Hulle lýk dalk volwasse, maar hulle is nie. Al troon hulle kop en skouers bo jou uit en bewonder jy heimlik hul sin vir humor en intelligensie, is tieners steeds in’n vroeër lewensfase. En dis nie jý wat so sê nie: dis die wetenskaplikes. Die breinkenners, om presies te wees.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }“Dis ’n reuse-uitdaging om die ouer van ’n tiener te wees,” sê dr. Lorna Geer, voorligtingsielkundige van Centurion wat in hipnoterapie spesialiseer. “Vandag se tieners leef in ’n gans ander wêreld as dié waarin hul ouers grootgeword het, en die eise van die grootmenslewe het ook ingrypend verander. Dink maar net hoeveel makliker dit ’n paar dekades gelede was om werk te kry en jou eie potjie te krap. Ouers is besorg oor hul kinders se toekoms en wonder hoe hulle kan help.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
“Die belangrikste is dat ouers besef hoe nodig hul kinders hulle het. Al sou baie tieners dit nooit erken nie, het hulle ’n behoefte aan vastigheid en struktuur. Ouers kan dit verskaf, en ’n ruimte skep waarin tieners hul denke en sosiale vaardighede kan toets sonder dat hulle gevaar loop om verwerp te word.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Dis natuurlik nie maklik om ’n veilige hawe te wees vir spruite wat fisiek, sosiaal, emosioneel en kognitief in flux is nie! Dit help baie as ouers begryp wat in hul tiener se kop gebeur. As jy weet hoe die brein in die tienerjare ontwikkel, verstaan jy skielik die jongklomp se avontuurlus, “onverantwoordelike” optrede en obsessiewe fokus op hul vriendekring. Jy besef hulle is nie bloot moeilik nie, maar besig met ’n normale groeikurwe. Die lewe wil hulle op volwassenheid voorberei.”
Watter uitkoms begeer jy vir jou kind? Stem jy saam dat die vermoë om onafhanklik in ’n volwasse wêreld te kan funksioneer, allerbelangrik is?
“Kinders moet die ouerhuis verlaat en leer om op hul eie bene te staan en hul eie lewe te lei,” sê Lorna. “Maar as jy mooi daaroor dink, is daar min van ons wat ons gemaksone vrywillig sal verlaat. Afgesien van die voordele wat ons moet prysgee, is dit angswekkend om alles wat bekend is vir die onbekende te verruil. Dis een van die moeilikste stappe wat mense kan doen. Die fisieke breinontwikkeling wat ons by tieners waarneem, berei hulle wonderbaarlik op hierdie oorgang voor.
“Op ses jaar het die brein 90% van sy volle grootte bereik. Kenners het vroeër gereken dat die brein klaar ontwikkel is teen die tyd dat kinders hoërskool toe gaan. Sedertdien het ons geleer abstrakte denke skop eers op twaalf in en kinders begin dan eers byvoorbeeld die moontlike gevolge van hul optrede voorsien.
“Volgens die jongste navorsingsresultate duur breinontwikke-ling reg deur adolessensie en die proses is eers tussen 25 en 30 voltooi. ’n Tienerbrein is dus nie ’n volwasse brein met minder myle op nie – dis anders gerat, spesifiek om daardie skuif uit die huis aan te vuur.
“’n Opvallende kenmerk van adolessente is dat hul brein sensitiewer vir die neuro-oordragstof dopamien is. Dopamien help ons om beloning raak te sien en stappe te doen om die belo-ning te kry. Dié insig help ons om tieners se impulsiwiteit te verstaan. Volwassenes sou nog wou sê: ‘Ja, maar …’ maar adolessente sê sommer net ‘Ja!’ En daar gaan hulle. Voeg tieners se voorliefde vir iets nuuts daarby en daar het jy die impulsiwiteit wat die groep aanspoor om die grootmenswêreld met al sy uitdagings te betree.
“Ouers vra dikwels: ‘Hoekom lyk dit of my kind blind is vir die risiko’s wat hy loop?’ Die antwoord hou weer eens met breinontwikkeling verband. Fisieke ver-anderinge in die brein vind in ’n stadige golfbeweging van agter na voor plaas. Die gedeeltes aan die voorkant wat onder meer met impulsbeheer, komplekse denke en langtermynbeplanning te make het, ontwikkel heel laaste.
“Elke ouer weet hoe intens adolessente emosie kan ervaar. By tieners is dié dele van die brein wat met emosionele reaksies verband hou ten volle aktief – selfs meer as by volwassenes. Die gedeeltes wat impulsiewe reaksies beheer, is in die stadium nog op pad na rypwording. Ons kan sê die versneller werk seepglad terwyl die remme nog nie behoorlik funksioneer nie. Weer is dit nie net ’n nadeel nie: jongmense met die durf om ’n nuwe omgewing te verken, pas makliker aan.”
Tieners is meestal oorgehaal vir iets nuuts en gereed om los te breek. Op ’n manier eggo dit hul breinontwikkelingsfase. In adolessente breine is sekere dele nog nie met mekaar verbind nie – dit gebeur eers wanneer hulle volwasse is.
“Daarby het tienerbreine meer én sneller groeiende sinapse, die chemiese ‘bruggies’ waarlangs neurone vir mekaar boodskappe stuur om neuronetwerke te vorm. Elke voorval wat ons onthou, of elke nuwe ervaring help met die vorming van hierdie netwerke.
“Tienerbreine is nog soepel en vatbaar vir verandering. Enersyds verklaar dit waarom tieners inkonsekwent optree: jy weet nooit wanneer hulle dierbaar gaan wees en wanneer hulle jou iets gaan toesnou nie. Die feit dat hul brein a work in progress is, dra ook by tot hul frustrasie met hul omstandighede en met hulself.
“Aan die ander kant is hul onstabiele neurologiese stelsels ’n bonus, ’n goue tydperk vir leer – akademies én andersins. Tieners kan besonder vinnig leer en memoriseer. Verskillende dele van die brein het wel verskillende venster-periodes; vir taalsentrums is dit byvoorbeeld die eerste 13 jaar. Daarna is dit moeiliker om ’n tweede taal aan te leer.
“Baie mense dink jou leervermoë word op ’n jong ouderdom vasgelê, maar dis nie waar nie. Puberteit is die ideale tyd om op leer ‘verlief te raak’, mits die leerstyl en motivering die eienaar van ’n tienerbrein aanspreek!
“Leer het nie net te doen met die bou en versterking van neuronetwerke nie, maar ook met die wegsnoei van ou konneksies om vir nuwes plek te maak. Konneksies wat baie gebruik word, word versterk. Dié wat minder stimulasie kry, verdwyn. Dis letterlik ’n geval van ‘pasop waaraan jy dink’- dit het ’n uitwerking op die herstrukturering van jou brein!
“Die snoeiproses in die brein vind plaas wanneer ons slaap. Slaap is dus noodsaaklik vir leer en onthou. Ongelukkig kry die meeste tieners nie naastenby die aanbevole nege tot tien uur slaap per nag nie. Hulle is te besig, skermtyd vreet in hul slaaptyd in, en boonop wys navorsing dat hul slaapritme van dié van volwassenes verskil. Om een of ander rede is tieners gerat om drie tot vier uur later as grootmense op te staan en te gaan slaap. Opvoedingsinstellings neem dit nie in ag nie.
“Slaapdeprivasie bevorder buierigheid, benadeel die vermoë om besluite te neem, en rem die wegsnoei van sinapse. ’n Ander faktor wat leer bemoeilik, is tienerbreine se ontvanklikheid vir die toksiese uitwerking van alkohol en dwelms. Wanneer volwassenes alkohol gebruik, herstel hul breinselle sodra die alkohol gemetaboliseer word terwyl tieners se breinselwerking langer belemmer word. Die alkohol of marijuana wat ’n tiener in die naweek gebruik het, beïnvloed hom wanneer hy die daaropvolgende Woensdag vir ’n toets leer en sonder dat hy daarvan bewus is, probeer hy met ’n selfveroorsaakte leergeremdheid studeer.”
Emosioneel, sosiaal en kognitief neem tieners geweldige spronge in die rigting van onafhanklikheid, maar die proses verloop nooit glad nie. Hulle het ’n onderontwikkelde vermoë om te cope en stoei met nuutgevonde drange en dryfvere, seksuele bewustheid en oorweldigende gevoelens.
“Die hormone in ons vleis en melk lei daartoe dat puberteit voortdurend al hoe vroeër begin – meisies begin deesdae gemiddeld op tien jaar menstrueer. Afgesien van ingrypende liggaamsveranderinge en innerlike bewuswordings, word tieners met ’n oormaat inligting en keuses gebombardeer. Dis geen geheim dat pornografiese skakels tussen adolessente se selfone rondvlieg nie.
“Hul liggame mag dalk gereed wees maar emosioneel is hulle nog nie hierteen opgewasse nie. Tieners het die begeleiding van mense met ’n stabiele, volwasse brein nodig.
“Ouers wat kalm kan bly, waarlik luister en die lewe se uitdagings doeltreffend kan hanteer, kan baie doen om hul kinders minder kwetsbaar te maak. Dis verg vanselfsprekend ’n fyn balans om gesonde grense vir ’n kind se gedrag te stel sonder om sy waag-moed onnodig aan bande te lê.
“Baie ouers wroeg oor die invloed van vriende wie se breine ook in ’n proses van rypwording is, en daarom net so impulsief of ‘blind’ vir risiko’s as hul eie kinders is. Daar is wel goeie redes waarom tieners hul ouderdomsgenote se geselskap verkies.
“Eerstens lei tieners se voorkeur vir die ‘nuwe’ daartoe dat hul vriende in die stadium interessanter as gesinslede is – en boonop in ’n groter mate as in enige vroeër of latere lewensfase.
“Tweedens belê tieners onbewustelik in die toekoms namate hulle al hoe meer tyd saam met hul vriende deurbring. Wanneer hulle jonk is, funksioneer kinders in die wêreld wat hul ouers geskep het terwyl hulle die grootste deel van hul lewe gaan deurbring in ’n wêreld wat hulle en hul portuurgroep gaan beheer en herskep. Om hul ouderdomsgenote te leer ken en verhoudings met hulle te bou, is krities belangrik vir ’n suksesvolle bestaan.
“Hierdie verskynsel word bevestig deur die normale menslike reaksie op uitsluiting deur die groep. Sosiale verwerping sneller dieselfde breinreaksie as bedreiging van ons voedselvoorraad of fisieke gesondheid. Ons oorlewingsinstink is onlosmaaklik aan die groep verbind. Een komplikasie van die tienerjare is dat abstrakte denke tieners in staat stel om hulle voor te stel hoe ander hulle waarneem. Verbeeldingsvlugte oor moontlike verwerping deur die groep, of dit nou plaasvind of nie, kan baie angs veroorsaak.
“Tienertyd is nie maklik nie. Tieners is vir hulself én ander onvoorspelbaar of onverstaanbaar. Daar is weer eens ’n goeie rede daarvoor. Die feit dat alle dele van die brein nog nie met mekaar verbind is nie en dat die emosies die beheerstelsels vooruit is, maak van hierdie fase ’n hoogs funksionele aanpas-singstydperk – dit spoor kinders aan om die nes te verlaat en hul eie pad te vind. Totdat dit gebeur, moet ouers hulle maar daaraan troos dat tieners wel die een of ander tyd grootword!”
Dr. Lorna Geer: 012 667 2417 of lornageer.co.za
“Baie ouers voel hulle was in matriek meer gereed vir die volwasse wêreld as vandag se kinders. Hoewel verskeie faktore hiertoe bydra, is daar een wat uitstaan in die wiskunde- en wetenskap-mentorskapprogram waarby ek betrokke is,” sê dr. Lorna Geer.
“Die digitale omgewing beïnvloed die manier waarop kinders leer. Eerstens leer hulle met minder sintuiglike stimulasie, en tweedens kry hulle minder oefening om ooreenkomste en verskille in leerinhoude te identifiseer. As jy uit ’n handboek leer en jou notas met ’n pen neerskryf, word meer sintuie ingespan as wanneer jy van ’n tablet af leer. Jy voel die papier en onthou ’n onderstreepte frase omdat jy ’n beweging uitgevoer het. Jy onthou miskien ook waar inligting op ’n bladsy staan terwyl dit op talle tablette in ’n eenvormige stroom verskyn.
“Met ’n tablet kan jy nie maklik terugblaai om die bladsy voor jou met ’n vorige een te vergelyk, of ’n skets te raadpleeg nie. Kinders sukkel dus om dit wat hulle leer in hul eie geheelprentjie te integreer.
“Onderwysers kan hiermee help deur herhaling pret te maak. Hulle kan byvoorbeeld kinders verskillende aspekte of eienskappe met mekaar laat vergelyk, of tabelle laat optrek. Mind maps waarmee kinders hul eie ‘spinnekoppies’ van leerinhoud skep, help hulle om te verstaan waar wat inpas. Namate die leerproses vorder, haak hulle inligting aan die struktuur. Dit voorkom die dilemma van ’n juffrou wat ‘eksamenvrae opstel wat nie in die boek staan nie’, en die kinders se probleemoplossingsvaardighede kry sommer ook ’n hupstoot.
“Die beste is dat hierdie vermoë na die werklike lewe deurgetrek kan word. Wanneer kinders byvoorbeeld verskillende sienings kan vergelyk en hul eie geheelbeeld kan vorm, gaan hulle wyser met die lewe om.”
Meer inligting by basicsfirst.co.za
Lees ook: Wat om te doen as jou kind in ’n slegte verhouding is
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.