kalmering. Hou jou emosie vas asof dit ’n baba is, sonder om dit te veroordeel. “Dis in orde om só te voel.” Hou jouself vas soos wat jy ’n ongelukkige kind of ’n dierbare vriendin sou vashou.
Sommige mense voel dat hulle hul smart “verdien” – dis wanneer daar selfverwyt by is, of ’n diepe gevoel van minderwaardigheid. Selfs mense wat gewoonlik baie empatie met ander het, kan baie hard op hulself wees. “Ek was onnosel! Dis my eie skuld! Hierdie gehuilery moet nou end kry! Ruk jouself reg!”
Lees ook: Jy kan geluk skep
Dit kan help as jy dié deel van jou wat hartseer is, as ’n vriendin sien. Wat sy nodig het, is erkenning dat sy seergekry het en vertroosting, nie verwyte en skelwoorde nie.
“Moenie jou veroordeel as jy hierdie paaie (deur smart) bewandel nie. Behandel jou met eerbied en liefde, soos een wat deur ’n donker vallei gaan,” skryf Helen Jaeger in Paths through grief.
Derdens, sê Liz, moet jy diep kyk en probeer insig kry in jou gevoel. Waar kom dit vandaan? Wat is al die komponente daarvan? Wanneer het jy ook so gevoel?
Sy noem ’n verdere stap wat ’n mens in ag moet neem terwyl jy jou eie emosies erken, ten volle beleef en begryp of probeer begryp: rus. Dis algemeen bekend dat skok of smart ook ’n fisieke uitwerking op die liggaam het. Dis fisiek uitputtend en dit benadeel die immuunstelsel.
“Gee erkenning aan jou behoefte aan herstel, soos wanneer jy ná ’n ongeluk of ’n operasie ’n tyd van herstel nodig het. Somige mense wil by hul ma wees, of by ’n vertroude vriend. Ander wil alleen wees. Sommige mense slaap baie. Sommige mense het ’n terapeut nodig. Dink oor wat jy nodig het, en respekteer dit.”
Om te laat gaan is nie ’n taak wat jy begin, deurvoer en voltooi soos iets in jou dagboek se doenlysie nie. Dis ’n proses waardeur jy tientalle kere sal moet gaan, en sommige van die stappe selfs meer. Dit neem nie jou pyn weg nie. Maar dit kan jou help om te berus, om oomblikke en dan ure en dan rukke van aanvaarding te hê, om te laat gaan.
As ’n mens so oorweldig voel dat jy geen lig kan sien nie, as jy dae, weke aaneen voor die TV wil lê of jou met drank of dwelms wil bedwelm omdat jou pyn ondraaglik is, besef dan ten minste dat jy hulp nodig het, en vra daarvoor – ’n dokter, ’n predikant, ’n vriend. Dis onnodig om deur jou lyding vernietig te word.
Mountain Dreamer skryf só oor haar donkerste tye: “Wanneer alles waarop ons gereken het, weggeval het, is daar niks anders om te doen nie as om sonder hoop en geloof te wag. Hoe ons wag – of ons oop bly of toemaak – is die keuse wat ons moet maak, ’n keuse of ons gaan lewe of afwaarts na die dood spiraal. Om die lewe te kies, moet ons gewillig wees om te wag, oop vir die lewe en liefde, selfs wanneer oopmaak onmoontlik lyk en ons seker voel dat niemand en niks ons ooit weer sal vind nie.”
Sy voeg by: “Drie dinge in my lewe … onderskraag my: my gebruike van gebed en meditasie, my skryfwerk en die tyd wat ek in die natuur deurbring. Dit verryk my lewe in die tye wanneer ek hoop en geloof het en gee my ’n manier om die wag te verdra. Wat dit my gebruike maak, is dat ek dit gereeld doen, of ek lus het of nie.”
Ons kom met pyn en verlies die lewe binne, en met pyn en verlies sterf ons. Tussenin bestaan ons lewe uit verlies op verlies: van geborgenheid, van dit wat bekend was, van mense wat geliefd was.
Maar ons sien dit nie so nie. Ons dink bloot daaraan as lewe: nuwe dinge leer, nuwe plekke leer ken, nuwe vaardighede baasraak, wys word, ryper word. Die lewe staan nie stil nie, dit stroom altyd voort. Om te laat gaan, is eintlik om die lewe te omhels.
Lees ook: Familievervreemding: Wanneer vriende die nuwe familie word
Wanneer daar nie tyd is vir hartseer nie
Kom ’n minuut of wat in jou dag tot stilstand en haal vier keer bewustelik en diep asem. Dink oor wat jy doen: “Ek asem in en uit”. Doen dit wanneer jy by ’n rooi robot staan, of vir die ketel wag om te kook, of wanneer jy voel die hartseer oorweldig jou.
Onthou om soms na bome te kyk, na die lig, na kleur, na jou kind se glimlag.
Let soms op na jou eie liggaam en word bewus van jou lyf waar jy sit: voel jou ledemate, hoe jy in die stoel pas, en of daar spanning in jou rug en nek is wat jy kan laat gaan.
Lees ook: Leef stadiger, leef meer
Waardeer jou sintuie. Wees bewus van wat jy kan sien, hoor, ruik, voel en proe. Soek ’n klippie uit en hou hom in jou sak – voel hom met jou vingers.
Skep vir jou geleenthede om in die natuur te kom, of dit ’n wandeling in die veld of die park is, ’n bedding omspit of ’n malva in ’n pot plant.
Word selfs net stil en met dagbreek en luister na die voëls. Sulke onderbrekings is so eenvoudig dat ’n mens dit maklik kan afmaak as sommer niks, maar is helend omdat dit die saad van ’n ander bewussyn saai. Dis die wonder van ten volle teenwoordig wees, sê Liz Barrows.
Lees ook: 10 wenke teen stres wat werk
Natuurlike terapie
Baie soorte natuurlike terapie kan help as dit vir jou moeilik is om ou emosionele wonde te genees. Homeopatie, byvoorbeeld, werk volgens dr. Radmila Razlog, hoof van die Departement Homeopatie aan die Universiteit Johannesburg, nie net op ’n fisieke vlak nie, maar bring ook veranderinge op emosionele vlak teweeg.
Homeopate vind dat mense wat aan ou griewe of seerkry vashou, dikwels ook migraine kry, of ’n waterwanbalans in hul liggame het wat tot toestande soos hardlywigheid kan lei. Met of sonder die hoofpyne of waterwanbalans word die remedie Nat. Mur. daarvoor voorgeskryf. Mense wat sukkel om verlies of trauma te verwerk, nie kan slaap nie, baie depressief is en dikwels wil huil, kry dikwels ook keelseer of mangelontsteking en probleme met menstruasie of menopouse. Die remedie vir sommige of al dié klagtes is Ignatia. Vir tientalle emosionele toestande bestaan daar ’n remedie wat die pasiënt help om weer ewewig tussen die fisieke, emosionele en geestelike komponente te bring.
Ander komplementerende soorte terapie soos akupunktuur, asook die “sagte” terapieë soos refleksologie, aromaterapie of reiki help ook om ’n wanbalans in liggaam, hart en gees te herstel.
Lees ook: 5 maklike dinge wat jy kan doen om nou gelukkiger te wees
Leeslys
Ray Giunta: Grief Recovery Workbook: helping you weather the storms of death, divorce and overwhelming disappointment. Integrity Publishers, 2002.
Helen Jaeger: Paths through Grief. Lion Hudson, 2006.
Elisabeth Kübler-Ross & David Kessler: On Grief and Grieving: finding meaning through five stages of loss. Scribler Publishers, 2005.
Mareta Maartens, samesteller: Die Trauma-reeks. Lapa, 2004 tot 2005.
Oriah Mountain Dreamer: The Invitation. Harper SanFrancisco, 2006.
Judith Viorst: Necessary Losses: the loves, illusions, dependencies and impossible expectations that all of us have to give up in order to grow. Ballantine Books, 1998.
Lees ook: Is geluk geneties?