In die gang van jou besige lewe neem jy elke dag tientalle besluite. Jy bepaal wat jy gaan eet en aantrek, waarheen jy gaan en saam met wie, wat jy gaan uitrig en hoe jy dit gedoen gaan kry. Jy beweeg na willekeur tussen mense, plekke en take. Maar dis nie almal se werklikheid nie.
Lees ook oor mede-afhanklikheid. Vernietig jou liefde jou?
Daar is dié wat weens siekte, ouderdom of om ’n ander rede nie meer na hulself kan omsien nie. Hulle het versorging nodig, in sommige gevalle selfs net om uit ’n stoel op te staan of ’n slukkie water te drink.
As versorging op die een of ander manier in jou lewe figureer, weet jy waarskynlik watter delikate balanseertoertjie dit is. Die ideale uitkoms is dat die een wat versorg word, voldoende hulp kry maar ook so lank moontlik so onafhanklik moontlik funksioneer. Aan die ander kant moet die versorger ’n eie lewe hê waarop die versorgingsaktiwiteite nie inbreuk maak nie.
Neem jy in ag dat albei die betrokkenes hul voor- en afkeure, behoeftes, begeertes, persoonlike geskiedenis, emosionele wonde en ander geite na die verhouding bring – en dat derde partye baie keer ook ’n sê het – raak die situasie ingewikkeld. Dié artikel ondersoek aspekte van hierdie fyn spel.
’n Aansoekvorm … of nie
Versorgers se opleiding, werkomgewing en take verskil, sê Marna Labuschagne, kliniese sielkundige in private praktyk in Centurion. “Versorging kan tuis geskied, in ’n oord vir bejaardes, hospitaal, kliniek, rehabilitasiesentrum, hospies, plek van veiligheid – noem maar op. Gekwalifiseerde verpleegkundiges, leerling- en assistentverpleegkundiges, en versorgers of caregivers is almal by versorging betrokke. Een versorger kan na een of meer mense omsien, afhangende van die opset.
“Versorgers se take kan hulp met eet, bad, aantrek en beweging insluit; die gee van medikasie of ander basiese mediese sorg; die doen van huiswerk of aankope; om die versorgde rond te neem, of slegs geselskap te hou. Versorging lei dikwels tot ’n intieme nabyverhouding, veral oor ’n lang tydperk, en kan emosioneel en andersins ’n groot uitwerking op albei partye hê.
“In baie gevalle versorg iemand hul ouer, kind, lewensmaat of ander persoon sonder dat hulle om die ‘pos’ aansoek gedoen het, of ’n salaris ontvang. Hulle sien hulself nie in die rol van caregiver nie; dit is maar net een van hul verpligtinge. Dis allerbelangrik dat hulle hierdie rol herken en erken dat hulle as versorgers optree, want die uitdagings eie aan die situasie moet bewustelik benader en bestuur word ter wille van die gewer én ontvanger van hulp.
“’n Betaalde versorger se take en diensure is gewoonlik duidelik omlyn. Daar is afgebakende tye wanneer ’n plaasvervanger die verantwoordelikheid op hul skouers neem. ‘Informele’ caregiving lyk meestal anders. Wanneer ’n bejaarde pa byvoorbeeld by sy dogter se gesin inwoon, is sy heel moontlik elke dag vir sy versorging aanspreeklik. Dit kan so vervleg raak met haar bestaan dat sy (en ander) later nie meer tussen haar versorgingsaktiwiteite en haar normale lewe kan onderskei nie. Uitbranding is uiteraard ’n algemene probleem onder caregivers, of hulle nou ’n amptelike posisie beklee of nie.”
“Uitbranding is uiteraard ’n algemene probleem onder caregivers, of hulle nou ’n amptelike posisie beklee of nie”
Marna lys waarskuwingstekens waarop versorgers bedag moet wees omdat dit op uitbranding kan dui:
• Lusteloosheid, ’n gebrek aan belangstelling in dinge wat jou voorheen geïnteresseer het, depressie.
• Isolasie, omdat daar nie meer tyd is vir jou eie sosiale aktiwiteite nie.
• Oormatige angstigheid.
• Skuldgevoelens, selfverwyt en kommer of jou pogings goed genoeg is.
• Irritasie, frustrasie, humeurigheid of woede.
• Wrokkigheid omdat die situasie soveel van jou vra.
• ’n Onvermoë om die eise van versorging saam met jou gesin, werk, finansies en ander logistieke uitdagings te hanteer.
• Jy versorg jouself nie meer soos vroeër nie.
• Eet- of slaapstoornisse.
• Selfmedikasie met alkohol, pille en meer.
• Fisieke simptome soos hoofpyne, spysverteringsprobleme, of beserings veroorsaak deur die hantering van ’n verswakte persoon.
“’n Familie-opset kan talle komplikasies tot gevolg hê. Versorgers deel soms hul frustrasies met ander familielede, wat nie besef hulle moet psigiese steun verskaf nie en bloot saam ‘kla’. Dan lê die antwoord in ’n onafhanklike, objektiewe buitestander, soos ’n sielkundige wat versorgers kan help om ontstellende emosies te verwerk, hulself te handhaaf waar nodig, en praktiese oplossings te bedink.
“Versorgers deel soms hul frustrasies met ander familielede, wat nie besef hulle moet psigiese steun verskaf nie en bloot saam ‘kla’”
“Dit gebeur ook dat familielede die een kritiseer wat die caregiving verskaf. Die beste stuurlui staan mos aan wal! Wanneer die versorger verdedigend begin optree, kan die aanleer van goeie kommunikasievaardighede, soos die vermoë om tussen kritiek en advies te onderskei en dit reg te hanteer, ’n positiewe uitwerking hê.
“Betrokkenheid by besluite rakende die versorgde kan moeilik wees. Dink maar aan besluite oor take wat die persoon nie meer behoort te doen nie, soos motor bestuur; of drastiese veranderings, soos die verskuiwing na ’n versorgingsentrum en of masjiene wat die persoon aan die lewe hou, afgeskakel moet word.
“Betaalde sowel as informele versorgers is dikwels te skaam om te erken dat hulle nie die mas opkom nie – jy is mos veronderstel om te cope. Boonop verwag hulle baie keer te veel van hulself, veral as hulle grootgemaak is om selfless te wees. Hulle stel onbereikbare standaarde en as hulle nie kan aanhou gee en gee nie, voel hulle hulle skiet tekort.
“Daar kan ook ’n gevoel van innerlike verskeurdheid wees. Hulle wil help, maar hulle wil ook nie omdat dit soveel van hulle verg. ’n Diep band met die versorgde kan tot angs, magteloosheid, skuldgevoelens of selfverwyt lei, veral wanneer die versorgde agteruit gaan of sterf.”
Van die wal in die sloot
Nie net die gewer van versorging nie maar ook die ontvanger kan aan die kortste ent trek. “Dis belangrik dat versorgdes steeds dié take verrig waartoe hulle in staat is: stap pleks van om in ’n rolstoel gestoot te word, toilet toe gaan pleks van ’n bedpan te gebruik, of op hul eie eet al mors hulle. Dit neem waarskynlik langer en verg meer moeite van die versorger, maar dis in die versorgde se belang. Oorhulpvaardigheid, selfs met goeie bedoelings, kan ’n versorgde se herstelproses kortwiek, of hom gouer laat verswak.
“Dis belangrik dat versorgdes steeds dié take verrig waartoe hulle in staat is”
“Sommige versorgdes verkies natuurlik minder verantwoordelikheid. ’n Op en wakker versorger sal dit raaksien en die versorgde aanmoedig om optimaal te funksioneer.
“Daar is ongelukkig ook gevalle waar versorgers in ’n kommerwekkende mate ontoepaslik optree, soms reg onder ’n toesighouer se neus. Die caregiver neem eenvoudig beheer van elke situasie sonder om aan die versorgde se wense aandag te gee. Dis wanneer caregiving – ’n geskenk wat aan die versorgde gegee word – ontaard in caretaking, wat mag oor die versorgde wil verkry.
“’n Ware caregiver is liefdevol, rustig, oop vir advies, volg die protokol, en respekteer persoonlike grense. Wanneer die versorgde ’n probleem het, luister hy of sy empaties, vra hoe die versorgde die situasie wil hanteer en verskaf dan die nodige steun.
“’n Caretaker is gejaagd, gefrustreerd en dwing sy of haar wil aan die versorgde op. So iemand hou nie daarvan dat mense van buite ‘inmeng’ of navraag doen nie, en neem alle besluite op hul eie. Daar is dikwels ’n onderliggende onsekerheid en gebrek aan eiewaarde. Om in beheer te wees laat die persoon belangrik voel en voed sy of haar eiewaarde, maar dit kan verlammend op die versorgde inwerk.
“Hierdie probleem kan ondervang word deur goeie kommunikasie met die versorgde waar die versorger nie by is nie. Vra vrae soos: Hoe gaan dit régtig met jou? Hoe ervaar jy die versorger? Voel jy jy word sterker of swakker? Word jy toegelaat om te doen wat jy wil of kan doen? Wat sou jy graag wou hê moet verander?”
Die keuse van ’n versorger
Met die aanstel van ’n versorger, nes in die geval van ander aanstellings, is die nagaan van kwalifikasies, die opvolg van verwysings en ’n onderhoud noodsaaklik. “Die uiteindelike keuse is wel subjektief, maar die regte vrae kan lig op die saak werp. Vra hoekom die aansoeker versorging as ’n beroep kies. Indien die antwoord is ‘omdat ek graag ’n verskil wil maak,’ vra wat sy of hy al gedoen het om ’n verskil te maak.
“Indien die antwoord is dat caregiving hul roeping en passie is, vra: Wat wys dat dit jou roeping en passie is? As jy wil vasstel of die aansoeker hul eie inisiatief kan gebruik, vra: Vertel hoe jy jou moeilikste situasie hanteer het. Vra uit oor hul benaderingswyse tot jy kan agterkom of hulle ’n gesonde mate van frustrasietoleransie het en uit die vuis kan dink.
“Wees bedag daarop of die persoon vriendelik is en luistervaardighede het. Is daar genoeg lewenslus? Voel jy geduld aan? Sal die persoon supervisie of advies aanvaar? Stel vas of hulle stokperdjies, buitebelangstellings en goeie, stabiele verhoudings het, sowel as die nodige mediese kennis.
“Wees bedag daarop of die persoon vriendelik is en luistervaardighede het”
“Om ’n versorger deur ’n bemiddelingsinstansie aan te stel het verskeie voordele. Die instansie behartig die keuringsproses en sorg dat die persoon behoorlik opgelei is. Indien die versorgde klagtes het, kan jy die saak met die instansie opneem, of vra dat ’n plaasvervanger gestuur word.”
Wat ma’s betref, sê Marna hoewel vroue natuurlike versorgers is, bly die langtermynversorging van ’n kind ’n groot uitdaging – veral as die supermasindroom kop uitsteek.
“Wanneer ’n ma glo sy moet oral kan keer en raakvat, deur byvoorbeeld elke oomblik by haar kind se hospitaalbed deur te bring, flikker waarskuwingsligte. Die vrees om as onbevoeg beskou te word, miskien deur haar skoonfamilie, kan die dryfveer wees. Baie keer voel sy die pa kan nie dié rol vervul nie ‘omdat ’n kind sy ma nodig het’.
“Jy kan nie gee as jy leeggetap is nie. Slaap wanneer die kind slaap. Laat die huiswerk maar ’n bietjie glip. Vra hulp – daar móét iemand wees wat jou kan aflos.
“As jy prikkelbaar en ongeduldig raak, nalatig optree deur byvoorbeeld te vergeet om medikasie te gee, of voel dat jy beheer verloor, het jy rus nodig. Ook wanneer jou kind klouerig raak en regresseer deur soos ’n jonger kind op te tree. Luister na jou man of ander nabymense se siening van die situasie, en glo die dokters wanneer hulle sê dit gaan beter met jou kind.”
Versorg ander ‘siek’
“Münchhausen-sindroom by proxy” (MSBP) is ’n geestesstoornis wat voorkom wanneer ’n versorger iemand in sy sorg siek maak of beseer, of voorgee dat die versorgde siek is. Die versorger kan ’n ma, verpleegkundige of ander rolspeler wees en die versorgde ’n kind, bejaarde of gestremde. Omdat die slagoffers kwetsbaar is, geld MSBP as ’n vorm van mishandeling.
Die versorger met MSBP kan leuens vertel rakende die versorgde se simptome, die verkeerde medikasie gee, met toetsresultate peuter sodat die versorgde siek voorkom, of die versorgde fisiek skaad om simptome daar te stel. Dié optrede is (meestal onbewustelik) gemik op die verkryging van aandag, simpatie, of praktiese hulp van mediese personeel en die gemeenskap. Mense met MSBP kan lyk of hulle hul volkome aan die versorgde toewy, en sien hul eie gedrag nie as skadelik nie.
“Die toestand het met ’n gebrek aan persoonlike mag te doen,” sê Marna. ”Dis ’n oorlewingstrategie wat spruit uit ’n swak selfbeeld, ’n onvermoë om stres of angs te hanteer, en ’n drang om te beheer en te domineer.
“Mediese personeel ruik lont wanneer ’n kind nie by behandeling baat vind nie, simptome slegs voorkom as die ma in die omtrek is, die ma toetsresultate nie wil aanvaar nie, of bly is wanneer die kind sieker word – ook wanneer ’n ander kind in die gesin onverklaarbaar siek word of selfs sterf.
“Ek het met ’n slagoffer van MSBP te make gehad wat op 12-jarige ouderdom nog nooit skool toe was nie. Sy ma is van dokter na dokter en ’n spesialis wat agterdogtig geraak het, het die rekords nagegaan en ingegryp. MSBP word moeilik genees.”
Marna Labuschagne, 082 747 3632