Volgens Robert Lustig se boek Fat Chance: Beating the Odds against Sugar, Processed Food, Obesity and Disease is ons glo aan suiker verslaaf; suiker is net so verslawend soos kokaïen; dit is net so moeilik om daarvan gespeen te raak as van harde dwelms. Boonop is dit ’n slu verslawing. Al probeer jy hoe hard om van jou verslawing af weg te kom kan jy nie, want sowat 80% van die kossoorte op ons rakke bevat ’n goeie skeut suiker – glo ingesit deur die magtige voedselvervaardigers wat jou verslaaf wil hou sodat jy hul kos sal bly koop. En regerings wêreldwyd doen niks daaraan nie, want suiker is goedkoop kos vir die massas.
Selfs die farmaseutiese bedryf se kop is in dié mus, want hulle gooi suiker in veral kindermedisyne om kinders van jongs af aan die hoek te kry. Dis ’n sameswering so boos soos kan kom, glo die suikerteenstanders. Maar is dit waar? Kan ons aan suiker verslaaf raak? Ons het ’n paar kenners gaan vra. Dalk skuil daar iets anders in as wat jou instink jou wil laat glo.
Die teorie daaroor
Die teorie is gegrond daarop dat suiker, net soos ander dwelms, dopamienvlakke in jou brein opjaag, en van daar af die hele verslawingsmeganisme sneller. Heelwat navorsing word tans daaroor gedoen. Van die opspraakwekkendste is dié van die Fransman, dr. Serge Ahmed, waar rotte kon kies tussen óf water met kokaïen, óf met suiker, óf met sakkarien.
Van die interessante waarnemings was dat:
• rotte elf dae neem om aan kokaïen verslaaf te raak, teenoor sewe dae vir sakkarien en drie dae vir suiker
• rotte wat reeds aan kokaïen verslaaf was dit opgee en suiker en sakkarien bo kokaïen verkies
• rotte nie weens honger en dors suikerwater kies nie maar net vir die suikerbeloning daarin en
• hoe soeter die water hoe groter die verslawing. Die rotte het inderdaad aan supersoet water verslaaf geraak, nie aan gewone soet water nie.
Lees ook: 7 maniere om jou hoë bloeddruk te verlaag
Het jy geweet?
– Indië het teen 800 v.C. suikerkristalle uit suikerriet gekristalliseer en dit ‘khanda’ genoem, die oorsprong van ‘candy.’
– Tot die 1700’s het Westerlinge nie suiker geken nie. Heuning was al beskikbare en baie skaars soetigheid.
Vier tekens van verslawing
Prof. Benton: “Ons sê iemand is verslaaf as ons die volgende vier waarnemings maak:
• die middel werk in op jou brein se beloningsentrum (dit laat jou dopamienvlak die hoogte inskiet)
• jou liggaam het geleidelik al meer nodig om dieselfde graad van plesier daaruit te put
• as jy nie jou dwelm kry nie, het jy intense onttrekkingsimptome
• as jy die kans kry om daarvan te gebruik sal jy jou vergryp as jy kan.
Geen ondersoeke in mense bevestig dat suiker hierdie tipiese kenmerke van verslawing meebring nie.”
Hoe voel jy as jy suiker uitsny?
• As jy besluit om nie meer sjokolade te eet of gaskoeldrank te drink nie en jy kry kort-kort lus daarvoor, is jy desperaat lus asof jy onttrekking ervaar?
• As jy besluit om sjokolade/koeldrank te laat vaar en iemand bied jou ’n appel of ’n sjokolade aan, is die appel vir jou net so aantreklik en lekker soos die sjokolade en kies jy die appel?
• As jy jou wel ’n sjokolade/koeldrank ná drie weke daarsonder kry, is jy tevrede met ’n blokkie/slukkie, want jou brein is doodtevrede met ’n ligte dopamienprikkel. Of vergryp jy jou en verslind alles?
• As jy dink oor hoe jy sjokolade/koeldrank gebruik, het jy geleidelik al meer gebruik, of eet/drink jy steeds net een keer per week sjokolade, of drink koeldrank.
Lees ook: Oefen lekker en voel goed hierdie winter!
Sielkundiges praat oor suikerverslawing
Sielkundiges soos Ronél Kemp, dr. Annelie van Breda en dr. Colinda Linda sê hulle werk al jare lank met mense met ’n abnormale verhouding met suiker en/of stysel. “My suikerverslaafde pasiënte se verslawing lyk nét soos alkoholiste se alkoholverslawing,” sê Ronél. “Ek weet dat ons nie die fisiologie daaragter kan verklaar nie, maar ek kan vertel wat my pasiënte ervaar … en dit is dieselfde tipiese kenmerke van verslawing:
• Suiker gee hulle ’n intense gevoel van plesier, vanweë die nou bevestigde uitwerking daarvan op dopamienvlakke. Ek sien byvoorbeeld iemand met diabetes. Hy is besig om sy sig en been te verloor maar hy is so verslaaf aan die opkikkering van suiker dat hy dit nie kan laat vaar nie, al sién hy dit is besig om hom sy lewe te kos.
• Hulle wil al meer gebruik. As jy drie lepels suiker in jou koffie gebruik, skuif jy maklik op na vier of vyf, en van ’n koekie af en toe na soetgoed elke dag tot uitermatige gebruik soos om te gaan slaap met ’n bottel Coke omdat jy deur die nag “dors” is.
• Ek sien onttrekking, en my pasiënte wat hul suiker sny, ervaar intense cravings. Hulle roof en steel nie om hul smagting te bevredig nie – daarvoor is suiker en soetgoed te maklik en goedkoop beskikbaar. Die smagting verdwyn ná sowat drie weke – weer net soos met ander dwelmafhanklikes wat staak. Daar is ook reeds bewys dat die medikasie wat vir alkoholiste aangebied word om hulle te help met onttrekking dieselfde simptome by suikerverslaafdes aanbring.
• En binge eating is baie bekend onder suikerverslaafdes. Hulle verloor alle beheer en vergryp hulle. “Suikerverslawing het niks met honger of dors te doen nie. Mense sal ongemaklik vol voel en steeds na suiker bly smag. Ek sien mense wat genoeg kos het maar nie suiker kan laat staan nie, al besef en beleef hulle dat dit hul lyf laat pyn. Net soos by alkoholiste en rokers is net ’n klein bietjie genoeg om algehele misbruik van vooraf te sneller. Hier kry ek suikerverslaafdes baie jammer, want suiker is so subtiel óral.
’n Alkoholis se dwelm kom in ’n maklik waarneembare bottel, met net ’n paar uitsonderings soos in sekere medisyne. ’n Suikerverslaafde is heeltemal blootgestel omdat hy móét eet en byna alle gekoopte kos bevat suiker. Nog ’n algemene waarneming is dat dié wat suiker staak en dan weer gebruik, baie duidelik die uitwerking van suiker op hul liggame voel.
Dit is asof hulle akuut bewus is van hoe ’n groot skop hulle uit suiker kry. En daarna is hulle intens bewus van die nadelige newe-effekte, soos moegheid, hoofpyn en seer gewrigte. Ná ’n blootstelling hervat die hele verslawing en smag hulle van voor af na suiker, net soos ’n alkoholis na wyn ná net een slukkie. Jy hoor dieselfde by mense wat die laekool-hidraatdieet volg. Ek moet hier bysê dat almal wat suiker gebruik nié daaraan verslaaf raak nie. Net soos met ander dwelms. Die meeste van ons drink wyn, maar net ’n paar van ons raak verslaaf.”
Lees ook: Wat jy van bokwiet moet weet, en hoekom jy dit nou moet eet